AfriForum het vandag ’n hofbevel teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) bekom ten einde die vuurwapensyfers wat die burgerregte-organisasie in ’n aansoek van die SAPD aangevra het, te bekom.
Kragtens die hofbevel is die PAIA-aansoek na die polisie terugverwys en is die polisie verplig om binne 60 dae dié inligting aan AfriForum te verskaf of wesenlike redes te gee waarom hulle dit nie kan doen nie.
AfriForum was vandag weer in hierdie verband in die Noord-Gautengse hooggeregshof na aanleiding van dié aansoek in terme van die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting, 2000 (wetno. 2 van 2000) wat versoek dat die SAPD die syfers van hoeveel staatsgeregistreerde vuurwapens ingevolge die polisie se bateregister tussen 2009 en 2014 deur hulle verloor of by hulle gesteel en teruggevind is, bekend maak, asook dieselfde syfers ten opsigte van die sentrale vuurwapenregister.
Dít volg nadat die staat se regsverteenwoordiging op 22 Mei 2017 onvoorbereid by die hof opgedaag het en die saak tot vandag uitgestel moes word. Regter Hennie de Vos het die SAPD se advokaat geroskam onder meer omdat hy onvoorbereid was en nóg die staatsprokureur nóg ’n verteenwoordiger van die polisie in die hof teenwoordig was. De Vos het ook aan die SAPD se advokaat gesê dat die reg en hofreëls van toepassing is op almal, of hulle vir die staat werk of nie.
Die regter het ook beveel dat die polisie AfriForum se regskoste moet betaal.
“Dit is ’n groot oorwinning vir AfriForum en landsburgers, omdat die bekendmaking van hierdie syfers die burgerregte-organisasie in staat sal stel om burgers se veiligheid te help bevorder,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.
“AfriForum gaan met hierdie syfers die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) versoek om ondersoek in te stel na die polisie se nalatige verlies van vuurwapens,” het Hein Gonzales, regs- en risikoadviseur vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
38 Kommentare
As wettige vuurwapen eienaar en iemand wat graag nog wapens wil bekom (lees traditional weapons) verwelkom ek hierdie uitspraak. Nou sal die anc uiteindelik sien waar die probleem lê, nie by wettige eienaars nie, maar by onbeholpe staatswapendraers. Dankie Afriforum, julle besef nie hoeveel julle vir ons doen nie. Ek is nou al drie jaar ‘n Afriforum lid, en raak elke dag trotser daarop!
Wat was die uitkoms van die hofsaak wat op 27/04/2017 in die hof was i. v. m met die vuurwapen register en hernuwings. Kan iemand my inlig met verwysings. Dankie
Goeie werk, AfriForum. Dit sal ongelukkig steeds geen lig werp op die aantal ongelisensieërde AK-47’s, R5’e, ens. in omloop nie.
Baie dankie!! Ek is trots op julle!!! Reg en geregtigheid moet en sal altyd reg wees! Ons sal ook graag nog van hierdie vuurwapens wil bekom!
Katryn, daar is nie ‘n manier wat jy van die vuurwapens gaan kry nie, dit word gebruik vir plaasmoorde en rooftogte!!