Herstelwerk reeds aan die gang by Musina-hof

Die Musina-landdroshof in Limpopo het Dinsdag sy deure onbepaald gesluit. (Foto: Verskaf)

Die departement van openbare werke en infrastruktuur het Vrydag dit duidelik gestel dat die Musina-landdroshof in Limpopo nié permanent gesluit is nie en dat daar reeds met herstelwerk begin is.

Die hofgebou het vroeër vandeesweek sy deure onbepaald gesluit weens strukturele probleme.

Die departement sê hy is besig om ’n nuwe kontrakteur aan te stel om die uitstaande herstelwerk aan die gebou te voltooi.

’n Hofamptenaar het Vrydagmiddag aan Maroela Media bevestig dat daar reeds ’n “daadwerklike poging” aangewend word om die gebou te herstel.

Thami Mchunu, woordvoerder van die departement van openbare werke en infrastruktuur, sê in ’n verklaring senior amptenare van dié departement sowel as die departement van justisie en departement van arbeid het Woensdag oor die pad vorentoe vergader.

Daar is tydens die vergadering besluit dat die hofgebou se brandblussers, veiligheidstekens, kragbokse, ablusiegeriewe en vloerteëls eerste aandag sal moet geniet.

Volgens Mchunu is die betrokke diensverskaffers reeds hiervoor aangestel en herstelwerk is sedert Donderdag onderweg.

Maroela Media het vroeër vandeesweek berig die landdroshof het Dinsdag sy deure onbepaald gesluit nadat die gebruik van die gebou onder meer weens strukturele probleme as “te gevaarlik” bestempel is.

Die gebou loop die gevaar om ineen te stort met onder meer oop kragbokse en beskadigde kragkabels. Dít terwyl die owerhede nou al meer as twee jaar lank sloer om iets te doen aan die gebou se veiligheid.

’n Kontrakteur is in 2018 aangestel om verskeie strukturele probleme te takel. Die kontrakteur het egter finansiële moeilikheid ondervind en die projek is nooit afgehandel. Die departement van openbare werke en infrastruktuur het in 2019 besluit om die kontrak te beëindig en regstappe is intussen aanhangig gemaak.

Die strukturele integriteit van die gebou is egter nog verder in gedrang gebring en alle verhore en bedrywighede by die hof in Musina is in intussen onbepaald uitgestel.

Mchunu sê al die betrokke departemente sal nou saamwerk om te verseker dat die herstelwerk so spoedig as moontlik afgehandel word en dat bedrywighede so gou moontlik by die hof hervat kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

KhoiKhoi ·

Sal interessant wees as infrastruktuur odits by alle staatsgeboue uitgevoer word.
Bittermin sal slaag

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.