Hoe meer ekstra wiskundeklasse jy kry, hoe swakker is jou punte

valentyn-vd-merwe-wiskunde-sos-kongres-2017

Valentyn van der Merwe van die VAW bied ’n sessie aan. Foto: Verskaf.

’n Onlangse studie deur Solidariteit Helpende Hand se Skole-ondersteuningsentrum (SOS) het bevind dat hoe meer ekstra klasse graad 12-leerders per week bywoon, hoe swakker presteer hulle. Daar is ook bewyse dat hoe meer tyd die leerders aan huiswerk bestee, hoe laer is hulle punte.

Die studie is by nege Afrikaanse hoërskole in Pretoria gedoen en het 23 matriekwiskunde-onderwysers en meer as 1 200 matriekleerders ingesluit. Leerders in die studie moes aandui of hulle ekstra wiskundeklasse het, hoeveel ekstra klasse hulle per week het en wat hulle daarvoor betaal. Al betaal die groep gesamentlik ongeveer R750 000 per maand aan ekstra klasse, vaar hulle ook aansienlik swakker as die groep wat nie ekstra klasse neem nie.

Daar is verskeie ander bevindinge wat bewys dat dít wat in die wiskundeklaskamer gebeur en die kwaliteite van die opvoedkundige teenwoordig, bepalend is vir sukses in wiskunde. Nie net het die tyd wat ’n leerder aan huiswerk bestee nie ’n positiewe uitwerking op leerderprestasie nie, maar dit het inteendeel ’n klein negatiewe impak. “Die wiskunde wat in teenwoordigheid van ’n onderwyser gedoen word, bly die belangrikste. Dit is dáár waar die leerder dadelik hulp kan kry en dit is daar waar struikelblokke die beste uit die weg geruim word,” sê prof. Gerrit Stols, departementshoof van Wiskunde-onderwys aan die Universiteit van Pretoria en medestigter van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW).

Die leerders en hul onderwysers het ook die 2016-matriekrekordeksamen van die Gautengse departement van onderwys geskryf. Die onderwysers het ’n gemiddeld van 97,3% vir die twee vraestelle behaal, terwyl die leerders se gemiddeld 59,8% was.

“Hierdie leerders word onderrig deur ’n groep wiskunde-onderwysers van wêreldgehalte. Hulle vakkennis is bykans perfek en hulle is uiters ervare. Dis nie vir ons verrassend dat leerders wat tyd by hierdie spesialiste vervang met tyd by persone buite die skoolstelsel, nie noodwendig daarby baat nie,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand en medestigter van die VAW.

Die studie het ook bevind dat hoe meer ervare die wiskunde-onderwyser is, hoe beter vaar die leerders. “Vir die VAW is dit ’n groot bron van kommer, aangesien die Afrikaanse onderwyserskorps ouer word. Ons móét planne bly maak om goeie jong onderwysers tot die wiskunde-onderwys toe te voeg,” sê Ruan Kapp, tegnologiespesialis van die VAW.  Die VAW het ’n studiefonds vir belowende skoolverlaters wat graag wiskunde-onderwysers wil word.

Die SOS-kongres het op 28 en 29 Junie in Pretoria plaasgevind en sal op 3 en 4 Julie in Kaapstad aangebied word. Die kongres bied meer as 100 verskillende sessies aan vir lede van die VAW en Die Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT). Sprekers tydens die Kaapse kongres sal die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, dr, Jaco Deacon, dr. Gillian Arendse, Waldimar Pelser en Flip Buys as sprekers insluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

42 Kommentare

Kiepie ·

Interressant dat ‘n professor van Stellenbosch bevind het dat omtrent 90% van die top 100 wiskunde-studente wat die 2015 Nasionale Graad 12 eksamen afgelê het, almal wiskunde-ekstraklasse ontvang het.

Haan ·

Ek hoor kiepie, maar korellasie beteken nie oorsaaklikheid nie. En die steekproef is heelwat kleiner as die solidariteit studie s’n. usain bolt, asafa powell én wayde van niekerk dra almal nike spykerskoene, dit beteken nie almal wat nikes dra gaan die 100m sub tien hardloop nie, maar intussen maak nike baie geld want die mense glo ook hulle gaan deel hê van hul helde se roem.

Disselboom ·

Haan, dit wil lyk of die Stellenbosch-professor se studie die hele 2015 Graad 12-staatseksamen as populasie betrek, waaruit 100 beste presteerders empiriese bewys is (dis immers eksamenpunte) en dat ongeveer 90% van hulle ekstra klasse gehad het. Dis ook nie voldoende vir ‘n omvattende gevolgtrekking oor ekstra klasse nie, maar die populasie van hierdie statistiek is baie wyer as die Helpende Hand-studie wat beperk is tot net nege, beperk tot Afrikaanse, en beperk tot Pretoria-skole.

MissDemeanor ·

Ek dink die studie sit die pot mis. Mense wat sukkel met wiskunde vat langer om die huiswerk te doen. Mense wat sukkel met wiskunde begin ekstra klasse neem om hul te help. Hul moet eerder kyk hoe mense vaar VOOR hul ekstra klasse kry en vergelyk met wat gebeur NA die tyd.

Anoniem ·

Die argument voel vir my verkeerd om…. Dis vir my logies om te dink dat diegene wat met Wiskunde sukkel, juis gaan hulp soek by ekstra Wiskunde klasse.

Disselboom ·

Stem saam. Dis logies dat die groep wat behoefte aan ekstra klasse het, oorwegend diegene is wat om een of ander rede met die wiskunde sukkel. Daarby is dit ook doodlogies dat ‘n meer ervare wiskunde-onderwyser beter is….

Haan ·

Dis nie die punt nie. Die studie het bewys dat ekstra klasse n baie duur en baie oneffektiewe oplossing is vir n leerder se onvermoë om wiskunde te snap (ek swot ingenieurswese en glo my wisk is n snap vak)
Ek is van mening dat die ekstra wiskunde klasse (veral master maths en dies meer) die leerders op hul louere laat rus. Hulle vaar goed in die generiese rekenaar toetse – sonder om die konsepte werklik hul eie te maak.
Laat my dink:
“surface area is pi R squared”
“No ma’m… Pie are round, bread are square” ?

RB ·

Presies wat ek ook wou sê.

Een van my skool wiskunde onderwyseresse het altyd gesê mens kan nie wiskunde op die “O ja”-metode leër nie. Maak nie saak hoeveel keer ‘n persoon gewys word, bv. in ekstra klasse, en sê “O ja” nie, die enigste manier is om self te sit en dit te oefen tot dit onder die knie is.

Andrea ·

My dogter sukkel nie met Wiskunde nie, sy werk vir ‘n onderskeiding. Sy woon weekliks ekstraklasse in Wiskunde en Wetenskap by. Haar punte is aansienlik beter vandat sy die ekstraklasse doen.

Wipskunde 101 ·

Op ‘n manier stem ek saam met Haan.

Dit hang baie van die leerling se eie ingesteldheid teenoor die vak af. Ek dink sommiges het ‘n les fair houding en verwag dat hulle moet slaag/goed doen as beloning vir bywoning van ekstraklasse, nie vir harde werk nie – “dis die onderwyser se probleem om my deur te kry”.

As matrikulant in die 80s het ek vanaf dag een al wat HG Wiskunde vraestel is uitgesnuffel ure, aande, naweke daaraan spandeer totdat ek die nodige insig deur inoefening onder die knie gekry het. Ek’s beloon met ‘n onderskeiding daarvoor. Dis ook metode wat baie huidige presteerders volg. Moenie wag dat ander dit vir jou doen nie. Jy’s by die water, drink.

Paul ·

Ja nee, sal die hele studie moet sien in detail om te kan weet of die gevolgtrekking geregverdig is.

Dit gaan tog oor of iemand se punte en vaardigheid VERBETER weens die ekstra klasse, nie of leerlinge wat ekstra klasse neem, beter of swakker punte kry as diegene wat nie ekstra klasse neem nie.

So mens moet ideaal gesproke die prestasie-data oor tyd hê vir spesifieke leerlinge, en dan die datum(s) waarop hulle ekstra klasse begin en aanhou het, inwin. Dan kan prestasie voor die ekstra klasse en prestasie daarná vergelyk word.

Iemand wat 30% vir wiskunde gekry het, en dan ekstra klasse neem, en dan 50% vir wiskunde kry, doen steeds swakker as die leerling met goeie aanleg wat sonder ekstra klasse reeds 90% behaal, maar dit beteken mos nie die ekstra klasse maak jou swakker nie!

Vir al wat ons weet maak hierdie studie voorsiening daarvoor, maar dit word nie in die berig genoem nie. Meer detail sou bruikbaar wees.

Paul ·

Sonder om meer detail oor die studie te weet, klink dit werklik soos iemand wat ‘n studie doen onder mense wat dikwels na dokters toe gaan en mense wat nie dokter toe gaan nie, en dan aankondig dat jy ‘n groter kans het om dood te gaan as jy dikwels ‘n dokter besoek, sonder om in te sluit of die mense wat nie dokters besoek het nie, enigsins siek was of nie.

Dit sou ‘n tipe “post hoc ergo proctor hoc” denkfout wees.
Iemand kyk na A (die ekstra klasse) en B (die wiskundepunte), en sien dat waar A meer is, is B minder en maak dan die gevolgtrekking dat meer A tot minder B lei bloot omdat A gebeur het voordat B gebeur het.
Dit, terwyl daar ‘n gemene derde oorsaak, C (leerlinge wat swakker presteer, is meer geneig om ekstra klasse te neem) vir beide A en B kan wees.

Katriena H ·

Dis ‘n briljante onderwerp om na te vors!
Ja dit is sekerlik waar dat die onderwysers 90% behaal.het en die kinders 50.
Al wat dit vir jou sê is dat die onderwysers nie noodwendig oor die vermoë beskik om hulle kennis aan die kinders oor te dra nie.
Ongelukkig word daar gewoonlik net aandag gegee aan die top presteerders wat reeds wiskude verstaan/begryp. Dia selde dat onderwysers vandag kinders kan help wat sukkel. Dis ‘n spesiale breed onderwyser wat kan verduidelik dat almal kan verstaan

manuela de villiers ·

Alhoewel daar sekerlik waarheid in die bevinding steek, hang dit van baie faktore af hoe leerlinge in wiskunde presteer en kan die afleiding dat daar ‘n direkte verband tussen ekstra wiskundeklasse en swak prestasie in dié vak, nie summier gemaak word nie. Dit kan bv wees dat die leerder wat nie aangelê is vir wiskunde nie, juis ekstra klasse nodig het. Dit hang ook af of die werkswyse is waar kennis vir die leerder gevoer word en of daar selfwerksaamheid met hulp, soos by Mastermaths, is. Leerders wat op die regte wyse gelei word, kan net baatvind by ekstra klasse. Waar die leerder egter passief sit en luister na die onderwyser tydens ekstra wiskundeklasse, al hy beslis nie veel baat vind nie.

Gerhard ·

Miskien moet leerders vakke neem waarin hulle goed vaar. As jy swak is in wiskunde gaan jy nooit goed wees in ‘n beroep waar jy goed in wiskunde moet wees nie. Leer eerder iets wat jy goed kan doen en doen jouself en ander ‘n guns.

WL ·

Dis is mos verkeerd om die gevolgtrekking te maak dat, hoe meer ekstra wiskunde klasse ‘n leerder bywoon, hoe swakker hul punte.
Dit is mos net logies dat kinders wat sukkel in wiskunde meer ekstra klasse sal bywoon.

m ·

Nee wat ek stem glad nie hier saam nie. Ekstra wiskunde klasse help baie vir my kind wat sukkel om hierdie moeilike goed te verstaan.

manuela ·

Hoewel ‘n mens nie die feit kan ontken dat daar ‘n verband tussen swakker wiskunde prestasie en ekstra klasse in hierdie spesifieke studie bestaan nie, is dit gevaarlik om ‘n kousale afleiding te maak dat daar ‘n direkte verband tussen die ekstra klasse en swakker prestasie bestaan .Word die volgende faktore in die navorsingsontwerp in ag geneem? Dit is dikwels die leerders wat nie so sterk aangelê is in wiskunde nie, wat ekstra klasse neem. Mens sou verwag dat hul prestasie,ten spyte van ekstra klasse, steeds swakker sal wees as dié wat aangelê is vir die vak. Ook hang dit baie af van die tipe ekstra klas wat die leerder kry. Is dit ‘n klas waar hy passief sit en die onderwyser verduidelik slegs die werk? Of is hy by ‘n program betrokke wat selfwerksaamheid met hulp, soos by Master Maths, volg? Ek het al gesien dat leerders met die hulp van laasgenoemde program, inderdaad ‘n baie beter begrip vir die vak ontwikkel, wat dan deurvloei na ‘n verbetering in prestasie in die vak.

Ja vir ekstraklasse ·

Katriena ek stem volkome saam met jou. Baie briljante onderwysers het die kneeis maar nie die vermoe om hierdie kennis doeltreffend oor te dra aan kinders nie. Hulle werk so vinnig en konsetreer op die begaafde leerders wat vinnig snap en vir hull n uitdaging is dat die leerders wat iets gemis het heeltemaal oorgesien word. My seun het to onlangs skaars wiskunde deurgekom en ons stuur hom nou vir ekstra klasse by n oud afgetrede onderwyseres. Sy wiskunde punt het binne die eerste maand met 25% gestyg. Dit het sy selfvertroue soveel verbeter. Hierdie studie is duidelik eensydig en nie die volle waarheid nie

Eksra klas ekspert ·

As iemand wat ekstra klasse geneem het kan ek beaamndat die onderwyser se vermoeens baie belangrik is, self met ekstra klasse is daar goed/beginsels wat ek jare na matriek eers gesnap het.

Om terug te kom na die ‘ studie’ dit is omtrent net so dom soos die wetenskaplike studies van ” MENSE WAT MEER LAG IS MEER GELUKKIGER AS ANDER MENSE” nou as jy jou lippe vasmaak/plak in n laggende possisie behoort jy volgens daardie studie binne 2 dae die gelukkigste persoon ter wereld te wees omdat jou mond mos nou die heeltyd lag, maar wat die ” slim” (eintlik DOM) navorsers miskyk is dat die persoon wat baie lag reeds gelukkig is( want sy lewe loop waarskynlik klop disselboom), dis nie die lag wat hom gelukkig maak nie, nou probeer die navorsers vir jou laat ( kunsmatig) lag sodat jy gelukkig kan word . Haha ha ha

Piet Pompies ·

Wiskunde is ‘n logika, ek self het baie gesukkel met Wiskunde in Std6, Std7 en Std8. In Std9 kry ek ‘n ander onderwyser en vang toe Wiskunde se logika, en daar is dit toe nie meer ‘n probleem. My seun het ook gesukkel met Wiskunde en hy het Gr11 en Gr12 ekstra klasse geloop en toe geslaag met vrystelling.

MissDemeanor ·

Ek het op skool net net deurgeskuur in wiskunde. Eerste jaar Algebra gedruip. Hele Desember vakansie ou vraestelle gedoen en toe onderskeiding gekry. Met wiskunde moet jy net aanhou en aanhou probeer. Vir party vat dit langer as vir ander. Maar jy moet hard probeer en as jy dit snap uiteindelik dan sit dit!

Jan ·

Moeilik om te glo, baaaaie moeiik. Dalk het die kinders wat ekstra klasse bygewoon het dit nodig gehad, en sou hulle swakker gevaar het as hulle nie die eksra klasse bygewoon het nie, ongeag of die kinders wat die ekstra klasse bygewon het, deur onderwysers van wêreldgehalte onderrig is. Dit sê net van die onderwyser se kundigheid, maar as die kind se platvorm bereik is, gaan jy hom nie nog ontvankliker of slimmer maak nie.

Ek weet nie watter ander inligting Solidariteit bekom het om tot so ‘n gevolgtrekking te kom nie, maar om die bewering te maak suiwer uit hoofde van die steekproef soos hierbo genoem, hou verseker nie water nie, en moet hulle weer gaan dink.

Die ander bydraes tot die kind se sukses klink vir my reg, en natuurlik sal die kundigheid van die onderwyser ook ‘n rol daarin speel, ook om die kind se belangstelling te prikkel met die wyse en passie waarmee dit aangebied word. (Net so in kort.)

Mal oor wisk ·

Ek dink hierdie studie is totaal en al verkeerd. Hoe meer wisk klasse ek op skoo gekry het hoe beter het ek gedoen. Dit was maar net 10jaar terug.
Ek het by Master Maths gewerk en hoe meer klasse die leeringe bygewoon het hoe beter het hulle punte geword. Dus ek weet nie so mooi hoe hierdie studie reg kan wees nie!!!

Fanie ·

Dis ‘n ongelukkige storie wat net verwarring skep en skade doen.. Wetenskaplike opgeleide navorser sal tog weet dat ‘n korrelasie of bloot ‘n verskil tussen gemiddeldes of swakker prestasie in ‘n objektiewe toets wat nie gebaseer is op die resultate van ‘n ewekansige steekproef met die nodige kontroles, niksseggend is. Vir bepaling van oorsaaklikheid moet gepaste statistiese modelle gebruik word.

Disselboom ·

Dr Brink beveel dus aan dat die staatskole se onderwysers die beste is en daar nie “buite die stelsel” na wiskunde-onderrig gesoek moet word nie. Waar laat dit die tuisskolers?

Johann ·

En dan is daar mense wat sommer vir die lekkerte en omdat hulle goed wou presteer, die simbole gejaag het, ook in vakansies studeer het.

Swartkat ·

In die Nuwe Suid Afrika het jy nie ekstra wiskunde klasse nodig nie, vat liewer ekstra klasse in rommel wiskunde en Xhosa

humor ·

Dankie tog na al die jare weet ek nou waarom ek altyd net, net deurgesleep het. My entoesiasme met die ekstraklasse was moontlik oordrewe.

Lou ·

Ek dink die ou wat die konkoksie van syfers bemekaargesit en tot ‘n gevolgtrekking gekom het, het ekstra klasse in logika en statistiek geneem. Lyk my regtig of hulle die pot mis sit.

Haan ·

Die groot fout wat die studie maak is dat hulle nie onderskei tussen “doen sommetjies op die rekenaar” tipe ekstra klasse – en “ek sit na skool saam met juffrou en werk” ekstra klasse nie. Daar is n yslike verskil tussen die twee maar die studie skeer hulle deur dieselfde kam.

Stormrider ·

My kinders in gr4 en gr8 kry albei ekstra Wiskunde en behaal konstant tussen 93% en 98% elke kwartaal.
Afrikaanse spelling is op hierdie stadium ‘n baie groter probleem. Ek het daagliks kontak met gegradueerdes en kinders wat glad nie meer kan spel nie. Ons gaan vliek vandag dis darm lekker, of my gunsteling : ons waardeur jou insete

Amanda ·

Kyk ‘Finland Education success’ op you tube.

My dogtertjie was in n duur goeie naskool waar hulle, hulle boudjies afgewerk het en ekstra van alles gedoen het. Sy was egter n emosionele wrak.

Ek sit haar toe in n goedkoop naskool waar hulle huiswerk klaar maak en speel. Haar punte het opgegaan en sy is baie meer ontspanne.

Less is more.

Carina ·

Verstaan ek reg? Hoe meer tyd aan huiwerk spandeer word, hoe laer is die punte. Dus: Geen huiswerk, 100% ( of baie naby daaraan?? Ek glo BAIE skoolkinders gaan dit toepas.

AN ·

Dit sal interessant wees om verdere inligting te he:
Was die steekproef getrek vir all wiskunde leerlinge of slegs die wat lae punte kry en swak presteer?
Was dit slegs die onderpresteerders wat swakker gevaar het na ekstra klasse of het die goeie presteerders / die bogemiddelde presteerders ook swakker gevaar?

Megan ·

As ouer van n graad 12 dogter kan ek nie regtig se ek stem saam met die artikel nie. My dogter kry al vir jare ekstra lesse by Master Maths. Sonder hierdie lesse sou sy sekerlik na wiskundige geletterdheid toe moes geskuif het. Haar punte was voor die lesse 40%, maar het 70% vir haar Junie eksamens behaal. Die tutors wat haar help weet presies wat haar benodighede is en help haar ook dadelik as sy n vraag het. Ouers moet net seker maak dat hulle kwaliteit lesse met individuele aandag kies en ook hul navorsing doen.

Michael ·

Haan, vat dit van n master maths tutor en iemand wat wiskunde (nie ingeneurswese nie maar wiskunde) studeer, dat master maths als behalwe n’ computer program is. Die program is daar om leeders te kry om die werk te doen en nie net op te neem wat n’ onderwyser se nie. Waar ek werk is daar meer ou vraestelle van n verskeindenheid van skole oor n baie lang tydperk as wat daar in meeste skole is. Waar ek werk glo ons dat wiskunde nie n leer vak is nie. Al my studente weet as hulle by my aankom werk ons, ek kyk na elkeen van hulle as persoon en help hulle met die konsepte waarmeer hulle sukkel, iets wat nie altyd gebeur by die skool nie.

Ek het laas jaar vir 6 matrieks klas gegee en hulle punte was ongeveer 20% hoor as wat dit was toe hulle by ons begin het (met die hoogste 93%). Ek het n passie vir wiskunde en ek dra dit oor aan my studente, waar n onderwyser nie noodwendig die selfde het nie (hulle het wiskunde net tot op tweede jaar by die Universiteit).

Wiskunde is anders vir elke persoon want elke persoon dink anders, n’ goeie onderwyser/tutor maak die liefde vir wiskunde binne jou wakker deur om jou denk wyse, jou manier te vat en dit te laat goei.

Dit hang absoluut van die onderwyser/tutor af, ongeag waar jy werk om die vuur binne die student aan te steek,

Gerda ·

Die persoon wat die studie gedoen het, het seker te veel ekstra klasse geneem…
Dat Solidariteit sulke swak navorsing doen en dit dan nog publiseer vir almal om te lees, maak my eintlik bekommerd.
En dis baie onverantwoordelik om sulke artikels te plaas as julle weet hoe maklik baie mense alles glo wat hulle lees sonder om daaroor te dink.

AmY ·

Ekstra Wiskundeklasse het nooit niks vir my gedoen nie. Ek het dit steeds deurgeskuur. Ek het my bes probeer, maar niks het gehelp nie.

Ek praat nou van die 80’s waar die onderwysers nog GRATIS klasse ná skool aangebied het. Ek het baie goeie onderwysers gehad, maar Wiskunde was ‘n ‘snap-vak’, en ek kon dit nooit snap nie.

Marsha ·

ABSOLUTE NONSENS My seun het hom as wiskunde onderwyser aan die Universiteit van Stellenbosch bekwaam.Hy was elke jaar die beste presteerder in sy klas.

Raai wat !! Hy kan NERENS ‘n pos kry nie. So asseblief hou op om te vertel dat daar moet meer wiskunde onderwysers opgelei word terwyl daar reeds genoeg van hulle is sonder ‘n werk.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.