Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Nelspruit het Woensdag ʼn hond ingeneem wat twee maande gelede agtergelaat is nadat haar eienaars getrek het.
Nicki Milachowski, bestuurder van die hondehawe by die DBV, sê ʼn buurman het die hond, wat intussen Maya gedoop is, ingebring. Sy was in ʼn uiters verwaarloosde toestand toe sy by die DBV aangekom het.
Die DBV se veeartse het haar dadelik ondersoek en vasgestel dat sy omtrent 7 kg ondergewig is en dat haar energie- en ystervlakke ongelooflik laag is. Sy was ook met bosluise oortrek.
“Die veeartse het vir haar ʼn vitamien B-inspuiting en ontwurmingsmedikasie gegee. Sy is ook vir die bosluise behandel,” vertel Milachowski. “Sy word nou fyn gemonitor en gaan daagliks vir opvolgbesoeke by die veearts. Sy volg ook ʼn gespesialiseerde dieet om haar energie- en ystervlakke te laat styg.”
Intussen het die veeartse ʼn tumor op Maya se lyf ontdek, wat later met chemoterapie behandel gaan word.
“Sy lyk al klaar beter. Sy lig al haar kop op en loop al meer rond.”
Milachowski sê die DBV kry gereeld met sulke gevalle te doen, en soms kan hulle nie die diere red nie omdat hulle vir te lank verwaarloos gelaat is.
“Ons probeer als in ons vermoë om diere soos Maya deur te trek.”
Die DBV het op Facebook sy dankbaarheid betuig vir die mense wat reeds finansiële en kosbydraes gemaak het. Die organisasie doen ook ʼn beroep op die publiek om enige vorm van dieremishandeling so gou as moontlik aan te meld.
“Dit sal ons so gelukkig maak om Maya se klein, moeë lyfie en gebreekte siel te herstel en haar dan na haar ‘vir altyd huis’ te stuur.”
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
25 Kommentare
As jy nie eers vir ‘n hond kan sorg wat min werk is hoe kan jy vir ‘n mens omgee of sorg.
Bid liewerste vir genade, as ek vir krag bid, mag ek net dalk inni tjokkie sit. Flip dit maak my sooooo kwaad!!!
Watter tipe mens doen soiets aan ‘n onskuldige, afhanklike dier? ‘n Totale gebrek aan opvoeding! Dit maak my woedend!
Helene, ek voel ook so! Ek is net bly Maya kry nog ‘n kans en dat sy volkome sal herstel.
Party mense moet liewer nie diere aanhou nie.
Ek voel so jammer vir daai mense wat dit aan die hond gedoen se kinders. Wonder wat alles aan hulle gedoen word!