Indonesiese president ook op pad na SA vir Brics

Indonesië se president, Joko Widodo. (Foto: ADEK BERRY / POOL / AFP)

Indonesië se president Joko Widodo het Sondag na Suid-Afrika vertrek om die komende week se Brics-beraad in Johannesburg by te woon. Widodo se bywoning kom te midde van bespiegeling dat Indonesië toegelaat gaan word om hom by die Brics-groepering aan te sluit.

Meer as 40 lande het belangstelling getoon om hulle by die groepering aan te sluit. Altesaam 23 formele aansoeke is ontvang.

Widodo het vroeër vandeesweek gesê sy regering het nog nie besluit of Indonesië by Brics gaan aansluit of nie.

“Indonesië is na die Brics-beraad genooi en natuurlik sal daar tussendeur vergaderings met ander wêreldleiers ook wees,” het Widodo voor sy vertrek Sondag aan verslaggewers gesê.

Dit is Widodo se eerste reis na Suid-Afrika as leier van Suidoos-Asië se grootste ekonomie. Die Indonesiese leier gaan in die komende dae ook Kenia, Tanzanië en Mosambiek besoek om samewerking tussen die lande en Indonesië te versterk.

Tanzanië en Kenia het verlede jaar ambassades in Jakarta op die been gebring terwyl Mosambiek die eerste Afrika-land is wat ’n voorkeurhandelsooreenkoms met Indonesië onderteken het.

Malawi se president, dr. Lazarus McCarthy Chakwera, en leiers van verskeie ander lande het reeds in Suid-Afrika geland in aanloop tot die 15de Brics-beraad.

Altesaam 69 lande is na vanjaar se beraad in Johannesburg genooi, onder meer alle Afrika-state. Geen Westerse land is egter genooi nie.

Die vyf Brics-lande, Brasilië, China, Indië, Suid-Afrika en Rusland, verteenwoordig 23% van die wêreld se bruto binnelandse produk en 42% van die wêreld se bevolking.

Die vyf lande is ook verantwoordelik vir 18% van internasionale handel, waarvan die meerderheid transaksies in dollar verhandel word.

Een van die groepering se doelwitte is om hulself van die dollar los te maak.

Die blok steun die verhoogde gebruik van lede se nasionale geldeenhede vir handel en die instelling van ’n sogenaamde Brics-geldeenheid op lang termyn.

Brasilië en China het vroeër vanjaar ’n bilaterale ooreenkoms onderteken dat handel tussen die twee lande in hul plaaslike geldeenhede sal plaasvind.

Maroela Media het vroeër berig Suid-Afrika sal egter die komende dae moet fyn trap aangesien hy van Westerse lande afhanklik is en dit nie kan bekostig om hom van dié lande te vervreem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Ek hoop Indonesië gee vir SA goedkoper petrol. Rusland gee NIKS, al is die SA regering stil oor Rusland se oorlog teen die Oekraïne.

Ronél ·

Die Oosterse invloede wat die cANCer aanhang, stem my siel onrustig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.