Hof gevra om POF te likwideer, in te gryp oor hoof

Foto: Verskaf

Die balju het die week in Pretoria op roerende bates soos rekenaars en kantoormeubels van die Padongelukkefonds (POF) beslag gelê. Dit volg ná ’n regsfirma ’n dringende aansoek in die hooggeregshof gebring het om die Fonds te likwideer.

Terselfdertyd het ses prokureursfirmas regsaksie ingestel teen die minister van vervoer, Fikile Mbalula, oor die onlangse aanstelling van Collins Letsoalo as die uitvoerende hoof van die Fonds. Letsoala het sedert verlede jaar in die pos waargeneem en is die vierde verweerder in die saak.

Die firmas is deel van ’n paneel wat namens die POF optree en dit van regsadvies bedien. Die fonds vergoed die slagoffers van padongelukke vir verliese of skade wat deur die onregmatige bestuur van voertuie veroorsaak is. Volgens stukke voor die hof, beloop die fonds se uitstaande betalings aan slagoffers tans meer as ’n miljard rand.

Die hofdokumente beslaan 359 bladsye en beskryf die prosedure wat Mbalula met Letsoalo se aanstelling gevolg het as “irrasioneel en grondwetlik ongeldig”. En verwys na soortgelyke poste wat Letsoalo by ander staatsinstellings gehad het as “rampspoedig”. Dit sluit in bestuursposte by die Padverkeerbestuurskorporasie (PVBK/RTMC) en die Passasierspooragentskap (Prasa).

By Prasa het hy as waarnemende uitvoerende hoof aan homself ’n 350%-verhoging toegeken wat sy jaarlikse salaris na R5,9 miljoen verhoog het, aldus die verklaring van Kabelo Malao, ’n prokureur van K. Malao Ingelyf wat die eerste applikant in die saak is.

In sy verklaring sê Malao dat Mbalula se aanstelling van Letsoalo gebrekkig was omdat hy bewus was van sy slegte prestasiegeskiedenis by ander instansies en dat die advertensie vir die pos aangepas is om vir Letsoalo se mindere kwalifikasies voorsiening te maak. Aansoekers het ook slegs sewe dae gehad tydens vlak 5 van die afsonderingstydperk om vir die pos aansoek te doen wat slegs in een koerant geadverteer is.

Collins Letsoalo. Foto: ANA

Letsoalo het, sedert hy by die Fonds aangestel is, glo begin om betalings vir 180 dae terug te hou terwyl die voorgeskrewe tydperk 14 dae is. Daar word ook gereeld verstekvonnise teen die Fonds geneem omdat die regsfirmas wat wettig op die paneel aangestel is, nie meer gebruik word nie.

Die dringende aansoek om likwidasie is deur Maponya Prokureurs gebring wat, soos die ander ses regsfirmas, ook op die paneel is wat die Fonds verteenwoordig en van advies bedien. Die respondente in dié saak is die POF en minister Mbalula.

Die firma se direkteur en medevoorsitter, Baitseng Rangata, sê in die aansoek dat die Fonds nie in staat is om sy skuld aan regsfirmas te betaal nie. Dit het veroorsaak dat krediteure onder meer lasbriewe vir eksekusie teen die Fonds uitgereik het om die skuld te verhaal wat veroorsaak dat die Fonds se ander krediteure benadeel word.

Volgens Rangata se verklaring is die Fonds se eie weergawe dat dit glo “hopeloos feitelik en kommersieel insolvent is sonder enige vooruitsig dat die finansiële ellende gaan verbeter”.

Die POF skuld Maponya Ingelyf na bewering meer as R20 miljoen aan regskoste en die firma het sedert Maart 2020 geen betaling ontvang nie.

“Dit het veroorsaak dat die firma se werknemers tans finansieel uiters swaar kry en vier kantore moes reeds gesluit word,” sê Rangata. “Die vernietigende gevolg is dat advokate agter geraak het met hul betaling aan professionele liggame soos die balie, en derhalwe moes die Pretoria Vereniging van Advokate uiteindelik ook hul praktyke sluit.”

Sy verwys na die POF se 2018/2019-jaarverslag waarvolgens vrugtelose en vermorste uitgawes sowat R18 miljoen en onregmatige besteding sowat R7 miljoen beloop het. Die fonds was ook gemiddeld R11,3 miljard per maand agterstallig met die uitbetaling van eise wat reeds afgehandel was.

’n Netto tekort van R262 miljard is dié afgelope boekjaar aangeteken. Om alles te kroon, het die Fonds onlangs ’n persoon as waarnemende hoof van finansies aangestel wat ’n BA-graad in kommunikasie en mediastudies het.

“In alle regverdigheid, as hierdie aanstelling ’n aanduiding is van die maatreëls wat die Fonds tref om hul finansies om te keer, dan is daar nie redelike hoop dat hul die verwagte uitkoms gaan kry nie,” sê Rangata.

Die saak sal in Oktober voor die hof dien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die ANC se grap fabriek floreer te lekker. Geld val mos uit die lug uit. Wat kan mens se if you must sit down before you get in.

Willem ·

Ja verklaar fonds bankrot en verlaag die petrol prys dadelik. Ons kan nie so maatskappy net instop nie

Casper ·

Letsoalo het oral waar hy gaan doodgemaak.Hoekom is die vereistes vir die pos verslap en hy toe aangestel is.Is die minister nie ook aandadig aan die “onwettige”aanstelling nie

Simon ·

Sedert hulle agter gekom het die aarde eindig nie by die noord of suid sentraal-afrika horison nie, plunder hulle alles wat oor hul pad kom.

Pieter ·

Als wat julle ANC kommuniste aan raak verander in n gemors

amapinki ·

Die dag toe al die kundiges weggejaag is vir “demografiese verteenwoordiging”, moes ons geweet het hier kom groot marakkas.

amapinki ·

Wat gaan gebeur met al die mense wat afhanklik is van daai inkomste? Hulle is verlam ens. en het mense in diens wat betaal moet word. :'( Besef hierdie mense wat hulle doen aan ander?! Hoe kan toegelaat word dat dinge tot op so ‘n punt kom? My hart gaan uit na onskuldiges wat weereens gaan ly as gevolg van ander se korrupsie/wanbestuur!

Sarel ·

Kyk na Mbalula se erfenis: 1. Minister van Sport???? Wat het hy nagelaat? 2. Adjunk en Minister van Polisie???Wat het hy gedoen of nagelaat?? 3. Minister van Vervoer….Taxibedryf??? Prasa?? Transnet?? En nou POF. Hy is nie bevoeg om enige van genoemde Departemente te hanteer nie, wat is volgende?

Jakes ·

Is dit werklik nuuswaardig? Alles wat ondersoek word is besmet met korrupsie en bedrog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.