Hof sê vandag oor OB se Estina-verslag

Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (Foto: ANA)

Die hooggeregshof in Pretoria lewer Maandagoggend uitspraak oor ʼn aansoek om openbare beskermer Busisiwe Mkhwebane se verslag oor die omstrede Estina-suiwelprojek in die Vrystaat ter syde te stel.

Die DA en die Raad ter Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet (Casac) het die aansoek oor die Vrede-suiwelplaas ingedien.

Die DA glo Mkhwebane se ondersoekende verslag na die suiwelprojek was ʼn toesmeerdery, omdat politici wat daarby betrek is nooit uitgevra is oor hulle betrokkenheid nie en dus meer noukeurige ondersoek vrygespring het.

Minstens R200 miljoen se staatsgeld, wat geoormerk was vir die ontwikkeling van opkomende swart boere in Vrede, is na Estina gekanaliseer. Estina word verbind met die omstrede Gupta-familie. Van dié geld is glo selfs gebruik om in 2013 vir ʼn weelderige Gupta-troue by die Sun City-oord te betaal.

Die partye het in Oktober aangevoer Mkhwebane het nie die ondersoek behoorlik gedoen nie en het versuim om senior politici, wat by die beweerde korrupsie en geldwassery wat uiteindelik die projek gekelder het betrokke was, te ondersoek.

Mkhwebane het bewerings afgemaak dat sy sekere inkriminerende bewerings uit ʼn voorlopige verslag oor die Estina-projek verwyder het. Dié verslag is deur Mkhwebane se voorganger, adv. Thuli Madonsela, opgestel. Mkhwebane het die verslag glo aangepas om ANC-lede in die Vrystaat te beskerm.

Mkhwebane het bevind die Vrystaatste departement van landbou was skuldig aan wanbestuur weens sy hantering van die projek. Sy het bevind onbehoorlike prosesse is gevolg en dat die tenderooreenkoms tussen die departement en Estina onwettig was.

Sy het aanbeveel dat die destydse Vrystaatse premier, Ace Magashule, deesdae die sekretaris-generaal van die ANC, tugstappe doen teen amptenare wat by die projek betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ne ·

Die skandes van die “kaders” word toegesmeer. Hoe dieper daar gedelf gaan word hoe meer skandes gaan uitkom. Hoekom betaal ons nog haar salaris? Hou dit op ace…

Wonder net ·

Haai siestog.
Die OB het aanbeveel dat Ace tugstappe teen die amptenare moet instel .
Was hy dan nie ook deel van die amptenare op daardie stadium nie?
Of is ek nou heeltemal veward?

Johan Pretorius ·

Sy is ook n baie swak aanstelling. In enige normale samelewing sou sy nooit aangestel gewees het nie . Sy behoort so gou as moontlik vervang te word indien Ramaphosa enige sukses wil behaal met enige vervolging van die baie skelms wat op vrye voet beweeg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.