Hoërskool Volksrust rou ná jong rugbyspeler sterf

Hoërskool Volksrust

Hoërskool Volksrust

Mej. Suid-Afrika, Rolene Strauss, het op Facebook haar meegevoel betuig aan haar alma mater nadat ʼn kranige rugbyspeler van Hoërskool Volksrust Saterdag tydens ʼn rugbywedstryd skielik van borspyn begin kla het en later in die hospitaal oorlede is.

Hannetjie Buitendag, die skool se adjunkhoof, het Woensdag aan Maroela Media gesê die skool hou Donderdag om 12:00 ʼn gedenkdiens vir Siphelele Mhlambi by die skool. Sy begrafnis vind Saterdag in Vukuzakhe plaas.

Mhlambi, wat vir die skool se o.14-rugbyspan gespeel het, het tydens ʼn wedstryd teen Hoërskool Hoogenhout van Bethal paramedici genader en oor erge borspyn gekla en gesê hy sukkel om asem te haal. Die skeidsregter het besef die situasie is ernstig en het versoek dat hy met ʼn ambulans na die hospitaal geneem word.

Siphelele Mhlambi

Siphelele Mhlambi

“Mhlambi is met ʼn draagbaar van die veld af gedra en hy het gekwyl,” het Jan Ferreira, skoolhoof van Hoërskool Volksrust, in ʼn verklaring gesê.

Hy sê die skeidsregter het die lynregters genader en hulle het al twee bevestig daar was geen vuilspel of enige voorval vooraf wat moontlik tot ʼn besering kon lei nie.

Die tiener is met die ambulans na ʼn dokter gehaas wat skaars 1 km van die skool af is. Mhlambi se hart het reeds gaan staan en hy het ophou asem haal toe hy by die dokter aangekom het. “Die dokter en paramedici kon daarin slaag om hom weer by te bring terwyl reëlings getref is om hom na die Newcastle MediClinic te neem vir gevorderde behandeling,” het Ferreira bygevoeg.

Ferreira het intussen die seun se ouers geskakel, maar kon slegs sy ma opspoor. Sy het verduidelik sy het nie vervoer nie en gesê sy sukkel om ʼn minibustaxi te kry om haar Newcastle toe te neem. Ferreira het opdrag gegee dat iemand haar met die skool se voertuig na die hospitaal toe neem, maar Mandla Khubeka, die eienaar van R & LU Security wat ook die betrokke ambulansdiens bedryf, het aangebied om die ma met die maatskappy se voertuig na die hospitaal te neem.

Die ma was net betyds by die hospitaal om haar kind te kon groet voor die masjiene, wat hom aan die lewe gehou het, afgeskakel is omdat hy toe reeds breindood verklaar is. Die pa, ʼn onderwyser in Newcastle, het kort ná haar by die hospitaal opgedaag.

Buitendag het gesê ʼn nadoodse ondersoek het bepaal dat Mhlambi weens ʼn longkwaal oorlede is en dat sy dood nie met ʼn rugbybesering verband hou nie.

Ferreira het ook namens die skool sy innige simpatie aan Mhlambi se familie betuig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

AmY ·

Dis baie hartseer. So jonk en hy is dood. Ek hoop maar hy het nie allerhande middels gedrink om beter te kon presteer nie.

Selfs onskuldige middels kan tot die dood lei. Hopelik sal die nadoodse-ondersoek antwoorde bring.

My hart gaan uit na sy vriende en familie.

Chalsey ·

Amy, in die berig staan dat die nadoodse ondersoek vas gestel het dat hy van n longkwaal dood is. Daar is geen rugbybesering of enige verbode middels betrokke nie. Dit kon n jaar terug of oor n week gebeur het. Was ongelukkig net n kwessie van tyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.