Húlle is kandidate vir nuwe OB

Deur Kirsten Pearson en Kavisha Pillay, GroundUp

Die parlement het die kortlys van kandidate vir die pos van nuwe Openbare Beskermer (OB) bekend gemaak. Een van die kandidate lyk of hy moontlik nie aan die minimum vereistes vir die posisie voldoen nie, terwyl ʼn ander die direkteur van verskeie maatskappye is en moontlike botsende belange het, wys ʼn studie van Corruption Watch.

Die agt kandidate op die kortlys is: Adv. Kholeka Gcaleka, adv. Oliver Josie, landdros Johanna Ledwaba, Muvhango Lukhaimane, adv. Lynn Marais, prof. Boitumelo Mmusinyane, adv. Tommy Ntsewa en adv. Tseliso Thipanyane.

Die lang lys het die name van 38 kandidate bevat. Hier is Corruption Watch se bevinding oor die agt kandidate op die kortlys.

Adv. Kholeka Gcaleka

Gcaleka is tans die waarnemende OB nadat sy vroeër adjunk- openbare beskermer was. Sy het ʼn LLB-graad van die Universiteit van KwaZulu-Natal, ʼn meestersgraad in Kuberveiligheidsbestuur en ʼn meestersgraad in Regte. Sy het vantevore as staatsadvokaat en senior adjunkdirekteur by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gewerk. Sy was ook ʼn spesiale raadgewer vir verskeie ANC-ministers in die Zuma- en Ramaphosa-administrasie. Gcaleka voldoen aan die basiese vereistes vir die pos van OB. Sy is 2010 aangehaal as dat daar geen kommer moet wees oor die destydse nasionale direkteur van openbare vervolging, Menzi Simelane, se plan om die gespesialiseerde handelsmisdaadeenhede en batebeslagleggingseenheid te sluit nie. Dit het tot omstredenheid gelei omdat sy in daardie stadium die voorsitter was van die Vereniging van Staatsadvokate en haar opmerkings tot die bedanking van twee senior staatsadvokate gelei het.

In 2011 is Gcaleka aangewys as die aanklaer in die hoëprofielsaak teen Richard Mdluli. Dit het ook wenkbroue laat lig omdat sy ʼn aanklaer in die saak teen Glenn Agliotti was. Dié saak is van die rol geskrap omdat die staat nie ʼn prima facie-saak van moord teen die beskuldigde kon bring nie. In 2017 het ʼn getuie in die Mdluli-saak beweer dat Gcaleka hom probeer oorreed het om Mdluli as een van die skuldige partye te betrek. Daar was ook bewerings dat die vervolgingspan met die opname van die vergadering tussen die getuie en die advokaat gepeuter het.

In 2017, toe pres. Jacob Zuma vir Malusi Gigaba as minister van finansies aangestel het, is Gcaleka as sy regsadviseur aangestel. Dit was ʼn omstrede besluit, gegewe haar 2010-opmerkings van steun vir die herstrukturering van die strafregstelsel.

Ook in 2017 het senior amptenare van die tesourie aangevoer die instelling is “gekaap”. Hulle het onder meer aangevoer dat dokumente van ʼn forensiese oudit deur die destydse direkteur-generaal, Dondo Mogajane – na Eskom se steenkoolkontrakte met ʼn maatskappy wat vantevore deur die Gupta-familie en Duduzane Zuma besit is – eers na Gigaba se raadgewers, ook Gcaleka, gestuur is. Dit was glo selfs voor dit aan Mogajane gegee is.

Adv. Oliver Josie

Josie het onlangs bedank as bedryfshoof van die departement van handel, nywerheid en mededinging se mededingingstribunaal en dien tans as voorsitter van die departement van water en sanitasie se oudit- en risikokomitee. Josie het vantevore regsposte op uitvoerende vlak by die NVG, die polisie, die Standard Bank-groep, die Kaapstad-metro en die departement van ekonomiese ontwikkeling beklee.

Hy het ʼn BA in Politiek, ʼn LLB en BProc van Unisa. Josie het ook ʼn meestersgraad in Regte en Sakeleierskap van Unisa.

Hy voldoen aan die basiese vereistes vir die posisie van OB.

Landdros Johanna Ledwaba

Ledwaba is tans ʼn landdros en het ʼn BA-regsgraad en Bluris-graad van Vista-universiteit. Sy het ook bykomende regsopleiding ontvang. Voordat sy as landdros aangestel is, het Ledwaba hoofsaaklik as staatsaanklaer vir die NVG, en mees onlangs die batebeslagleggingseenheid, gewerk.

Sy voldoen aan die basiese vereistes om vir die pos in aanmerking te kom.

Muvhango Lukhaimane

Lukhaimane dien tans as waarnemende regter in die Gautengse hooggeregshof en het sedert 2013 die pos van pensioenfondsberegter beklee. Haar kwalifikasies sluit in ʼn BIuris, LLM in Arbeidsreg, ʼn nagraadse diploma in Sakestudies, ʼn nagraadse diploma in Finansiële Beplanning en ʼn MBA. Wanneer haar ondervinding in openbare administrasie in ag geneem word, voldoen Lukhaimane aan die minimum vereistes vir die pos.

Lukhaimane was in 2016 ook ʼn voorloper in die soektog na ʼn nuwe OB en is daardie jaar vir ʼn onderhoud genooi. Daar was egter kommer oor die tyd wat sy vir die intelligensiediens gewerk het.

Adv. Lynn Marais

Marais het ʼn lang loopbaan in die regsberoep en het ondervinding as advokaat, waarnemende landdros en verskeie posisies by Regshulp Suid-Afrika en ander regsfirmas.

Marais voldoen aan die basiese vereistes vir die posisie van OB wanneer haar saamgestelde ondervinding in die beroep in ag geneem word.

Prof. Boitumelo Mmusinyane

Mmusinyane het ʼn LLD in “Comparative Right to Adequate Housing”, ʼn diploma in Menseregte, ʼn LLM met spesialisering in Menseregte, en ʼn LLB. Hy het al verskeie poste beklee, insluitend adjunkdirekteur in die Regsfakulteit, as senior dosent in Privaatreg en as ondersoeker by die kantoor van die OB. Gegrond op Corruption Watch se ontleding van die kandidaat se CV, is die gevolgtrekking dat hy nie voldoen aan die minimum vereistes van die pos nie. Dit kan moontlik weens ʼn weglating op sy CV wees.

Adv. Tommy Ntsewa

Ntsewa is ʼn advokaat wat vir homself werk. Hy spesialiseer onder meer in korporatiewe bestuur, persoonlike beserings, kontrakte, arbeid, korporatiewe reg, die mynbedryf, strafreg, familiereg, grondwetlike en administratiewe reg. Hy het vantevore as regsadviseur vir die minister van samewerkende regering en tradisionele ontwikkeling en die kantoor van die Limpopo-premier opgetree. Hy het ʼn LLB en BIuris-graad van die Universiteit van Lausanne.

Hy voldoen aan die basiese vereistes vir die pos van OB.

In 2009 is hy gevra om as voorsitter van die Suid-Afrikaanse Geografiese Pleknaamraad te bedank ná dispuut oor die hernoem van ʼn gebied.

Ntsewa is ʼn aktiewe direkteur van Mohlodi Holdings, Etland Media en Ventramax Trading. Indien hy aangestel word, kan daar ʼn botsing van belange wees. Tydens die ondersoek- en onderhoudproses gaan dit dus belangrik wees om te bepaal by watter bedrywighede die maatskappye betrokke is. Doen die maatskappye sake met die staat? Speel hy ʼn aktiewe rol in die bestuur van die maatskappye? Indien hy as OB aangestel word, gaan hy by die maatskappye bedank?

Adv. Tseliso Thipanyane

Thipanyane het ʼn LLM in Internasionale Menseregte, Grondwetlike Reg, Strafreg en Administratiewe Reg van die Universiteit van Wes-Kaapland, asook ʼn LLM in Korporatiewe Reg van die Universiteit van Johannesburg. Hy het vantevore verskeie senior posisies by Hoofstuk 9-instellings beklee, waaronder die Menseregtekommissie (MRK) en die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kulturele, Geloof- en Taalgemeenskappe.

Thipanyane is in 2017 as bestuurshoof van die MRK aangewys en het ʼn termyn van vyf jaar uitgedien. Hy is tans die voorsitter van die Suider-Afrikaanse Instituut vir Reaktiewe en Verantwoordbare Regering, asook die hoofdirekteur vir koördinering in die kantoor van die sekretaris-generaal van die hoofregter.

Hy voldoen aan die minimum vereistes vir die pos van OB.

Pad vorentoe

Volgens Cyril Xaba, voorsitter van die ad hoc-komitee om ʼn kandidaat vir die pos van OB te benoem, is die volgende stap in die proses ʼn twee weke lange siftingsproses wat Dinsdag begin en tot 18 Augustus duur.

Tydens hierdie fase sal alle kandidate se geskiktheid ondersoek word en hul verwysings en kwalifikasies sal nagegaan word.

Hierna word onderhoude met die kandidate gevoer en die terugvoer bespreek.

Die komitee hoop om sy bevindings teen 31 Augustus aan die Nasionale Vergadering voor te lê.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wondermaarnet ·

“Gegrond op Corruption Watch se ontleding van die kandidaat se CV, is die gevolgtrekking dat hy nie voldoen aan die minimum vereistes van die pos nie. Dit kan moontlik weens ʼn weglating op sy CV wees.”

REGTIG? Hoekom was sy aansoek op die kortlys geplaas as hy nie voldoen aan die minimum vereistes nie?

JohanR ·

Asseblief kies iemand wat vir die mense van Suid Afrika werk en nie vir die regeerende party nie! Net die DA het met die heidige OB 7 jaar gelede gese sy is nie die regte kandidaat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.