Herstelwerk aan parlement gaan (eindelik) begin

(Argieffoto: Stad Kaapstad)

Meer as ʼn jaar ná die verwoestende brand by die parlement in Kaapstad gaan daar nou uiteindelik met herstelwerk begin word – met die parlement wat sê die projek sal binne twee jaar afgehandel word.

“Ons is vol vertroue dat hierdie mylpaal die eerste stap is om die noodsaaklike dienste in ʼn meer bevorderlike en reagerende omgewing te verander wat ook aandag sal gee aan die broodnodige opgradering van veiligheidsinfrastruktuur en veiligheid,” sê Xolile George, parlementêre sekretaris.

Die brand het op 2 Januarie verlede jaar uitgebreek en drie dae lank gewoed. Die gebou wat die Nasionale Vergadering huisves is verwoes, asook verskeie vergadersale, komiteevertrekke en byna 500 kantore.

Die parlement sal nou in samewerking met die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika (DBSA) se infrastruktuurleweringsafdeling en rolspelers soos die departement van openbare werke en infrastruktuur en die tesourie die herstelwerk aanpak.

“Die DBSA is die geskikste instelling hiervoor gegewe sy kundigheid en ervaring in die lewering van infrastruktuurbestuursdienste, wat insluit ontwerp, bouwerk, opknapping en algehele fasiliteitbestuur aan verskeie ander staatsinstellings,” sê George.

Die nasionale tesourie het verlede jaar al R2 miljard vir die projek bewillig en R118 miljoen vir onvoorsiene of onvermydelike uitgawes.

“Suid-Afrikaners het ʼn gevestigde belang in die restourasieprojek en dit is belangrik dat dit behoorlik bestuur word om die gevare wat verband hou met projekte van dié aard en omvang te beperk. Daar moet ook in ag geneem word dat dit die eerste keer is dat die parlement ʼn projek van dié grootte onderneem,” sê George.

Ingevolge die vennootskap met die DBSA sal daar nou begin word met onder meer die herbou van die afgebrande parlementêre geboue, die Ou Vergadersaal-gebou en die Nasionale Vergadering-gebou.

Die puin wat ná die brand agtergebly het, sal ook verwyder word sodat behoorlike assesserings gedoen kan word. Sodra die rommel verwyder en alle bates gemerk en beveilig is, sal die DBSA met die assesserings en gedetailleerde ontwerpe van beskadigde geboue begin, ʼn geraamde begroting opstel en ʼn inwerkingstellingsplan aan die parlement voorlê.

Die parlement sal die vierde en vyfde verdiepings weer opknap en die eerste, tweede en derde verdiepings van die Pleinstraat 90-gebou herontwerp om alternatiewe kantoorspasie vir LP’s en parlementêre werkers te skep.

Altesame 155 kantore vir LP’s en spasie vir meer as ʼn 1 000 parlementêre werkers wat sonder kantore gelaat is, sal só verseker word. Dit sal ook dien as tydelike werkplek terwyl die bouwerk voortduur.

Die DBSA sal ook help met die algehele fasiliteitbestuur van die parlementêre gebied, wat die parlementêre opset insluit, die opknapping van veiligheidstelsels en die konseptualisering en herontwerp daarvan.

“Die restourasieprojek bied ʼn unieke geleentheid om te verseker dat ruimtes so ontwerp word dat dit voldoen aan die spesifieke behoeftes van ʼn demokratiese parlement, asook om die instelling se digitale infrastruktuur te moderniseer,” sê George.

Na afloop van die bouwerk moet daar byvoorbeeld genoeg kapasiteit vir gesamentlike sittings van die twee huise en ʼn groter openbare galery wees, asook meer kantoorruimte vir LP’s en komiteekamers.

“Daar word voorsien dat die projek binne 24 maande voltooi sal wees, terwyl nog ses maande toegelaat word vir haakplekke of uitdagings nadat daar weer ingetrek word,” sê George.

Bepaalde wetgewing oor erfenisgeboue moet nagekom word en daar sal met die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap in dié verband saamgewerk word om goedkeuring te versnel.

Slakkepas

Siviwe Gwarube, die DA se hoofsweep, sê hoewel die besluit om met die bouwerk te begin as ʼn “mylpaal” bestempel word, is dit nie juis iets om oor huis toe te skryf nie aangesien die brand al meer as ʼn jaar gelede was.

“Om aan te kondig dat die rommel nou verwyder gaan word en met die herbouproses begin word, is te wagte, gegewe dat die tesourie al verlede jaar al R2 miljard daarvoor toegewys het.

“Die parlement het teen ʼn slakkepas beweeg.”

Gwarube sê dit lyk of die aankondiging gedoen is ná die DA se eis daaroor vroeër aan die parlement.

“Ons verwag steeds van die instelling om môre te reageer op die DA se regstappe oor wat die planne is vir die vind van alternatiewe venues vir die parlement om sy werk ten volle te hervat. Hierdie is nie ʼn luukse nie. Dit is ʼn grondwetlike verpligting wat ons ernstig opneem.”

  • Zandile Christmas Mafe is kort ná die brand in hegtenis geneem. Die saak sloer onder meer omdat hy al etlike kere geweier het om sy sel te verlaat om die hofverrigtinge by te woon. Mafe staan tereg op aanklag van huisbraak met die doel om ʼn brand te stig, brandstigting, terrorisme en diefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Casper ·

Twee miljard rand.Hoeveel gaan werklik aan herstelwerk bestee word en hoeveel mense se beursies gaan weer bult,nog ‘n korrupsie skandpaal.

Piet 6 ·

As dit ń privaat maarskapy se geboue was, was die werk lankal klaar gewees teen maksimum 30% van die prys.

CHRISTINE ·

Dit moet eintlik nie herstel word nie en monument vir die ANC word. Dis die beeld wat ek van die ANC het.

Papsak ·

Hier nie geld in die land nie waar kom dit vandaan en hoeveel gaan bestee word aan parlament gebou vra net en hoeveel gaan net verdwyn ???

Harley Davidson ·

Terwyl hulle nou regmaak sou ek sommer ook ‘n solar sisteem en beter alarmstelsel insit vir die krag tekort en stygende misdaad syfer ,en miskien piesang blaar muurpapier ook.

Pietertjie ·

Hoe lank het hulle nou weer geneem om Kusile en Medupi te bou? O ja, dis nog steeds nie voltooi nie. Kom ons hou hierdie een dop!

kragaap ·

Los die plek net so dat dit soos ‘n squatter kamp lyk. Of gebruik dit vir behuising vir dakloses. Dan dien dit ‘n doel. Die skandes en sinnelose gebrabbel wat op ‘n daaglikse basis in die parlement plaasvind kan sommer onder ‘n boom uitgevoer word.

piket ·

Ja nê! Kom ek waag n voorspelling van hierdie saak se toekoms.
In kort, so om en by 5-6 miljard verder en ( voltooiing ? )so 9 – 10 jaar verder.

Aggie ·

Iewers hier is ‘n skryffout, dis nie die tesourie wat die fondse gee nie, dis die belastingbetalers. Die tesourie is net die tussenganger!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.