Honger skool toe… en weer só huis toe

(Foto: Lulama Songelwa-Beje/GroundUp)

Deur Sonia A Rao en Nombulelo Damba-Hendrik, GroundUp

Talle leerders by skole in die Oos-Kaap is desperaat honger en kry nie genoeg kos by die skool nie – ondanks ʼn voedingsprogram wat hulle moet voed.

Die departement van basiese onderwys het ʼn nasionale skoolvoedingsprogram om aan leerders maaltye by skole te voorsien. Talle skole sê egter die geld wat hulle ontvang is eenvoudig nie genoeg nie. Soms ontvang hulle boonop minder as die voorgeskrewe subsidie omdat leerders sonder geboortesertifikate nie in die toewysing ingesluit word nie.

Die amptelike toewysing van die Oos-Kaapse departement van onderwys is R3,05 per laerskoolleerder vir ʼn daaglikse ete, R3,65 vir hoërskole en R7,35 vir kleiner skole.

Alle skole ontvang 59 sent per leerder vir ontbyt.

Meer as 1,3 miljoen leerders het in die tweede kwartaal by die projek gebaat, teen ʼn koste van R408 miljoen, sê Malibongwe Mtima, departementele woordvoerder.

Die nasionale departement van onderwys bepaal dat maaltye in die skool se voedingsprogram proteïen, koolhidrate of stysel, asook vars vrugte en groente moet insluit.

Mtima sê skole het almal finansiering ingevolge die 2023-’24-begroting ontvang en geen skool het aangemeld dat hulle weens ʼn gebrek aan geld nie maaltye kon voorsien nie.

Corene Conradie, Gift of the Givers se Oos-Kaapse streekkoördineerder, sê egter sy het onlangs ʼn skool besoek wat veel minder as die R3,05 per leerder ontvang. Die skool, Toleni Primary naby Butterworth, het sowat 120 leerders.

Conradie sê talle van die skole in die provinsie wat sy besoek, kan net klein porsies pap bedien. Soms gee skole net ʼn lepelvol kos as maaltyd. Gift of the Givers word boonop oorval met oproepe van skole vir skenkings van vleis en groente om hul etes aan te vul.

“Dit is nie genoeg per kind nie,” sê sy.

Navorsing wys kinders wat nie genoeg energie en voedingstowwe inneem nie, kan ondervoed wees – en dit het fisieke en intellektuele gevolge.

Nontuthulezo Dawedi, skoolhoof van die Mfundweni Primary School in Ngqeleni, sê sy ontvang ook veel minder per leerder per dag vir maaltye. Dít omdat sommige van hul leerders, wat nie geboortesertifikate het nie, nie in die subsidie-toewysing ingesluit word nie.

Die bedrag is boonop hopeloos te min vir kos en die brandstof wat nodig is om dit gaar te maak; albei is peperduur.

“Ons het meer geld nodig sodat ons meer kos kan koop,” sê sy. “Die porsies is nie groot genoeg nie.”

Ontbyt vir die skool se nagenoeg 160 leerders is altyd ʼn klein porsie ontbytpap – sonder melk. Middagetes twee dae per week sluit in proteïen in die vorm van soppakke, of sardientjies. Die ander drie dae is daar geen proteïene nie.

“Hulle kom honger skool toe. En omdat die kos nie genoeg is nie, gaan hulle weer honger huis toe. Dit raak hulle geweldig. Hulle presteer nie soos hulle moet nie.”

Gr. 10-leerder Anathi Mathendela sê by haar skool kry hulle geen pap nie.

Leerder kry om 10:00 ʼn maaltyd: rys, sardiens en kool op Maandae en Woensdae; suurmelk (amasi) op Dinsdag; rys, hoender en chakalaka op ʼn Donderdag; en stampmielies en bone op Vrydae. Sy sê die porsies is te klein, met net ʼn enkele lepel rys.

“Die porsies is bitter klein en jy kan ook nie elke dag op ʼn maaltyd by die skool staatmaak nie,” sê Anathi.

Sy is een van vyf kleinkinders in haar huishouding. Hulle oorleef op maatskaplike toelae en daar is nie altyd genoeg geld vir ʼn vetkoek of ʼn ander eetding om saam te neem skool toe nie.

Anathi verlaat die huis kort voor 06:00 om betyds te wees vir haar busvervoer skool toe. Daar gekom, is sy reeds honger en moet sy wag tot 10:00 vir iets om te eet. Sy kom ná 16:00 weer tuis, weer honger.

Lusindiso Booi is ʼn gr. 4-leerder by die Cofimvaba Primary School. Hulle kry soggens pap en suiker, maar geen melk nie. Kinders wat laat kom, kry nie pap nie. Dit word om 07:00 bedien.

Om 09:00 kry hulle ʼn ete wat bestaan uit hoender, rys en kool, asook amasi, sardyne, hoenderlewer, of stampmielies en bone.

ʼn Onderwyser by die skool sê egter daar is nie genoeg kos vir almal nie omdat diegene sonder geboortesertifikate nie in die voedingsprogram ingesluit word nie.

“In my klas met 18 leerder het ses nie geboortesertifikate nie. En dit beteken hulle kry ook nie die kindertoelaag nie. Die kans is goed dat daar geen kos vir hulle by die huis is nie, wat beteken hulle kry ʼn enkele maaltyd hier by die skool.

“Dit is die hartseer werklikheid,” sê die onderwyser.

Gungqwana Junior Secondary School in Qumbu ontvang die volle toewysing van R3,05 per leerder per dag vir middagete, asook die 59 sent vir ontbyt vir sy 120 leerders, sê skoolhoof Lulama Songelwa-Beje.

Maar dit is steeds onvoldoende. Die winkels is ver en taxi’s is duur.

Die skool bedien elke dag pap en ʼn ete vir middagete wissel. Hoewel elke maaltyd groente en ʼn proteïen bevat, is die porsies baie klein.

Songelwa-Beje sê die meeste gesinne in die gebied is werkloos en maak staat op staatstoelae om te oorleef; maaltye by die skool is dus dikwels die enigste kos wat kinders kry – en hiervoor het hulle meer geld broodnodig.

“Dit is ʼn baie, baie moeilike situasie.”

  • Hierdie berig is oorspronklik deur GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

melaney ·

Tragies en so onnodig. Terwyl die regeerders se eettafels kreun. Een van die dae sal die arme mense self besluit om minder kinders te hê, net om kop bo water te hou.

Papsak ·

Dit is n skande om tot met kos by skole geld te maak gee vir kinders kos hulle is honger maar die hoog geledere se tafels kreun so swaar is dit van kos en lekker nye gepak dink nie aan n arm kind of mens nie skande

Waarnemer ·

Vra vir cyril en sy kaders waarom die ouers werkloos is.En vra hom ook om sy en sy kaders wie hulleself so dik vreet,die miljoene rande in hul bankrekenings met die kinders te deel.So maklik soos dit….die gemeenskap moet aanstaande jaar besluit of dit steeds die moeite en honger kinders werd is wanneer hulle weereens hulle stemme vir die huidige regerende party gaan gee.n7

Sarel ·

Wie ookal die Tariewe of Subsidie bepaal moet bewys dat hy/sy op daardie geld ‘n kan leef of voedsame ete kan lry

OU SAAR ·

Duidelik weet die mense wat die subsidie toestaan nie wat die prys van ordentlike voedsame kos is nie. Weet hulle wat kos ń brood deesdae?

Kokerboom ·

Niks werk ooit..vir 30 jaar al! ANC: And No Commitment
Maar stem vir hulle dit doen hul miljoene handpoppe! So. geen simpatie alhoewel jammer vir kinders

Mariana ·

Hoe ontneem mens ‘n kind van kos? Dit is mos net nie reg nie. Die fatcats in parlement vreet hulle dik met belastingbetaler se geld, maar kinders in ons land ly honger. Skande!!!!!

christo ·

Ek werk by ‘n skool i n Mpumalanga. Ek en my hoof sit gedurig vas oor onderwysers ook van die voorbereidee voedsel eet en die leerders kleiner porsies moet kry. Dit het al tot hewige argumente gelei. Die jong onderwysers koop duur Polo’s en moet dan noodgedwonge eet anders het hulle nie kos nie. Dis snert. Hulle kry ‘n salaris. Fluitjieblasers is die wat afgedank of doodgemaak word.

Andries ·

59 sent vir ontbyt. Dit is absoluut lagwekkend as in ag geneem word ‘n 10 kg sak aartappels is R170-00.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.