‘Heroorweeg minimumloon’ – arbeidskenner

Prof Mthunzi Perry-Mason Mdwaba, voorsitter van Productivity SA sê minimumloon is ʼn groot remskoen vir werkskepping in Suid-Afrika. (Foto: Du Preez de Villiers)

Vir ʼn ekonomie om te gedy moet daar baie meer omsigtig met die minimumloon omgegaan word en daar sal ernstig iets aan streng arbeidswette gedoen moet word.

Dít is die mening van prof. Mthunzi Perry-Mason Mdwaba, voorsitter van Productivity SA, wat ʼn gasspreker tydens Agri SA se onlangse jaarkongres in Kempton Park was.

Mdwaba het al as die visevoorsitter van die internasionale arbeidsorganisasie gedien en was ook die eerste persoon uit Afrika wat as die adjunkpresident van die internasionale organisasie van werkgewers aangestel is.

“Ons moet baie versigtig wees om die woord bestaansloon aan ʼn minimumloon te koppel, want om met ʼn gepaste bestaansloon vorendag te kom, hang van baie dinge af, soos die land se lewenstandaard, beskikbare hulpbronne en die grootte van die ekonomie.

“Die minimumloon in Colombia, die Kongo en Guatemala kan onmoontlik dieselfde wees, want daar is baie eiesoortige faktore in elke omgewing wat dit beïnvloed. Dit is ʼn baie relatiewe konsep.”

Mdwaba sê vakbonde is oorwegend kommunisties en hou daarvan om minimumlone aan bestaanslone te koppel en hulle sal jou maklik as arrogant, rassisties of chauvinisties uitkryt as jy dit bevraagteken.

Hy sê egter dat eienaars van ondernemings nie deur hierdie etikette geïntimideer moet word nie.

“Die werklikheid is dat die onus op ongeskoolde arbeid rus om vaardighede te ontwikkel. Ongelukkig kan boere dit nie doen nie, want hul loonrekening is reeds hemelshoog en dit is dus moeilik om opleiding te doen. Die regering sal baie meer buigsaam in dié verband moet wees.

“Daar is baie ideologiese probleme in hierdie land. Ons land word deur kommuniste en vakbonde in die drieparty-alliansie bestuur wat op die minimumloon volgens wetgewing staatmaak. Ons sit met ʼn regering wat nie eens weet wat hy nié weet nie,” sê Mdwaba.

“Hulle is meer gefokus daarop om hul lede se voordele te beskerm as om werk te skep.”

Hy sê daar is baie mense in landbou, nie soseer omdat hulle in dié beroep wil wees nie, maar omdat dit ʼn maklike beroep is om op terug te val as dinge nie uitwerk nie. “Ek vind egter ook deesdae dat as ek met die jeug praat, is hulle opgewonde oor landbou en beskou dit as byderwets – en jongmense wil byderwets wees.

“So die vraag is, hoe skep ons byderwetsheid in landbou om voedselsekerheid te verseker, hoe bou ons die ondernemings en hoe groei ons sonder om ʼn herrie op te skop?

“As ons vorentoe wil beweeg, kan ons nie meer net van arbeid praat nie, maar ons moet dit saam met die woord indiensneming gebruik. Arbeid moet indiensneming help, nie andersom nie.

“Die woord arbeid fokus op inspeksies en beleid en om werkgewers te straf as hulle dit oortree. Die woord indiensneming beteken dat mense moet werk en werk geskep moet word. As jy net fokus op bemagtiging, inspeksies en straf, gaan jy nie werk skep en die ekonomie laat groei en die land laat funksioneer nie.”

Volgens ʼn studie deur die Instituut van bestuursontwikkeling in Switserland lê Suid-Afrika tans 61ste uit 64 lande as dit by mededingendheid kom. Twaalf jaar gelede was Suid-Afrika 44ste.

“Ons ervaar ʼn onrusbarende vlak van entrepreneur-erosie in Suid-Afrika. Ons het die hoogste aantal wegspringondernemings, maar ook die hoogste mislukkingskoers, want ons het nie die soort omgewing wat werkers voldoende bemagtig nie.

“Nuutskeppings en tegnologie van elders af neem 36 tot 40 maande voor dit in Suid-Afrika bekendgestel word en ons produkte vat vir ewig om in ander lande bekendgestel te word,” sê hy.

Hy sê Suid-Afrikaners kan slegs werk skep, ʼn beter werk hê, ʼn hoër inkomste verdien, ʼn beter werksomgewing ervaar en ʼn betekenisvolle speler in die wêreld word as die land sy produktiwiteit verhoog.

Waar Productivity SA betrokke is, poog hy om beleid te verander deur die woord produktiwiteit in beleidsdokumente vas te lê, “om mense se koppe te swaai, want dit maak ons mededingend”.

“Dit loop hand aan hand met samewerking, want dit is iets waarna mense eintlik graag streef, veral as dit by voedselsekerheid kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

elenor ·

Hoe? Die regering maak dit dan moeilik vir die ondernemings om volhoubaar te wees met al die onnodige voorskrifte.

Nico ·

Elenor, ek stem saam met jou, die lewens kostes styg almal kry swaar wit, bruin en swart mense sukke om kop bo water te hou.

Pietertjie ·

Pleks dat die spul meer produktief raak, sodat minimum lone onnodig word. Die lui spul probeer agter wetgewing wegkruip.

Cassie Carstens ·

So ‘n mond moet konfyt kry. Gee die man ‘n Bells vir sy korrekte insig in sake en sy puik verduidekliking van wat werklik aan die gang is in die land.

domheks ·

Prof Mthunzi Perry-Mason Mdwaba, Vertel dit ASSEBLIEF direk aan CR en mini-ster van Arbeid! Want hulle leef in ‘n droom wereld! Hulle leef weelderig op belasting geld en het nie ‘n benul wat in die land aangaan nie

Daizee ·

Én daar is ons toe ook bevoorreg om die Dept. van Aarbeid te onthaal 2 weke terug!
Wat ‘n sirkus!, die personeel word oor en oor gevra of hulle tevrede is en wat se klagtes het hulle?!
Ons regering kelder énige kanse vir werkskepping in die privaatsektor deur hulle drakoniese arbeidswette!
Ons as Werkgewer sit nou net op naalde en spelde dat hulle óns kom besoek vir ónse klagtes!!!!

Anonymouse ·

As jy enige iemand die huidige minimum loon, of minder, betaal, dan moet jy die werk jouself doen. Dit is uitbuiting wat party mense in hierdie land betaal word.

Willem ·

As daar n minimum loon is sal ek wil weet of daar n maksimum loon ook is. Dis gemors, hoekom op dees aarde sal enige iemand homself verder bemoeie om te studeer as jy weet jy kry n minimum loon ongeag jou werks ervaring en jou insette by die werk. Sit terug relax en geniet jou minimum loon, dis wat die kaders wil hoor. Hou die massas dom en die anc bly aan bewind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.