‘Hlophe moet ook soos OB geskors word’

Die Wes-Kaapse regterpresident, John Hlophe. (Foto: judgesmatter.co.za)

Die grondwetlike drukgroep Freedom Under Law (FUL) bevraagteken waarom die Wes-Kaapse regterpresident John Hlophe nog steeds nie geskors is nie.

Johann Kriegler, vername oudregter en voorsitter van Freedom Under Law, sê dit is 14 jaar sedert Hlophe twee regters van die grondwetlike hof ten gunste van oudpres. Jacob Zuma bearbei het.

“Alhoewel die Regterlike Dienstekommissie (RDK) hom reeds maande gelede skuldig bevind het aan growwe wangedrag, en alhoewel die Grondwet voorsiening maak vir skorsing hangende ʼn uitslag van beskuldiging, bly hy die openbare beeld van geregtigheid in die Wes-Kaap.”

Kriegler voeg by die openbare beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane, het haar kantoor in verskeie kere in ʼn regstryd gewikkel, wat nie verband hou met haar grondwetlike pligte as OB nie.

“Die howe het herhaaldelik verdoemende bevindings gemaak – nie net oor haar vermoëns nie, maar ook haar motiewe en integriteit. In Julie 2019 het die grondwetlike hof byvoorbeeld gesê dat sy ‘ʼn paar valshede’ voorgehou het en dat haar ‘minagting van haar grondwetlike verpligtinge verregaande was’.”

Kriegler sê dié bevindings was ʼn teken van Mkhwebane se wangedrag, onvermoë en onbekwaamheid. “Die Grondwet bepaal dat dit optrede teen haar gedoen kan word. Die parlement moes reeds in 2019 stappe gedoen het om haar uit haar amp te verwyder en die president moes haar intussen geskors het. Hierdie versuim het die land ongekende skade berokken. Miljoene is verkwis en weke se tyd in die hof is verspeel in ligsinnige en hinderlike litigasie. Die uiters belangrike kantoor van die openbare beskermer het ʼn verleentheid geword.”

Hy sê die RDK herhaal weer dieselfde foute om openbare instansies te beveilig in sy pligsversuim om die integriteit van die regbank te beskerm.

“Freedom Under Law het herhaaldelik ʼn beroep op die RDK gedoen om sy skorsing aan te beveel vir die president. Hopelik sal die stappe wat nou teen die OB gedoen is, hulle aanspoor tot aksie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.