Ietermago-kleintjie ‘vry gebore’ ná ma se redding

(Foto: Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital)

ʼn Ietermago wat die polisie in April in die Alldays-omgewing uit die kloue van smokkelaars gered het, het ʼn kleintjie in die wildernis gebaar – ʼn wildlewe-hospitaal in Johannesburg se eerste rekord van ʼn ietermago wat dít gedoen het.

Volgens Johannesburg Wildlife Vet is Ally – afgelei van die gebied in Limpopo waar sy gevind is – deur die departement van ekonomiese ontwikkeling, ekonomie en toerisme na ʼn veearts in Polokwane geneem nadat daar op haar beslag gelê is.

Dr. Xander de Kock het op sy beurt vir dr. Karin Lourens, verbonde aan die Johannesburg-veeartshospitaal vir wildlewe en ʼn ietermago-kenner, gekontak. Ally was ondergewig en ontwater en Lourens het gehelp om die diertjie te stabiliseer.

De Kock het intussen vasgestel dat Ally dragtig is, wat haar behandeling en herstel selfs meer dringend gemaak het.

Navorsers en veeartse sien selde dragtige ietermago’s en daar is bitter min navorsing of inligting oor die ontwikkeling van ʼn ietermago-fetus. Veeartse het dus geen idee gehad hoe om die ouderdom van die fetus te bepaal nie, maar hulle kon wel ʼn normale, egalige hartklop hoor.

Nadat Ally gestabiliseer is, is sy na ʼn veilige hawe in Johannesburg geneem.

Volgens die hospitaal ervaar ietermago’s wat uit die onwettige wildhandel gered word, geweldige liggaamlike en emosionele stres en sukkel hulle dikwels met longontsteking. Ally was geen uitsondering nie. Sy het longontsteking gehad én ʼn kleintjie om gesond te probeer hou.

Daar was ʼn groot gevaar dat sy weens spanning die fetus sou aborteer, maar Ally het stadigaan sterker geword en het gereelde bloedtoetse en skanderings ondergaan. ʼn Paar dae ná haar aankoms by die hospitaal was sy gereed om uitgeneem te word om te gaan soek na kos – ietermago’s vreet nie in aanhouding nie en eet ook net lewende miere en termiete wat hulle self op uitstappies uitsnuffel.

Ally aan’t snuffel in haar nuwe blyplek. (Foto: Johannesburg Wildlife Veterinary Hospital)

Ally het vinnig meer selfvertroue begin kry en soos ʼn normale, gesonde ietermago begin optree. Haar longe het genees en sy het genoeg gewig opgetel om vrygelaat te word.

Ally is in Mei vanjaar na ʼn veilige gebied in Limpopo teruggeneem, waar haar geleidelike vrylatingsproses begin is. Daar moes onder meer verseker word daar is genoeg miere en termiete, asook skuilplek.

Sy het ook ʼn opsporingstoestel gekry waarmee sy vir sowat ʼn jaar lank dopgehou kan word.

Daar was egter geen sekerheid van wanneer Ally ʼn kleintjie sou baar nie. Die span wou onder geen omstandighede hê dat dit tydens die vrylatingsproses gebeur nie.

Ally het aanvanklik effe gespanne voorgekom en daar was vrese dat sy dalk uit die gebied sou probeer vlug. Sy is fyn dopgehou en dit het gelyk of sy na meer bekende habitat soek. Die span het haar na ʼn ander gedeelte van die reservaat geskuif en Ally het dadelik ingepas. Sy het gevreet, gewig opgetel en skuiling gevind.

Sy is dae lank dopgehou, waarna die span al hoe meer begin onttrek het.

Kameras is opgestel om haar bewegings en toestand dop te hou – en in een van dié opnames is haar nuwe kleintjie die afgelope paar weke opgemerk.

“Dit is die eerste keer dat ons ʼn rekord van ʼn ietermago het wat ʼn kleintjie suksesvol baar nadat sy uit die onwettige wildlewehandel gered en weer in die wildernis vrygelaat is.

“Ons is ʼn span trotse ooms en tannies. Dit is ʼn eerste in ons geskiedenis – ʼn nuwe kleintjie wat ná vrylating as vry ietermago gebore word,” het die organisasie gesê.

Die span sê uitstekende samewerking tussen verskeie organisasies, staatsdepartemente en private wildeienaars het Ally se suksesvolle vrylating eindelik verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Baie dankie aan almal wat betrokke was dit is lekker om te sien daar is nog mense wat om gee vir die natuur.

Ou Baardbek ·

Fantasties!!! Ons sou wat wou geen om vir Ally te kon huisves. Daar is van haar eweknieë hier in ons omgewing.
Besondere aangename nuus! Stuur nog asseblief!

Pieter ·

Bly vir hierdie nuus. Die foto’s is maar aan die bleek kant. Sonder die bleek foto’s is Suid Afrika se omgee en erfenis ook bleek vir die toekoms.

Cherokee ·

Ag okay, moet nou nie klaagliedere daaroor opsit omdat Cherokee stil is daarmee saam nie. Ek het die berig en die video wyd versprei!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.