Hofsaak oor Roedtan-plaasmoord gaan voort

Nico Janse van Rensburg (Foto: Facebook)

Die VF Plus is verheug dat die Mookgophong (Naboomspruit)-landdroshof die saak teen die verdagtes in die plaasmoord van Nico (Nicci) Janse van Rensburg in Oktober 2022 nie uitgegooi het nie.

Tydens die hofverrigtinge op 21 Augustus het die vier verdagtes se regsverteenwoordiger versoek dat die saak uitgegooi word omdat die staat volgens hom nie oor genoegsame bewyse beskik het om met die saak voort te gaan nie.

Die saak is uitgestel tot vandag.

“Die VF Plus het ná die hofverrigtinge op 21 Augustus die polisie se Waterbergse distrikskommissaris, genl.maj. Dikeledi Rebecca Mangena, versoek om te verseker dat die saak sorgsaam ondersoek word en enige uitstaande bewyse aan die staatsaanklaer voorsien moet word,” sê Marcelle Maritz, provinsiale leier van die VF Plus in Limpopo.

“Genl.maj. Mangena het haar kantoor beveel om die dossiere van die moord na te gaan om enige uitstaande inligting te identifiseer en beskikbaar te stel vir vandag se hofverrigtinge.”

Hierdie inligting is oorgedra aan die vervolgingsgesag wat aanbeveel het dat die ondersoek moet voortgaan en dat die beskuldigdes nie vrygelaat kan word nie.

Die hof het vandag beslis dat die saak sal voortgaan om verdere ondersoekwerk moontlik te maak. Dit moet by die volgende hofverskyning op 5 September voorgelê word.

Die verdediging het dié beslissing sterk teengestaan.

Boere het in Oktober 2022 opgeruk na Roedtan. (Foto: Reint Dykema)

“Die aanslag op boere is nie net tot nadeel van die boere, hul naasbestaandes en werkers nie, maar van die hele Suid-Afrika. Dit kom reeds oor dekades en die regering verseg bloot om dit tot prioriteitsmisdaad te verklaar. Die party sal die verrigtinge fyn dophou om seker te maak dat geregtigheid geskied.”

Janse van Rensburg is op 7 Oktober op sy plaas in die Roedtan-omgewing doodgeskiet. Sy lewensmaat, Veronica (Katryn) Grobler, en ʼn 15-jarige seun wat saam met hulle op die plaas gewoon het, is vasgebind. ʼn Huishulp het eers die volgende oggend op hulle afgekom.

Die hof het vroeër gehoor dat selfoonrekords minstens drie mans met die plaasmoord verbind.

Lesiba Solly Segwale, een van die beskuldigdes in die aanval op die plaas waar hy gereeld gaan melk koop het, word daarvan verdink dat hy die aanval “georganiseer het”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.