Hessequa-burgemeester sê bewerings teen hom ‘is onwaar’

Burgemeester Grant Riddles (Foto: Hessequa Municipality)

Die raad van die Hessequa-munisipaliteit in die Wes-Kaap het eenparig besluit om beweringe teen die burgemeester, Grant Riddles, na die dissiplinêre komitee te verwys vir verdere ondersoek.

Daar word beweringe deur die ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, Cameron Dugmore, gemaak dat Riddles glo mense aangeraai het om op hul staatsbehuisingsubsidie-aansoek te jok om sodoende ’n Breaking New Ground-eenheid (BNG) te bekom. BNG-eenhede is volgens die behuisingskode slegs vir diegene wat ’n salaris van tot ’n maksimum van R3 500 per maand verdien.

Volgens die beweringe het munisipale amptenare wat nie vir subsidies kwalifiseer nie, onregmatig subsidies ontvang.

In reaksie op die beweringe het Tertuis Simmers, die DA se provinsiale leier in die Wes-Kaap, gesê dat die beweringe ongegrond en gestroop van die waarheid is en ten volle ontken word, aangesien aansoekers van staatsbehuisingsubsidies ’n duidelike bewys van inkomste moet verskaf.

Daar word ook beweer dat die kontrakteur ASLA ’n perseel by die burgemeester self gehuur het om toerusting in Stilbaai te stoor.

Cameron Dugmore, die ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer (Foto: Cameron Dugmore/Facebook)

Dié beweringe, sê Simmers, is “ongegrond”.

“Die beweringe is eintlik lagwekkend aangesien die burgemeester geen verhuurbare grond besit nie,” sê hy.

Volgens Simmers word die beweringe dat werknemers van die munisipaliteit en raadslede onregmatig voordeel getrek het uit die Nasionale Behuisingskema en onwettige subsidies verkry het, in ’n ernstige lig beskou en ondersoek.

Riddles het op al hierdie beweringe skuld ontken.

Simmers sê gegewe dat van die beweringe lasterlik en ongegrond is, gaan Riddles moontlik siviele regsaksie oorweeg.

‘Die waarheid sal seëvier’

Riddles het Vrydag in ’n brief aan die inwoners gesê hy is ten volle bewus van die beweringe teen hom en gee sy volle samewerking aan die kantoor van die speaker as deel van die interne ondersoek.

“Skedule 7: Gedragskode vir Raadslede ingevolge die Munisipale Strukture, Wet 117 van 1998 stippel spesifiek die gedrag uiteen waaraan raadslede gemeet word, asook die proses wat gevolg moet word indien daar beweringe is dat gemelde kode moontlik verbreek is. Die raad se goedgekeurde en vasgestelde reëls en prosedure met betrekking tot dissiplinêre aangeleenthede sit die dissiplinêre proses nougeset uiteen,” verduidelik Riddles.

Die voorlopige ondersoek is deur die kantoor van die speaker afgehandel en na die raad verwys vir oorweging.

Die raad het Woensdag besluit dat die aangeleentheid ingevolge Item 16(1), Skedule 7 van die Gedragskode vir Raadslede, na die dissiplinêre komitee verwys moet word vir verdere ondersoek.

Oor die feit dat daar ’n saak by die Valke gemaak is, stel Riddles inwoners gerus dat dit “enige inwoner se reg is om ’n saak te maak”.

“Daar is nog geensins ’n besluit om moontlik te vervolg nie. Soos enige owerheid moet daar eers gekyk word of daar meriete in die aangeleentheid is.”

Riddles sê hy weet wat die feite is en dat “die waarheid sal seëvier”.

“Die weergawe daarbuite word valslik geskep dat ek finansiële voordele of gunswerwing ontvang het, wat absoluut onwaar is.”

Hy beklemtoon die beweringe teen hom, naamlik dat hy ’n perseel aan ’n behuisingskontrakteur teen finansiële vergoeding verhuur het, is “so vals soos ’n R30-noot”.

“En hiermee volstaan ek. Hiermee bevestig ek ook dat ek geen kommersiële grond of eiendom besit om te kon verhuur nie.”

Riddles erken die afgelope tydperk was baie emosioneel vir hom en sy familie, vriende en kollegas.

“Ek is polities aangeval om my karakter te probeer skaad.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Di ·

ANC orals besig om persone van ander politieke partye te beskuldig van bedrog ens. probeer hulle hulle eie kaders orals indruk . Wil mos alles en almal beheer!

Waarnemer ·

Ja neh!Ou taktiek van die cANCers.SAai twyfel oor jou teestanders om n voeg in die deur te kry.

Harley Davidson ·

Die nuwe tendens van die anc is om verwarring te skep en sodoende die enigste provinsie wat werk in sa se dienslewering te ontwrig,wonder hoe werk fw se ” checks and balances” nou vir sy aanhangers.

Elize ·

Siestog – vir sy inligting – die ANC meelopers het GEEN karakter nie

Tubac ·

Wag maar eers vir die ondersoek om afgehandel te word. Waar daar n rokie ,is daar n vuurtjie.

De Bok ·

Wat was die vuurtjie in die geval van Nabot se wingerd? Google gerus “Naboth’s vineyard” as jy nie weet waarvan ek praat nie.

Daar is ‘n rede hoekom ons mense as onskuldig beskou totdat daar genoegsame bewyse is dat hulle skuldig is.

Tubac ·

Die Raad verwys na dissiplinere kommitee. Hoekom? Valke ook nou betrokke. Is daar dalk n rokie wat kan ontstaan in n vuurtjie? Hoop vir sy part dat dit nie so is nie.

Shakespeare ·

ANC julle stink nie meer net nie. Julle is klaar VERROT !! Die hele wêreld ruik die vrot stank.

My siening ·

ANC DESPERAAT, SO OOK DIE WIT MANNETJIE WAT DINK DIE ANC gaan hom beskerm, volgende jaar as ANC verloor dan hardloop hy!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.