Helderberg-natuurreservaat gesluit toe brand weer opvlam

Helderberg-natuurreservaat (Foto: Friends of Helderberg Nature Reserve/Facebook)

ʼn Brand wat Woensdag laatmiddag in die omgewing van die Lourensford-wynlandgoed in Somerset-Wes ontstaan het, het weer opgevlam en woed nou in die Helderberg-natuurreservaat.

Die brand het in die verouderde denneplantasie op Lourensford ontstaan waar die gemengde plantegroei, buitengewone hoë temperature en droë weer vermoedelik die brand tot gevolg gehad het.

Jermaine Carelse, woordvoerder van die brand-en-reddingsdienste in Kaapstad, het bevestig dat die brand weer opgevlam het en ook in die rigting van Erinvale beweeg. Hy maan inwoners in Hillcrestweg en die omliggende dele om hul geute na te gaan en dit nat te spuit indien hulle nie droë blare kan verwyder nie. “Indien gloeiende kole op dié droë blare beland, kan dit verdere brande laat ontstaan.”

Hy maan inwoners ook om nie “brand-toeriste” te wees nie en eerder weg te bly van die gebied rondom die natuurreservaat sodat die nooddienste en brandweer hul werk kan doen.

Die bestuur van die Helderberg-natuurreservaat het intussen Saterdag die besluit geneem om eerder die natuurreservaat te sluit. “Die publiek word versoek om weg te bly van die reservaat en om nie paaie te versper om na die brand te probeer kyk nie. Dit veroorsaak ʼn groot ontwrigting vir brandweerwaens.”

Die bestuur van die reservaat sê dit is ook baie gevaarlik om hommeltuie oor die beskermde dele te laat vlieg – veral in die omgewing van die brande. “Dit is onwettig en uiters gevaarlik.”

Working on Fire sê lugdienste is versoek om bystand te lewer, maar weens winderige toestande kan hulle nie Saterdagoggend ontplooi word nie. “Die vlieëniers monitor die situasie en sal so vinnig as moontlik hul take hervat.”

Maroela Media het vroeër berig twee brandbestryders van Kaapstad-munisipaliteit het Woensdagaand beserings opgedoen terwyl hulle die brand op die Lourensford-wynlandgoed bestry en ’n watertenker by ’n wal afgerol het. Albei brandbestryders is ná die voorval hospitaal toe geneem, maar is intussen weer ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.