Hond gou op spoor van ietermago-stropers

Raven kon met behulp skenkings haar sosialisering- en opsporingsopleiding begin. (Foto: verskaf)

ʼn Nege maande oue hond, die allernuutste lid van die African Pangolin Working Group (APWG) se teenstropery-hondeenheid, het byna haar opleiding voltooi en sal binnekort begin help om ietermago-stropers in Suid-Afrika vas te trek.

Ietermago’s is weens grootskaalse stropery ʼn bedreigde spesie en is tans ook die soogdier wat die meeste gestroop word.

Raven, wat in Julie verlede jaar gebore is, kon met behulp van R85 000 in skenkings haar sosialisering- en opsporingsopleiding begin. Sy behoort binnekort ʼn sleutelrol in die teenstropingsinisiatief te speel, maar tot dan is haar dae propvol opleidingsessies.

“Ons is meestal reeds teen 06:30 by die opleidingshokke waar ons sekere dissiplines die dag moet bemeester,” sê Glen Thompson, teenstroperybestuurder en Raven se instrukteur.

“Op operasionele dae begin ons nog vroeër. Ek en Raven kry lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en verskeie ander eenhede by ʼn geskeduleerde ontmoetingspunt vir ʼn inligtingsessie. Terwyl Raven nog opgelei word, kom sy net saam om blootgestel te word aan die omgewing, maar soms word sy ingespan om ʼn ietermago op te spoor of ʼn verdagte agterna te sit.”

Raven en haar instrukteur, Glen Thompson. (Foto: Linkedin)

Volgens Thompson is verskeie vaardighede, ure lange opleiding en ʼn wil van staal noodsaaklik om ietermago-stropers aan te keer.

“Die doeltreffendheid van honde se opsporingsvaardighede kom dikwels neer op hul inherente dryfkrag, die oefenmetodes en die tyd en moeite wat aan hul opleiding afgestaan word.

“Oor die jare heen het ek gesien hoe sommige gemengde rasse hul take beter verrig as dié rasse wat net uit een ras bestaan. Ek soek altyd spesifieke eienskappe by ʼn hond wat verbeter kan word met ʼn goeie oefenprogram. ʼn Hond se dryfkrag kan nie aangeleer word nie, dit moet reeds inherent in hom bestaan,” sê Thompson.

Hoewel opleiding uiters belangrik is om Raven gereed te maak om haar take te verrig, is ʼn bietjie ontspanning en speeltyd ook belangrik.

“Ná die oggend se oefensessie speel ons die middag saam. Speeltyd is noodsaaklik om nie net ons verhouding te vestig nie, maar ook om haar te motiveer.”

Thompson sê Raven geniet dit om in die water te baljaar, te hardloop totdat sy moeg is en tyd saam met hom op die bank deur te bring terwyl hy televisie kyk.

“Sy is eintlik maar net soos enige ander nege maande oue hond, maar net met baie meer energie en vasberadenheid.”

van die African Pangolin Working Group (APWG) se teenstropery-hondeenheid het reeds talle ietermago’s gered. (Foto: Francois Meyer/APWG/Facebook)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Astrain ·

Dankie aan julle passie en vasberadenheid om die vernietigers te stuit!!!! Waar help ons? ????????

Pitbul ·

Pragtige dier. Ek mag verkeerd wees maar dit lyk nie vir my soos n skaaphond nie..

Pieter ·

Sterkte Raven. Pas op dat die Mad Hatter jou nie vra: “What is the difference between a raven and a writing desk?” Terloops, hyself ken nie die antwoord nie.

Jan ·

Hoekom gebruik hulle nie Boesman spoorsnyers nie. En sommer vir die renosters ook. Ek dink hulle sal baie meer effektief wees.

Toffie ·

Dis reg sy is ‘n Malinois, hulle is uitstekende snuffelhonde.

Karina ·

Raven en sy ander maters is noodsaaklik om hierdie werk te doen. Sterkte en mag daar nog baie skenkings kom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.