Hof hoor oor lyfstraf tuis

grondwethof2

Die konstitusionele hof. Foto: Reint Dykema

Vryheid tot Godsdiens in Suid-Afrika (FOR SA) het Donderdag in die konstitusionele hof aangevoer daar is geen bewyse dat “redelike lyfstraf” tot geweld in ʼn samelewing lei nie.

Die burgerlike organisasie glo die uitspraak in 2017, dat dit onwettig is vir ouers om hul kinders pakslae te gee, “maak kriminele van ouers wat hul kinders liefhet en slegs die beste vir hulle wil hê”.

Adv. Reg Willis, vir FOR SA, het gesê die kriminalisering van matige lyfstraf van ʼn kind deur ʼn ouer sal nadelige gevolge inhou vir die eenheid van gesinne en die welstand van ʼn kind. Hy het gesê die organisasie vra nie die hof om ʼn uitspraak te lewer oor lyfstraf nie, maar eerder oor die reg van ouers om gematig fisies op te tree om hul kinders te dissiplineer.

“Ouers moet die reg hê om hul kinders groot te maak sonder dat die staat inmeng,” het hy aangevoer.

Regter Edwin Cameron het gesê dit is gewoonlik nie bekend hoe gereeld kinders pakslae kry nie en of dit op redelike of gematigde lyfstraf neerkom nie. “As dit deur ʼn wet toegelaat word, maak dit die deur oop dat ouers dié reg kan misbruik en oorboord kan gaan,” het hy gesê.

Willis het bygevoeg ouers het meer instrumente nodig om hul kinders groot te maak en daar moet riglyne wees waarvolgens straf uitgedeel mag word, byvoorbeeld dat dit nie tydens ʼn woedebui mag plaasvind nie.

Adv. Ngwako Maenetje, vir die departement van justisie en maatskaplike ontwikkeling, het gesê FOR SA se verweer oortree die beskerming wat die Grondwet aan kinders bied, insluitend hul reg op menswaardigheid en beskerming teen enige vorm van mishandeling. “Gegewe die geskiedenis van ons land en geweld teen vroue en kinders, moet die wet nie in enige vorm beperk word wat betref geweld en die bron van daardie geweld nie,” het hy gesê.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng wou weet hoe die samelewing probleme takel wat tans die land teister, soos skoliere wat onderwysers aanval. “Ek soek iets wat Suid-Afrika van geweld sal weglei. Watter pogings word aangewend om onderwysers in staat stel om positiewe dissipline toe te pas? Hou ons vas aan die idee dat positiewe dissipline uiteindelik in werking sal tree sonder dat ouers en onderwysers behoorlik toegerus is?”

Die saak duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

38 Kommentare

jongste oudste gewildste
Paul

Hoofregter Mogoeng Mogoeng, moet dit tog net nie gekompleseerd maak nie, moenie slim probeer wees nie, die antwoord is maklik: “Buig die boompie solank dit jonk is, of wat het jou ouers met jou gedoen?”

Faan

Uitstekende vraag van ons hoofregter. Die antwoord is eintlik baie eenvoudig. Gaan kyk wat gebeur in die natuur en leer daaruit. Olifante, leeus, ape, bobbejane, perde beeste ..elke spesie gebruik n mate van “geweld” om dissipline uit te oefen. Buig die boompie as hy nog jonk is. Doen dit met een doel en dit is om n beter kind vir die samelewing te gee. Verantwoordelike ouerskap. Ons is uiteindelik maar net nog n spesie in die natuur en moet waak daarteen om te probeer om n nuwe sosiale orde of manier te vind om die samelewing te orden.

jaco

wanneer jou kinders pak gee nou regtig onwettig word, twyfel ek of veel sal verander. 1. hoeveel kinders gaan nou polisiestasie toe stap om ‘n klag teen ma of pa te maak? Dis nie noodwendig net om die draai nie. dit kan 5 of 10 km ver wees. 2. daar aangekom sal hulle hoor “ons het nie ‘n voertuig om nou uit te kom nie” of “hiers niemand met wie jy nou kan praat nie”. (ek het daardie verskonings gekry toe ek sake VEEL ERGER as ligte aanranding wou gaan aanmeld) 3. Wat as dit jong klein wit of kleurling… Lees meer »

Willie

Met hierdie wet kan ‘n mens saamleef en dit voluit ondersteun. Sien die ding werk so. Veronderstel die boete is R1000 vir ‘n pakslae, dan sou dit vir pa R5000 gekos het om die outjie groot te kry. ‘n Baie goeie belegging. (kan elkeen van die pakslae nog onthou en waaroor dit gegaan het). Myself sou ook soveel per kind moes opdok, hulle onthou ook nog tot vandag presies waaroor dit gegaan het. Ook ‘n baie goeie belleging in hulle opvoeding. Wat mens egter teen is, (die wet voorsiening voor maak) is die ‘ouers’ wat heeldag en aldag aan die… Lees meer »

Essie

Ek doen of het gedoen wat my Bybel vir my gesê het en dis buig die boompie terwyl hy/sy nog jonk is