Huispryse aan Tuinroete skiet die hoogte in

Foto ter illustrasie van eiendom aan die Tuinroete. (Foto: Maroela Media)

Al meer mense wil hulle deesdae iewers op die skilderagtige Tuinroete vestig. Dié aanvraag het nou ’n tekort in die eiendomsmark én ’n skerp styging in die prys van eiendomme en grond meegebring.

Eiendomsagente sê Suid-Afrikaners sowel as internasionale kopers is besig om eiendomme op die Tuinroete, wat George en Mosselbaai insluit, op te raap.

Dit het daartoe gelei dat daar feitlik geen erwe meer op die Tuinroete te koop is nie.

Volgens Property24 is 6 693 eiendomsverkope op die Tuinroete in 2020 by die aktekantoor geregistreer. Die gemiddelde markprys het toe op R1,75 miljoen gestaan en die gemiddelde verkoopprys op R1,25 miljoen.

In 2021 het die getal eiendomsverkope tot 9 857 toegeneem, die gemiddelde markprys was R1,85 miljoen en die gemiddelde verkoopprys het tot R1,42 miljoen gestyg.

Verkope staan middel 2022 reeds op 4 407 en sal na verwagting in die loop van die jaar styg. Markpryse het reeds skerp gestyg tot gemiddeld R2,25 miljoen en verkoopspryse het tot gemiddeld R1,55 miljoen gestyg.

Antonie Goosen, hoof en stigter van Meridian Realty, sê die styging in die markprys is weens ’n daling in beskikbare eiendom. In Junie 2021 was daar 23 238 eiendomme op die Tuinroete te koop. In Mei vanjaar het die aantal eiendomme tot 15 078 gedaal.

Goosen wys daarop dat die tendens van semigrasie in 2016 momentum gekry het toe mense aanvanklik probeer het om na die metropole met die beste dienslewering te trek. Talle mense het toe na die Wes-Kaap verhuis.

Dit blyk egter ná die Covid-19-pandemie of mense die verkeer en geraas van die stad wil agterlaat en na ander dele van die land vlug op soek na ʼn beter lewenskwaliteit, veral aangesien baie nou van die huis af kan werk.

Die Tuinroete en ander kusdorpe beleef gevolglik ’n toestroming wat eindelik ’n tekort aan eiendom en onbeboude grond meegebring het.

Bert White van Meridian Realty, wat in George en langs die Tuinroete werk, sê daar is veral ’n tekort aan eiendomme wat genoeg spasie om van die huis af te werk, kwaliteit van lewe, natuurskoon en ander behoeftes bied.

Diegene is veral opsoek na drie- tot vierslaapkamerhuise.

Die gemiddelde markprys vir ʼn drieslaapkamerhuis is R2,75 miljoen terwyl die gemiddelde prys van ʼn vierslaapkamerhuis op R4,79 miljoen staan. ’n Huis met vyf of meer slaapkamers sal jou gemiddeld R5,98 miljoen uit die sak jaag.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

White sê George is veral gewild by mense wat na kusdorpe semigreer aangesien die dorp oor ’n lughawe, meer skoolopleiding, mediese dienste en groter dorpsgeriewe waaronder winkels beskik.

Een uit vyf kopers verhuis na George omdat hulle deesdae van die huis werk. Die meeste van die kopers is van Gauteng, gevolg deur Mpumalanga en die Vrystaat.

George spog as gevolg van die aanvraag nou met hoër mark- en verkooppryse. Die gemiddelde markprys staan tans op R2,29 miljoen ​​en die gemiddelde verkoopprys op R1,8 miljoen.

Goosen sê dit lyk of al meer mense huise opknap met sommige aftreehuise aan die buitewyke van George wat omskep word in huise om jonger gesinne te akkommodeer.

Geen erwe meer te koop

White wys daarop dat kopers reeds verlede jaar onbeboude grond óf in landgoedere óf vrystaande erwe begin koop het om eiendom van nuuts af te bou aangesien bou meer bekostigbaar was en die rentekoerse laag was.

“Feitlik al die erwe is vanjaar verkoop, behalwe ʼn paar in Blue Mountain Estate, Eden Residential Estate en Kraaiboschrif. Beperkte grond, gepaard met hoë boukoste, het veroorsaak dat kopers oorgeskakel het na die koop van ouer eiendomme met die oog daarop om dit op te knap.”

Tinka Dunker van Meridian Realty sê dieselfde neiging word in die omgewing van Mosselbaai opgemerk.

“Leë erwe in landgoedere soos Nautilus Lifestyle Village in Mosselbaai verkoop vir R1 miljoen en meer. Ons het onlangs ʼn eiendom in Nautilus verkoop en toe drie maande later dieselfde eiendom herverkoop met ʼn prysverhoging van R300 000. Dit wys hoe die vraag na eiendom die pryse opstoot.

“Die Pinnacle Point-gholflandgoed se pryse het ook rekordhoogtes behaal met kopers wat nie net plaaslik in die landgoed belê nie, maar ʼn groot persentasie van kopers is internasionale beleggers wat eiendom in die area koop.”

Dunker sê talle Suid-Afrikaners keer ook terug van die buiteland en koop dan eiendom in die omgewing van Mosselbaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

VaalDonkie ·

Buitelanders behoort nie eiendom te mag koop nie. Want dit prys die burgers uit die mark uit.

koos ·

Pragtig, huise verkoop te wonderlik, pryse skiet ten hemele. MAAR, my liewe leser, wil jy nou daar bly? Kan jy jou indink hoe die verkeer daar lyk, en dit word net erger? Geweldige rye by die winkels, met ongeskikte ex-Gautengers wat ongeduldig op hulle toeters lê omdat die infrastruktuur nie die toestroming kan hanteer nie. Nee dankie, geniet jy maar jou wonderlike uitsig en die vars lug, die verkeer word net beter hier in GP, slaggate of te not.

Nommer 7 ·

koos, dit is hoekom ek nie meer op Hartenbos vakansie gaan hou nie. Kan net sowel op P’n P se parkeerterrein hier in die stad gaan kampeer!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.