Hulporganisasies in hoogste rat teen droogte

Een van Save the Sheep se talle werkskeppingsprojekte is die T-hemde met pittige temas wat verkoop word om inkomste vir boervrouens te genereer. (Foto: Facebook)

Mense is al moeg om te hoor van die droogte in die Oos- en Noord-Kaap. Dit is te verstane, want dit hou al vir baie jare aan, maar dit beteken niks goeds vir die uitgelewerde mense wat steeds van reën afhanklik is om kos op die tafel te sit nie.

Weens die uitgerektheid van die krisis raak die geesdrif onder die bydraers en hulpverleners minder. Die nood elders raak ook erger soos die ekonomie inkrimp en werkloosheid styg en boonop is die derde Covid-19-vlaag op ons.

Met die tyding van reën, en selfs oorstromings wat ʼn ruk gelede in die gebied voorgekom het, is daar ʼn sug van verligting geslaak omdat daar aangeneem is dat dit nou uiteindelik verby is, sonder om te onthou (of besef) dat die Karoo ’n enorme groot gebied is en dat groot dele nog geen (of hopeloos te min) reën gekry het om iets te beteken.

ʼn Ander hartseer werklikheid is ʼn paar gevalle van individue wat hulpfondse verduister het en hulself uit die proses verryk het. Dit is seker die vinnigste manier om mense te laat afsien om hul harte en beursies oop te maak.

Sommige gebiede gaan nou al in hul negende jaar in en die nood word by die dag groter soos die reën net langer wegbly. Hierdie word beskou as die ergste droogte in 220 jaar.

Dit gaan meer as een seisoen se goeie reën kos om weer iets van hierdie stuifgetrapte grond te maak. (Foto: Sybil Visagie)

“Dit het al ʼn paar keer gebeur dat ʼn boervrou my op ʼn Saterdagaand bel en sê haar man is nou net met die geweer by die huis uit. Sy weet nie of hy homself gaan skiet of die skape wat op hul laaste is nie,” sê Naudé Pienaar, adjunk-hoofbestuurder by Agri Noordwes en voorsitter van Manna vir die Boere.

“Daar is ook ʼn gemeente op ʼn dorp in die Noord-Kaap wat vier jaar laas nagmaal gehou het. Hulle het ons gebel om te vra of ons iemand kan stuur om dit vir hulle te gaan bedien.”

In ʼn ander geval was daar nie meer koffie in die huis nie en met huisbesoek wou die gesin darem iets vir die dominee voorsit. Al wat hulle gehad het was ʼn koppie warm water.

Sutherland se oudste boer is 84 en hy is genoop om steeds aktief te boer, want die droogte het reeds al sy pensioengeld ingesluk.

Waar daar voedselnood is, verkies Save The Sheep om die kospakkie by die tuinhekkie neer te sit, om die mense so min as moontlik verleë te laat voel. (Foto: Sybil Visagie)

Die droogte word in syfers omgesit as jy na die slagsyfers by ʼn slagpale soos die een in Williston kyk. Gemiddeld word daar elke jaar 80 000 skape geslag, maar verlede jaar kon die boere net 16 000 lewer.

Volgens die departement van landbou bestaan ’n ekonomiese eenheid in die skaapbedryf uit 1 200 ooie. Met soveel diere kan ʼn skaapboer ʼn gemaklike bestaan voer. In Sutherland se omgewing is die veld se drakrag 32 ha vir ʼn grootvee-eenheid. ʼn Skaap benodig dus sewe hektaar se weiding per jaar. Vir die ramme en ooie moet ʼn boer se plaas ongeveer 9 000 hektaar groot wees. Tans kan die boere net bekostig om hul kernkuddes van ongeveer 200 skape (met hulp) te voer. Dus het jy prakties gesproke ʼn plaas van 54 000 hektaar nodig om ʼn bestaan te maak.

Boere kan niks meer as net hulle kernkuddes oorhou nie. (Foto: Sybil Visagie)

“Sedert die eerste inisiatiewe ontstaan het om droogtehulp te skenk, het daar ʼn klomp mense ywerig aan die werk gespring, maar dit was nie gekoördineerd nie,” sê Pienaar. “Dit het gebeur dat trokke vol voer uit die Wes-Kaap noorde toe is en ander trokke weer uit die noorde al die pad na die suidelike dorpe toe gery het.”

ʼn Groep hulporganisasies het derhalwe bymekaargekom om onder een vaandel te werk sodat hul operasies en projekte meer doeltreffend uitgevoer kan word om, onder meer, kostes en tyd te bespaar en, baie belangrik, om dit meer deursigtig te maak.

Vandag werk Saai, Agri Noordwes, AfriForum en Caring Daisies saam onder die Manna vir die Boere-vaandel om droogtehulp na ʼn volgende vlak te neem.

“Ons het ook medewerkers wat verskillende bydraes lewer soos om voer te skenk of bymekaar te maak, of op wie se knoppie ons kan druk. Dit sluit TLU SA, Agri Mpumalanga, Boere in Nood, Vrystaat Landbou, Agri Gauteng, Gift of the Givers, Jak127 (wat staan vir Jakobus 1 vers 27), Save the Sheep en Agri Noord-Kaap in.”

Manna vir die Boere is aanvanklik in 2013 gestig met die yslike droogte wat die hele Noordwes lamgelê het. Daar het hulp uit verskeie oorde gekom en vragte voer van heinde en verre is na dié provinsie gestuur.

“Met die verwoestende brande in die Vrystaat in dieselfde tyd, het Manna vir die Boere weer verskeie ramporganisasies bymekaargekry om aan daardie boere hulp te verleen. Dit was baie suksesvol. Ons het in die eerste week 97 vragte voer afgelewer,” sê Pienaar, wat ook ʼn boer in Noordwes is.

Dié organisasie se lede werk hoofsaaklik in hul vrye tyd, maar ná die brande het hul werk nie opgeraak nie. Met die uitbreking van die droogte in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap wou hulle graag die mense help wat hulle in 2013 bygestaan het.

Boere wag geduldig met hulle bakkies en sleepwaens in ‘n ry by ‘n sentrale punt om voer te laai. (Foto: Facebook)

 

Nuwe werkwyse

“Om droogtehulp vol te hou vir die plekke wat steeds ná sewe jaar nog geen voldoende reën gehad het nie, het ons ons werkwyse aangepas,” sê hy.

“Ons werk nou as ’n gesamentlike onderneming saam om die skenkings en geld te bestuur en volgens ʼn stelsel waarmee ons mekaar verantwoordelik kan hou. Soos die wet voorskryf, kan ons ook ons boeke aan enige belanghebbendes beskikbaar stel.”

Manna vir die Boere kan egter nie so doeltreffend wees as hulle nie hulp op plaaslike vlak het nie.

“Dit het al baie gebeur dat ons ʼn klomp vragte voer – wat heeltemal te veel is – op een plaas aflewer en dan is daar ʼn plaas daar naby waar die behoefte net so groot is, maar niks gekry het nie.

“Ons het mettertyd met elke distrikslandbou-unie kontak gemaak, want hulle weet presies waar die nood en behoefte op sy grootste is. Op elke dorp is daar ook ʼn ramp- en voerkomitee wat behoeftes bepaal. Sodra ons die vraggroottes en hoeveelhede het, betaal ons die vervoerders volgens hul kwotasies om te gaan aflaai.

Die voeraflewerings geskied nou met beter koördinasie tussen die verskillende partye en boere kan na ‘n sentrale punt gaan om voer vir hulleself te laai. (Foto: Manna vir die Boere)

“Wat ook baie waardevol is, is ’n verwysingsnommer. Dit gee ’n aanduiding van wanneer die vrag gestuur is. Wanneer die vrag gestuur word, kry die skenker, vervoerder, betaler van die vervoer en ontvanger van die skenking dieselfde boodskap en verwysingsnommer. Dit maak dit, myns insiens, kontroleerbaar en deursigtig. Die skenker kan byvoorbeeld opvolg of sy skenking die regte mense bereik het. Dit maak ook betaling makliker omdat die betaler van die vervoerder die verwysingsnommer kan gebruik as ’n bestelnommer op die faktuur.

“Jy sal nie glo hoe vindingryk en slinks mense is om byvoorbeeld voer wat geskenk word, te laai voor ons daar is, of fakture vir betaling van vervoer vervals of misbruik om ons verkeerdelik of herhaaldelik te laat betaal nie,” sê Pienaar.

“Dit is wel ʼn reusagtige taak om die individue, maatskappye, organisasies en boere-unies te organiseer.”

Jak127

Jak127 is in 2008 in Klerksdorp geskep en strek vandag oor drie vastelande. Hulle bestaan uit sakemanne, dokters, ekonome en ander professionele mense wat behoeftes, humanitêre krisisse en rampe identifiseer en dan gefokusde projekte rakende die situasie beplan en van stapel stuur, deur hul vaardighede en ondervinding saam te sit.

Hulle het in 2016 in die Noord-Kaap betrokke geraak en ʼn kantoor in Calvinia gevestig.

“Ons het 10 dorpe in die Noordwes-Kaap geïdentifiseer wat swaar onder die droogte gebuk gaan,” sê dr. Charl van der Merwe, die besturende direkteur van Jak127.

“Dit is Calvinia, Vanwyksvlei, Brandvlei, Kenhardt, Loeriesfontein, Vosburg Carnarvon, Sutherland, Fraserburg en Williston.

“Ons het mettertyd geleer dat jy ʼn sterk verhouding met die plaaslike gemeenskap moet bou en gebruik dus rolspelers soos die boereverenigings, gemeentes en koöperasies om behoeftes te identifiseer en om met praktiese dinge soos logistiek te help.”

Soos die verskillende behoeftes in die onderskeie dorpe en gemeenskappe geïdentifiseer is, het Jak127 ʼn pasmaakprojek van stapel gestuur. Hulle dryf verskeie voedingsprojekte en het data aan matrikulante tydens Covid-19 verskaf.  Verder is hulle betrokke by die Karoo-dieselprojek, die Bid-vir-ʼn-boer-projek en was ook by die Vanwyksvlei-waterprojek betrokke. Hulle besoek outehuise en ondersteun hulle finansieel en het ook ʼn rolstoelprojek vir outehuise begin, waarvoor koeldrankdoppies ingesamel is.

 

Jak127 se voedselprojekte bring verligting in die dorpe in die Noord-Kaap wat die ergste deur die droogte geraak word. (Foto: Dr Charl van der Merwe)

Verder bied hulle kampe vir manne, vroue en plaaswerkers aan, koördineer gebedsaksies en besoek boere op hul plase om emosionele ondersteuning te verleen en om geestelike ‘voer’ af te lewer.

ʼn Uitsonderlike projek van Jak127 is KS2018, waardeur landbou-ekonomiese raad aan boere gegee word. Dit word deur landbou-ekonome met nagraadse kwalifikasies en meer as 20 jaar se ondervinding en kennis van boerdery in die Noord-Kaap behartig.

In samewerking met die Rooivleis Produsente Organisasie (RPO) Noord-Kaap en Sgri, ʼn landboukonsultasiemaatskappy, doen hulle ʼn finansiële ontleding van die boerdery en kyk na die impak van produksiebesluite, strukturering, die bemarkingsomgewing en finansiering, vir die volhoubaarheid van die boerdery.

Die eerste agt uur se konsultasie is gratis, wat meer as genoeg is om ʼn volledige verslag saam te stel. Met hul raad kan ʼn boer byvoorbeeld besluit of hy sy ooilammers moet terughou, ooie koop of eerder ooie moet huur nadat dit gereën het. Hierdie verslae kan dan as ondersteunende dokumente dien tydens gesprekke met finansiers.

“Om vir ons voerkoördineerders, manne en vroue, wat baie tyd afstaan en op die pad spandeer, dankie te sê, gaan ons saam met Manna vir die Boere sertifikate en dieselkoeponne aan hul oorhandig. Hierdie mense boer voltyds en behartig boonop hierdie moeilike taak ook,” sê Van der Merwe.

Save the Sheep

In 2017 het Simba ʼn vrag aartappels Sutherland toe gestuur sodat die boere dit vir hul skape kon voer. Om vir hulle dankie te sê, het Sybil Visagie, ʼn skaapboer se vrou, ʼn skapie gehekel. Op die skapie se lintjie het die woorde, “Ek leef danksy jou”, gestaan.

So is Save the Sheep gebore en die Engelse naam het vasgesteek omdat die hulporganisasie internasionaal bekend geword het. ʼn Vrou uit Swede het van hulle te hore gekom en R50 000 se skapies bestel. Sybil moes inderhaas ʼn klomp vroue bymekaarkry om die bestelling uit te voer en so het die eerste van ’n klomp werkskeppingsprojekte die lig gesien.

Vandag word daar oor die hele Noord-Kaap, tot so ver as Strydenburg, professioneel mussies gebrei, koekies gebak, geskenkpakke opgemaak, T-hemde en bekers gedruk en verskeie gebruiksartikels vervaardig. Op Carnarvon is daar selfs ʼn vrou wat ʼn hele natuurlike Karoo-skoonheidsreeks ontwikkel het.

ʼn Stelletjie drupmatjies wat ‘n skaap vorm is een van die nuutskeppinge wat Save the Sheep te koop aanbied. (Foto: Facebook)

“Vir die mussieprojek vra ons R20-donasies en koop dan wol aan wat ons aan die vroue gee om mee te woeker. Ons betaal hulle dan R35 per mussie wat ons dan vir kinders by skole en kinderhuise stuur. Ons vind dat die kinders besonders geliefd en gekoester voel as hulle ʼn mussie persent kry.

“Sodoende kry die vroue ʼn inkomste wat hulle weer trots maak – daar is groot waarde daarin. Jy kan nie aanhoudend van ander mense afhanklik wees nie.

“Die koekieprojek word saam met Caring Daisies bedryf en ons kan Ouma-beskuit ʼn ‘go’ gee,” sê Sybil laggend. Ons bak weer regte mosbeskuit wat ons so effens verfyn het. Dan het ons ook ʼn oulike choc-chip-resep, want sjokolade laat mens altyd beter voel. Vir Vadersdag het ons koekies gebak wat met likeur gevul is.”

Die koekies en beskuit wat deur die vrouens gebak word, word keurig verpak. (Foto: Facebook)

Save the Sheep bedryf ook ʼn projek vir boer- en plaaswerkervroue om matte te hekel en die bestellings kom mooi in.

Save the Sheep bou fluks aan hul handelsmerk en hulle het al verskeie eiesoortige skaapkaraktertjies laat lewe kry.

“Ons gaan ook ʼn inkleurboek met die karaktertjies bekendstel.”

Hul produkte het ook ʼn Facebook-blad en daar is ʼn aanlyn winkel waar al die produkte, wat oor die hele Noord-Kaap vervaardig word, gekoop kan word.

“Ons bly egter ʼn niewinsgewende organisasie met ʼn bemarker en ʼn administratiewe persoon, beide boervrouens, wat in ons diens is.”

Die aartappels het egter vasgesteek en vandag stuur baie boere uit die Wes-Vrystaat hulle uitskotaartappels Sutherland toe waar dit onder die skaapboere verdeel word.

Oor die hele Noord-Kaap ry daar trokke wat vragte uitskotaartappels aan boere uitdeel om vir hulle skape te voer. (Foto: Facebook)

“Die mense wat ons skaaptjoppies eet, hoef nie meer groente te eet nie, want hulle word met aartappels gevoer,” voeg Sybil laggend by.

Maar die nood bly steeds hoog en baie mense benut self die aartappels wat nog goed lyk.

“Ek doen ‘n beroep op mense om steeds te skenk wat hulle kan, want die nood is nog baie hoog, sê Pienaar.

Naudé Pienaar kan gekontak word by 082 776 8283.

Donasies kan in die volgende rekening betaal word:
Agri NW Ramphulp
ABSA
Takkode: 632 005
Rekeningnommer: 990142955
Verwysing: Droogtehulp

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JohanR ·

Boer hulp jouself want die ANC regering gaan dit beslis nie doen nie! Kan jy dink die EFF doen soe iets?

Jaco ·

Oppas maar vir Gift of the Givers. Dis eintlik ‘n Moslem organisasie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.