Huldeblyke stroom in ná Michaelhouse-leerling skielik sterf

(Foto: Verskaf)

Een van die voorste private skole in KwaZulu-Natal is in rou gedompel na die skielike dood van een van sy leerlinge.

Zanda Cele (14), ʼn Graad 8-leerling aan die private skool Michaelhouse, is Donderdagoggend dood nadat hy “ligte griepsimptome” ervaar het.

Cele het glo Woensdagmiddag die skool se mediese fasiliteit besoek ná hy sleg begin voel het, het die skooldirekteur Anthony Clark in ʼn verklaring gesê wat op die skool se Facebook-blad geplaas is.

“Hy is in oorleg met ons skooldokter, dr. Poole, behandel. Hy het die nag in die siekeboeg deurgebring en ʼn rustige nagrus gehad,” lui die verklaring.

Volgens Clark was die seun Donderdagoggend op en wakker.

“Maar toe hy later weer sleg begin voel, is reëlings getref om hom na Hilton Life-hospitaal te neem. Hy het egter kort daarna ineengestort.”

Clark sê kardiopulmonêre resussitasie (KPR) is toegepas, maar sonder enige sukses.

“Ons betuig ons innige simpatie aan Zanda se familie in hierdie uiters moeilike tyd. Ons vra dat die skoolgemeenskap Zanda, sy gesin en die seuns van die skool met gebede sal bystaan terwyl hulle hierdie tragiese voorval verwerk.

“Gepaste reëlings sal getref word vir berading en ondersteuning vir ons seuns soos dit nodig is.”

Intussen het huldeblyke vir die jong seun op Facebook ingestroom.

Die Ashton International College in Ballito het hul innige meegevoel teenoor die hele skoolgemeenskap en veral die familie en vriende van Zanda Cele uitgespreek.

“Julle is almal in ons gedagtes gedurende hierdie ongelooflike moeilike tyd. Ek wens julle sterkte en ondersteuning toe.”

Hoërskool Durban (DHS) sê die hoof, personeel en seuns van DHS betuig hul innige meegevoel met die Michaelhouse-gemeenskap en die familie van Zanda Cele met sy tragiese heengaan.

“Woorde beteken nie veel in tye soos hierdie nie. Die lewe is so kosbaar en die dood so seer. Ons gemeenskap verstaan julle pyn en ons staan julle ​​by in hierdie tyd. Rus in vrede jongman.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.