Hof hoor gru-besonderhede oor moord op Kaapse vrou

Waarskuwing: Die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Kyle Ruiters (foto: Skermskoot/eNuus-video)

Kyle Ruiters (28) het beslis psigopatiese eienskappe en moet tot ʼn gevaarlike misdadiger verklaar word.

Ruiters is Dinsdag in die hooggeregshof in Kaapstad skuldig bevind aan die moord op Lynette Volschenk (32) in Augustus 2019. Ruiter is ook skuldig bevind op aanklagte van lykskending en poging tot regsverydeling.

Die staat het intussen versoek dat Ruiters na die Valkenberg- psigiatriese hospitaal verwys word vir 30 dae lange waarneming nadat ʼn aanvanklike verslag van dieselfde instansie verklaar het dat hy “beslis psigopatiese eienskappe” het. Indien hy skuldig bevind word, moet die hof in kennis gestel word dat hy as ʼn gevaar vir die fisieke en geestelike welsyn van ander verklaar kan word soos gestel in artikel 286A van die Strafproseswet.

Volschenk is wreed vermoor in haar woonstel in die Seesig-woonstelgebou in Welgemoed in Bellville.  Haar liggaam is opgekap en in swart sakke geberg.

Adv. Louise Friester, staatsaanklaer, het gesê die hof moet ná ontvangs van die verslag oortuig wees dat Ruiters ʼn gevaar inhou en dat die gemeenskap teen hom beskerm moet word voordat ʼn gepaste vonnis opgelê word. Sodra hy tot ʼn gevaarlike misdadiger verklaar word, sal hy ʼn onbepaalde tydperk in die tronk deurbring voor sy toestand ná ʼn tydperk geassesseer moet word om vas te stel wat sy gemoedstoestand is en of hy steeds ʼn gevaar vir die samelewing is.

Volgens Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het Ruiters in sy skulderkenning aan die hof gesê hy is ʼn dwelmgebruiker en het sy dwelmhandelaar R30 000 geskuld. Laasgenoemde het hom met ernstige gevolge gedreig as hy nie betaal nie. Hy het ʼn plan beraam om iemand te vermoor ten einde hul waardevolle items te steel en dit te verkoop om sy skuld te betaal.

Ruiters het aanvanklik verskeie moontlike slagoffers geïdentifiseer waarna hy hul bewegings begin volg het en alles moontlik oor hulle uitgevind het. Hy het ook hul sosialemedia-aktiwiteite dopgehou. Hy het dieselfde met Volschenk gedoen en aantekeninge gemaak van sy voorneme om haar te vermoor. Hy het selfs ʼn boodskap vir haar familie en vriende opgestel ingeval hulle haar kom soek. Hy het nie die boodskap geplaas nie, maar dit wel op sy foon gehou.

Lynette Volschenk (Foto: Facebook)

Op die middag van 21 Augustus 2019 het hy gekyk hoe sy na haar woonstel wat bo sy eie geleë is, gestap het, vir haar gewag toe sy haar woonstel oopmaak en haar na binne gevolg. Hy het ʼn mes op die toonbank gegryp en haar verskeie kere in die nek en lyf gesteek. Hy het besluit om haar liggaam op te kap in ʼn poging om daarvan ontslae te raak.

In ʼn vroeëre psigiatriese verslag is daar aangevoer dat Ruiters aan psigiaters gesê het dat hy gefassineer is deur reeksmoordenaars, en dat hy baie navorsing in die verband gedoen het. Hy het onder meer navorsing oor Ted Bundyen, die sogenaamde Zodiac Killer, gedoen.

Ruiters het ʼn handsaag wat hy in die woonstel gekry het, gebruik om Volschenk se liggaam op te sny. Hy het haar kop in ʼn rugsak gesit en daarvan ontslae gaan raak in die veld langs Jip de Jager-rylaan. Hy is toe na ʼn hardewarewinkel waar hy ʼn stel geel handskoene en ʼn saag gekoop het. Hy het aan die hof gesê nadat hy haar liggaam in nege dele opgesny het, het hy die liggaamsdele na sy woonstel geneem waar hy dit in koelbokse en swartsakke geplaas het. Ruiters is hierna terug na Volschenk se woonstel om van die bloed en ander bewysstukke ontslae te raak.

Volschenk se kollegas het bekommerd geraak toe sy nie by die werk opgedaag het nie. Hulle het ʼn inwoner in die woonstelblok genader wat na haar gaan soek het. Sy het die veiligheidshek van die oorledene se woonstel oopgekry, met die voordeur gesluit, en gesien die oorledene se voertuig is nog in die parkeerterrein. Die inwoner het dit by die sekerheidsbeampte aangemeld wat daarna saam met die oorledene se suster, die inwoner en twee ander kollegas na die woonstel is.

Hulle het aan die deur geklop en Ruiters, steeds met die geel handskoene aan, het vir hulle oopgemaak. Hulle het hom gekonfronteer en hy het vir hulle gesê dat hy vir haar werk, en sy het hom betaal om haar woonstel skoon te maak. Daar was steeds bloed aan die mure en sommige liggaamsdele was nog binne die woonstel.

Hulle het die polisie gebel, en hy is in hegtenis geneem. Die polisie het swartsakke met die oorledene se liggaamsdele in sy woonstel gevind. Hy het die polisie mislei en hulle na ander tonele geneem waar hy beweer het dat hy van Volschenk se kop ontslae geraak het. Dit is om dié rede dat die klag van poging tot regsverydeling teen hom ingedien is.

Regter Robert Henny het die saak tot 9 Junie uitgestel en die beskuldigde meegedeel dat hy in aanhouding sal bly totdat ʼn plek by die Valkenberg- psigiatriese hospitaal beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Porseleintjie ·

Hy het presies geweet wat hy doen. Haarfyn beplan en voorsiening vir al sy duiwelswerk gemaak. Beslis nie ‘n impulsiewe daad gewees nie. Dis omdat sg afwykings as verskoning voorgehou word dat misdadigers skotvry daarvan afkom en die gehoorsame burger die vrot vrugte moet pluk.

domheks ·

Ek is ook nou mal. Gaan almal vermoor wat ek sien! More is ek vry op straat, want ewe skielik is ek nie meer mal nie.

Nettie ·

Ek is nou nie ‘n psigiater nie, maar hierdie klink vir my soos enige van SA se plaasmoordenaars. Hulle beplan wie en waar, hou die persoon dop vir ‘n paar weke en vermoor hulle wreedaardig, kamtig vir die geld en goedere. Is hulle dan nie ook almal psigopaties nie?

Hy kon by die woonstel ingebreek het terwyl sy by die werk was as hy net geld gekort het. Ek dink hy weet goed wat hy gedoen het, maar hy was absoluut verstommend lomp in sy uitvoering vir ‘n psigopaat. Hulle is gewoonlik baie intelligenter in hul wegsteek van die bewyse en om die polisie te ontwyk.

Hierdie man is nie die skerpste potlood in die moordenaars-blikkie nie, is hy?

Nettie ·

My innige simpatie aan die familie en vriende. Dit bly net ontsettend hartseer en onnodig en verskriklik. Mag God julle vrede gee na hierdie hofsaak.

Vernon ·

In die ou dae was dit nog die galg vir sulke gemors.Dit kos nou weer honderde duisende rande om hom mal te verklaar.

Blomkind ·

Hoe siel siek verby slegter as sleg moet jy wees om so iets te doen.

Martie ·

Sluit hom toe en gooi die sleutels in die diepste punt van die see weg!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.