‘Hof moet sê oor omvang van Dlamini-Zuma se mag’

Argieffoto

Die hoogste hof van appèl moet uitspraak lewer oor die wetlikheid van die verbod op tabakverkope, en die beperkings uitstippel van die mag waaroor minister Nkosazana Dlamini-Zuma beskik, het die Fair-Trade Independent Tobacco Association (Fita) Dinsdag in hofdokumente gesê.

Fita doen aansoek om verlof tot appèl teen die Pretoriase hooggeregshof se uitspraak in Junie teen die verbod, waartydens die regering aangevoer het die verbod is noodsaaklik in die stryd teen Covid-19.

“Die minister [van samewerkende regering en tradisionele sake] is bemagtig om beduidende openbare mag uit te oefen vir die afsienbare toekoms. Die omvang van dié mag moet deur die hof bepaal word en die uitslag van die aansoek om verlof tot appèl sal ʼn direkte invloed het op die ekonomie en lewens van miljoene Suid-Afrikaners,” voer die organisasie aan.

“Die hof moet oor dringend duidelik rigting gee om te verhoed dat uitvoerende magte oorskry word. Die betrokke verbod en die omvang van die ministeriële bevel is ongekend in Suid-Afrika.”

Fita het dié verweer aangevoer in reaksie op ʼn repliek wat die minister Vrydag ingedien het en waarin sy enige oorskryding ontken.

Dlamini-Zuma is in haar amp verantwoordelik daarvoor om die regulasies in die Staatskoerant te publiseer wat met die ramptoestand verband hou in die stryd teen die Covid-19-pandemie. Sy is dus die wettige borg van die tabakverbod wat reeds 138 dae lank voortduur en tot grootskaalse woede gelei het oor die regering se benadering tot die krisis.

Die kern van die organisasie se aansoek om verlof tot appèl is die argument dat die Gautengse afdeling van die hooggeregshof versuim het om die behoorlike toets van noodsaaklikheid toe te pas, kragtens artikel 27 van die Wet op Rampbestuur, toe die verbod ingestel is. Dit vorm ook een van die pilare van die parallelle hofsaak deur British American Tobacco SA, die land se grootste sigaretvervaardiger, wat verlede week in die Wes-Kaapse hooggeregshof aangehoor is.

Die twee organisasies voer aan dat ʼn volbank regters van die Pretoriase hooggeregshof, toe hulle Fita se aansoek in Junie van die hand gewys het, effektief Dlamini-Zuma toestemming gegee het om die administratiewe wet van noodsaaklikheid te omseil. Die hof het aangevoer die minister het redelike stappe gedoen om lewens te red te midde van ʼn gesondheidskrisis.

Sinenhlanhla Mnguni, voorsitter van Fita, het Dinsdag in ʼn beëdigde verklaring die minister daarvan beskuldig dat sy die laer toets van rasionaliteit gebruik om die ongetoetsde feit te omseil dat die verbod daartoe gelei het dat rokers in groot getalle ophou rook het. Rokers het egter in miljoene eerder die swartmark genader om sigarette te koop.

Die organisasie voer aan die minister moet bewys dat die verbod absoluut noodsaaklik is om haar doelwit te bereik om die land se rokers te dwing om op te hou rook om te voorkom dat hulle ʼn las plaas op gesondheidsdienste as hulle erger simptome sou opdoen. As rokers nie opgehou het om te rook nie, het die verbod geen basis in rasionaliteit of noodsaaklikheid nie, het die organisasie gesê.

Adv. Alfred Cockrell, vir Batsa, het in die Kaapstadse hooggeregshof aangevoer die minister het self erken dat die mediese dokumente, waarop sy steun, toon nie ʼn beslissende verband tussen rook en die erns van Covid-19-simptome nie, en sy kan dus nie die hof oorreed dat die verbod noodsaaklik is nie. Die Kaapstadse hooggeregshof het uitspraak voorbehou.

Die hoogste hof van appèl sal na verwagting binne dae bepaal of Fita se aansoek om verlof tot appèl goedgekeur sal word of nie.

Die minister beskuldig die tabakbedryf daarvan dat hy sy eie finansiële belang probeer verdedig, eerder as regsbeginsels.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Debbie ·

Ek is nie ‘n roker nie, maar ek hoop die ouens kan hulle appel wen. Daar is miljoene mense wat hul werk weens die tabak en drankverbod verloor. Ek dink hierdie besluite wat geneem word is kwaadwillig en daarop uit om mense skade aan te doen. Sy, Zuma, voel vere. Sy kry haar volle salaris. Ek wens net al die mense in ons land se oe wil oopgaan en besef die ANC doen net goed om hulself te bevoordeel. Basta met die res van die land. Solank ons sakke vol is. Dit moet ophou. Ek wens hulle kan tot verantwoording geroep word.

Androclus ·

Dis ‘n feit dan dink hulle ,hulle is reg,sy’t miskien nog deel aan in daardie onwettige sigarette.

Pompies55 ·

Ndz is in my oë die lasgste vorm van pateties as wat jy kan kry!Kan sien wie was haar man!Sy hoort lankal in n tehuis vir fossiele!Ndz must fall!!!!!!!!!Cyril must fall!!!!!! Magashule must fall!!!!!!!!!!ANC must fall!!!!!!!!!!!

Persheks Adri ·

Hier sien ons self wat die feite is oor die rook verbod! Moet nie ons intelligensie onderskat nie en dis oor sy en haar kinders geld maak op swart mark en word steeds nie vervolg nie!!! Korrupte klomp en die verbod beter vinnig gelig word!

“Die minister het self erken dat die mediese dokumente, waarop sy steun, toon nie ʼn beslissende verband tussen rook en die erns van Covid-19-simptome nie, en sy kan dus nie die hof oorreed dat die verbod noodsaaklik is nie.”

Evert Philippus ·

Sy besef hoegenaamd nie wat die verbod aan rokers doen nie. Om “baas” te wees selfs oor CR geniet sy baie, die staat se belasting inkomste steur sy en die beversraad hulle geensins. Iemand maak baie geld en dit is nie die staat nie!

JohanR ·

Die dink is Johan ons het altyd geweet hulle is onbevoeg, maar dit het Covid-19 en ‘n krisis gevat om vir Suid Afrika te wys net HOE useless party ANC ministers is. En hulle word tussen R1.5 en R2 miljoen ‘n jaar betaal! Toe Covid-19 slaan was party ministers soos ‘n haas in kopligte…..ek is ‘n minister maar wat moet ek doen!

Mariana ·

Zuma wil haar wil op die land afdwing. Sy is kleinlik en magsbehep en die sogenaamde president stem net met als saam. Was sy dan nie hoeka die een wat gesê het knoffel werk vir vigs nie. Hoe kan mens haar vertrou om enige besluite te neem. Sy moet aftree met goue handdruk en gaan rus.

Poplap ·

Rook is verslawend, zuma moet my geld gee om op te hou rook. Ek kan nie net sommer ophou rook nie. Nou koop mens die poefies sigarette. Ek nog nooit so gehoes nie. Wens ek kon ‘n prok bekostig, dan sou ek haar in persoon dagvaar. Mense wat drank probleme het en wat gehelp wil word gaan na rehabs toe, nou verwag sy dat ons rokers net moet ophou. Ag haar boude man

Cornel ·

Die enigste ramp en pandemie wat ons land getref het is die vrot ANC

thai ·

Kar ongelukke [ sonder drank ] veroorsaak ook dat hospitaal beddens wat vol raak..ek sien nie dat karre verbied word nie…Taxis veroorsaak ook ongelukke.. maar Taxis doen wat hulle wil, wat nog te se van verbied hulle …die mense wat ken wat die virus gehad het, rook almal en hulle het amper niks simptome gehad nie. Ek rook ook en om rook te verbied is vir my belaglik

Esta ·

Natuurlik dink FITA aan hul finansies, hulle het werkers en hul gesinne om na om te sien, hulle dink ook aan die boere, hulle werkers en gesinne TANNIE NDZ!!!. Nie soos JY wat nie omgee vir haar medemens nie en alle ondergrondse finansies in haar sak wil druk…weet JY wat is werkskepping ? Dis iets wat julle van ons wegvat !!!

Danie ·

Wel die nuwe daggaregulasies is darem baie voordeliger.
Miskien moet almal maar hul brand verander.

Jack ·

In n land waar die beginsels van die demokrasie toegepas moet word deur n outokratiese regering kan jy slegs verwag dat eie belang hoogty sal vier. Die land word swak bestuur weens die eie gewin en almal is besig om hierdie selfde mentaliteit aan te neem as die korrekte manier om op te tree. Tragies as ons eers in die stroom beland het. Verdrinking is die land se voorland as die volk nie hul regte terugneem en beskerm nie want van die sogenaamde outokrate gaan jy niks kry nie.

Inkpot ·

Geen gerespekteerde maatskappy sal haar op die direksie of bestuur duld nie.
Hoe kan die kabinet nog enigsins na haar voorstelle luister?
Die Virodene skandaal in 1997 is nog een van haar omstrede besluite. Sy het ook vir die kabinet gelieg deur te sê dat die befondsing vir Sarafina afkomstig is van die EU.
Al haar omstrede besluite en bevindings maak ń bespotting van Suid-Afrika.
Is sy net bloot onbevoeg of moedswillig of albei?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.