Hiér kan Pta-inwoners wateronderbrekings ervaar

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Inwoners van verskeie Pretoria-woonbuurte kan moontlik van Vrydag sonder water wees omdat Rand Water se watervlak in die stelsel wat die oostelike dele van Pretoria van water voorsien, gedaal het. Die stelsel se vlakke is tans kritiek laag.

Gevolglik het die Stad Tshwane geen watervloei na sommige van sy reservoirs nie.

Die volgende gebiede is tans sonder water:

  • Mooikloof-reservoir: Mooikloof, Woodhill en gebiede in Garsfontein (oos van Solomon Mahlangu)
  • Grootfontein-reservoir: Hoogliggende gebiede van The Hills
  • The Wilds
  • Elarduspark-reservoir: sommige dele van Moreleta Park

Selby Bokaba, ʼn woordvoerder vir die stad, het gesê water is by die Elarduspark-reservoir begin pomp wat deur die Garsfontein-reservoir voorsien word en daar is ʼn verbetering in die watervlak. Inwoners in die voorsieningsgebied van die genoemde reservoir sal water begin ontvang soos die vlak styg.

Intussen het die stad Rand Water versoek om die fase 2-waterbeperkings wat Woensdag ingestel is, op te hef op die betrokke reservoirs.

“Om ons reservoirs te vul is die stad egter afhanklik van die voldoende toevoer van die Rand Water-stelsel,” sê Bokaba.

Daar is ook ʼn effense verbetering in Rand Water se reservoirs wat die westelike dele van die stad van water voorsien.

Die volgende gebiede is tans sonder water:

  • Magalies-reservoir: Rosslyn
  • Klipgat-reservoir: Mabopane Blok T
  • Akasia-reservoir: Hoogliggende gebiede van Amandasig
  • Soshanguve Blok L-reservoir: Hoogliggende gebiede van Soshanguve Blok L, M, K, K en L uitbreidings
  • Mnandi-reservoir: sommige dele van Mnandi

Die stad het Rand Water versoek om ook die beperking by die Akasia- en Magalies-reservoir op te hef wat die situasie behoort te verbeter.

In Soshanguve Blok L en Klipgat word die gebiede geraak deur die lae druk van die Rand Water-stelsel wat beperk is en die situasie behoort te verbeter sodra die toevoer van Rand Water normaliseer.

“Die stad neem ook hoë waterverbruik in hierdie gebiede waar om die stelsel te help om te herstel.”

Volgens Bokaba monitor die stad voortdurend sy reservoirs in ʼn poging om die impak van die beheerde en beperkte vloei vanaf Rand Water te minimaliseer. Beurtkrag kan egter die pomp van water beïnvloed, wat wateronderbrekings, veral in hoogliggende gebiede, tot gevolg sal hê.

“Baie van die stad se water- en sanitasienetwerkstelsels maak staat op elektrisiteit. Ons watersuiweringsaanleg en pompstasies benodig elektrisiteit om te werk. Terwyl ons reservoirs het met berging om deur kort onderbrekings te hou, maak daardie reservoirs staat op deurlopende vloei om vlakke te handhaaf en voorbereid te wees op onderbrekings.

“Die deurlopende vloei maak staat op die pompstasies wat loop om water te pomp, maar met beurtkrag wat so gereeld en vir lang tydperke voorkom, word die voortdurende vloei van water onderbreek en dit beteken dat reservoirs wat onder aansienlike druk is, soos dié wat hoogliggende gebiede bedien, hul watervlak stadig moet verlaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anel ·

Ja, as hulle nie vir elke amptenaar ‘n kragopwekker en brsndstof vooersien nie, kon daardie geld vir noodsaakliker kragopwekkers gebruik gewees het. Om mense te help wat swaar aan die belasting betaal!!!!!

Annalize ·

Daar is geen beter tyd as NOU om seker te maak ons stel alternatiewe oplossings in plek nie.
Die feit bly staan dat dit nie baie gou beter gaan raak nie. Die krag lê nie in die hande van die wat alles verwoes het nie. Die krag lê in ONS hande

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.