Impala-myn se ‘donkerste dag’

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: PABALLO THEKISO / AFP)

Die hysbak in skag 11 van Impala Platinum (Implats) se myn by Rustenburg het Maandag laatmiddag 86 mynwerkers aan die einde van hul skof na die oppervlakte geneem, toe dit skielik na onder in die skag getuimel het.

Altesame 11 werkers is dood en 75 werkers is na vier hospitale in die omgewing vir mediese behandeling geneem.

Alle bedrywighede by die myn is sedertdien opgeskort terwyl Implats die oorledenes se naasbestaandes probeer bereik.

ʼn Ondersoek na die oorsaak van die ongeluk is reeds van stapel gestuur.

“Dit is die donkerste dag in die geskiedenis van Implats,” sê Nico Muller, uitvoerende hoof van die mynmaatskappy.

“Ons is diep geskok en bedroef oor die verlies van ons kollegas en is besig om alle naasbestaandes te kontak”.

Volgens Implats het die hysbak omstreeks 16:54 “onverwags begin sak” en is die vinnige daling gekeer deur veiligheidsmeganismes wat aangebring is in geval van ʼn ongeluk.

Johan Theron, woordvoerder van Implats, sê sommige mynwerkers is ernstig beseer. Die meeste van hulle het enkel- en beenfrakture opgedoen. Ander is met slegs geringe skrape uit die skag gebring.

Maroela Media het vroeër berig die hysbak bestaan uit drie vlakke – elkeen met die kapasiteit om 35 mynwerkers te vervoer.

Muller het Dinsdagoggend die versekering gegee dat alle noodprotokolle tydens die voorval gehandhaaf is en dat paramedici en die myn se soek-en-reddingspanne onmiddellik ontbied is om die mynwerkers te hulp te snel.

“Ek betuig my diepste dankbaarheid teenoor die plaaslike mediese dienste van die Bojanala-distrik en Impala se mediese dienstespan wat onvermoeid gewerk het tydens hierdie krisis om die nodige dienste te verskaf, bykomende ambulanse, beddens in waakeenhede en algemene chirurge te mobiliseer en die ondersteuning van drie private hospitale om ons Impala-hospitaal by te staan ​​met die versorging van die kritiek beseerdes.”

Muller het ook sy dankbaarheid betuig teenoor die soek-en-reddingswerkers wat “onder moeilike omstandighede” gewerk het.

Die mynmaatskappy is tans in verbinding met die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die departement van minerale bronne en energie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

sopbeen ·

Dit is baie hartseer. Myne is baie streng met hul safety procedures en sorg dat alle toerusting ‘n jaarlikse toets ondergaan , wat hul ten duurste kos, om sulke insidente te voorkom. Hul plaas hul hoop in die mpy wat die toerusting getoets het en wat aan streng standaarde moet voldoen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.