Hulde aan Dougie Dyers gebring

Die voormalige speler, afrigter, keurder en administrateur, Dougie Dyer. (Foto: Facebook)

“Wanneer dit by groot rolspelers in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rugby kom, staan ‘Oom’ Dougie se naam langs al die grotes.”

Só het Mark Alexander, president van die SA Rugbyunie, gesê nadat Dyers Dinsdag in die ouderdom van 86 oorlede is.

Dyers, die eerste kaptein van ʼn swart nasionale toerspan uit Suid-Afrika, was ook ʼn gerespekteerde afrigter, keurder en administrateur. Dyers was kaptein van die Federasie-vyftiental (Proteas) wat in 1974 met die Britse en Ierse Leeus kragte gemeet het.

“Hy was ʼn ware dienaar van die spel op alle vlakke, wat Suid-Afrika aangevoer het in ʼn tyd toe ʼn groot deel van die bevolking uitgesluit was om vir die Springbokke te speel.

“Rugby het ʼn sleutelrol in sy lewe gespeel en ek het niks anders nie as eindelose bewondering vir ʼn man wat vir ʼn baie lang tyd sentraal tot die spel was, in klub- en provinsiale kleure, groen-en-goud en later op oefenvelde en raadsale.”

Dyers het op 19-jarige ouderdom sy uniebuiging vir Parow gemaak en hom gou as speler en leier in die span gevestig voordat hy in 1961 na Walvisbaai verhuis het, toe hy gehelp het om ʼn rugbyklub in die dorp te begin.

Met sy terugkeer na Suid-Afrika ʼn paar jaar later het Dyers se gesin na Elsiesrivier in Bellville verhuis, waar hy by die Blue Birds-rugbyklub aangesluit het.

Blue Birds was deel van die Suid-Afrikaanse Rugbyfederasie en hulle het om die Silwerbeker gespeel.

Dyers het die Proteas aan die einde van 1971 aangevoer op ʼn toer van sewe wedstryde na Engeland en Nederland, waar hulle vier gewen het, twee verloor en een wedstryd gelykop gespeel het. ʼn Paar maande later, in Mei 1972, het hy die Proteas teen die toerspan van Engeland aangevoer, met die besoekers wat die wedstryd met 11-6 in Kaapstad gewen het, ʼn paar weke voordat hulle die Springbokke in Johannesburg geklop het.

Dyers het ook die Proteas teen die Britse en Ierse Leeus in Kaapstad in 1974 aangevoer, terwyl hulle ook die Luiperds in twee nie-amptelike toetse in Johannesburg en Port Elizabeth aangedurf het.

“Om die Proteas by geskiedkundige geleenthede soos hierdie te lei, plaas die groot rol wat ‘Oom’ Dougie in Suid-Afrikaanse rugbygeskiedenis gespeel het in perspektief,” het Alexander gesê.

Nadat hy ophou speel het, het Dyers met afrigting begin. Hy het die Proteas afgerig voordat hy in 1979 aangestel is om die SA Barbarians-span af te rig. Dr. Danie Craven het Dyers in 1983 ʼn posisie in die Suid-Afrikaanse Rugbyraad aangebied.

Van 1991 tot sy aftrede in 2002 was Dyers by die Westelike Provinsie Rugbyunie betrokke.

“As speler het ‘Oom’ Dougie nooit die erkenning gekry wat aan ander van sy tydgenote verleen is nie, maar dit het hom nie gekeer om sy drome na te streef en om te verseker dat ander se drome ook waar word nie.”

“Hy het ʼn groot stempel afgedruk op die spel waarvoor hy so lief was – as speler, nasionale kaptein, afrigter, keurder en administrateur. Hy het sy lewe aan Suid-Afrikaanse rugby gewy, en daarvoor wil ek hom graag eer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris ·

My innige simpatie aan wyle Oom Dougie se naasbestaandes met sy afsterwe .Ai ek het nog daai weeksmiddag op die radio na die wedstryd tussen die Proteas en die Leeus geluister.Dit was op die Goodwood Skougronde gespeel .Die Proteas het die Leeus alle “hel” gegee en fantasties gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.