Historikus se as in see by Struisbaai gestrooi

Dr. Con Krüger

Deur Pierre Massyn

Die as van die bekende historikus en bedryfsielkundige dr. Con Krüger is Saterdagmiddag deur die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in die see by Struisbaai gestrooi. Krüger is op 5 November in Bredasdorp oorlede. Hy sou vandag 90 jaar oud geword het.

Tydens ʼn troosdiens in die NG Kerk op Struisbaai wat vandag deur vriende en familielede bygewoon is, het sy jarelange vriend, die gerespekteerde prokureur Fanie van Niekerk, vertel dat Krüger “onbeskryflike pyn” in sy laaste lewensjaar moes verduur. Hy moes toe ʼn keuse maak tussen in pyn leef en ʼn heupvervangingsoperasie. Die operasie was wel ʼn sukses, maar volgens sy seun Jacques het sy pa daarna verskeie kere geval en homself beseer. “Ek bring hulde aan suster Binneman van Suideroord wat my pa tot die einde versorg en bygestaan het”, het ʼn aangedane Krüger gesê.

Sy vrou, Adna, het vertel dat die dokters haar skoonpa, toe hy 80 jaar oud geword het, meegedeel het dat hy nog tien jaar sou lewe. “Ons hou hierdie diens juis vandag waarop hy 90 jaar oud sou geword het. Pappa, jy het 90 gehaal”, het sy gesê.

Reinhardt Geldenhuys, die stasiebevelvoerder van die NSRI op Struisbaai, het in sy spreukbeurt gesê Krüger was die vader van die NSRI op Struisbaai. “Oom Con se passie vir seeredding leef vandag voort in ons lede hier by Stasie 30.”

Heelwat van Krüger se boeke, tydskrifte en ornamente waarvan hy sommige self vervaardig of laat maak het, gaan nou ʼn permanente tuiste in dié reddingstasie kry.

Hoé talentvol Krüger was, blyk uit die bydraes wat hy op talle gebiede gelewer het onder meer dié van bedryfsielkunde, geskiedenis, drama, musiek, debatvoering en paleontologie.

As skrywer is Krüger se bekendste werk stellig Rub out my History waarin hy Engeland se wreedhede teenoor Boere-burgerlikes tydens die Tweede Vryheidsoorlog treffend in al sy pynlike realiteit verbeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.