‘Hernieude drankverbod sal drankbedryf vernietig’ – Basa

(Argieffoto: pixabay)

Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het Sondagaand gesê hy gaan ʼn dringende aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) indien om inligting en bewyse te bekom waarop die nasionale koronavirusbevelsraad (NCCC) sy besluit om die aangepaste vlak 4 van inperking en só ook die alkoholverbod te verleng, gegrond het.

Pres. Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangekondig dat die verkoop van drank met die verlenging van die vlak 4-afsonderingsregulasies steeds verbied word om die druk op die land se gesondheidstelsel te verlig.

Die huidige drankverbod geld al sedert 28 Junie.

Basa het in ʼn verklaring gesê dié verbod hou vernietigende gevolge vir die alkoholbedryf en diegene daarby betrokke in.

“Met die verlenging van die alkoholverbod kan sowat 4 600 werkers hul werke verloor, minstens 400 000 gesinne se lewensbestaan word bedreig en R5,1 miljoen aan aksyns en belasting kan verlore gaan,” sê Basa in ʼn verklaring.

Volgens Basa het hy in talle gesprekke met die regering al by verskeie geleenthede inligting oor die verband tussen alkohol en verhoogde hospitaalopnames aangevra, maar nooit ontvang nie.

“Ons het dus besluit om ons Paia-aansoek in te dien om die rede vir die verlenging van die huidige verbod te probeer verstaan.”

Basa sê in sy gesprekke met die regering word erken dat groot byeenkomste, die versuim om maskers te dra en sosiale afstand te handhaaf die groot sondaars vir die styging in infeksies is.

Basa sê dit is kommerwekkend dat die media gister (Sondag) berig het dat die kabinet twee weke gelede besluit het dat die huidige aangepaste vlak 4-inperking 21 dae lank sou geld en daarna hersien sou word.

“As dit die geval is, bevraagteken Basa ook die nut van sy gesprekke verlede week met die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensiestruktuur (Natjoints) oor die huidige afsonderingsregulasies. As Natjoints reeds geweet het dat die alkoholverbod verleng sou word, is dié gesprekke te kwade trou gevoer en moet ernstige vrae gevra word oor Basa se verbintenis met dié struktuur vir die toekoms.”

Die bierbedryf, tesame met die groter alkoholsektor, het ’n aantal voorstelle aan Natjoints gedoen, waaronder om gelisensieerde ondernemings toe te laat om alkohol te verkoop vir verbruik weg van die perseel onder die aangepaste vlak 4-regulasies.

“Dit sal hierdie ondernemings in staat stel om inkomste te verdien, te verhoed dat burgers alkohol van die onwettige mark koop en sorg dat burgers alkohol tuis sal verbruik.”

Basa sê hy neem ook kennis van Ramaphosa se aankondiging oor die finansiering van Covid-19-Ters wat uitgebrei sal word na bedrywe wat deur die aangepaste vlak 4 van inperking geraak word. Die organisasie sê nog geen onderneming binne die alkoholbedryf het enige finansiële hulp sedert die oorspronklike vlak 5 van inperking in Maart verlede jaar ontvang nie.

Deel van: SA-nuus

Koronanuusbrief

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Teken in op die nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

39 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Jou lede moet net die inperkings ignoreer. Almal anders doen

Johan

Ek het min simpatiek met julle, hoekom is julle nie n jaar terug al hof toe nie…dit is al hoe die diktatorskap luister. Het julle nie by die tabak geleer nie. Mens kan nie met hul praat of hul vertrou nie en as jy wil onderhandel moet jy maar bietjie geld gee êrens of vat hul hof toe en maak seker jy veg dit tot op die laaste….besef julle is in n derde wêreld.

annie

Net die wettige bedryf sal vernietig word. Sal graag die drankkabinette van die generaals op die bevelsraad wil bekyk… ook hul medisyne-kassies… en hul kluise.

melaney

Hier kom beslis groot moeilikheid. Meer werkloosheid, meer opstande, ens. Ons land brand.

Deon

Op die oomblik is daar geen vooruitsig wanneer ons weer “normaal” gaan wees nie…. Dus hierdie regulasies wat so dan en wan aangepas word maak dit baie moeilik om n toekoms voorspelling te maak van waarheen hierdie bedrywe wat so oop en dan weer toe is, op pad is… Ek dink die regering moet ernstig begin aandag gee aan hierdie bedrywe wat so doodgaan met die Covid virus. Dit is nie net die dranksmous wat geraak word nie… Daar is n hele string(waarde ketting) wat hierdeur benadeel word, soos reeds genoem. Is daar nie ook organisasies wat hierdie “casualties of… Lees meer »