Inligting gevra oor tref-en-trap waarin Kovsie sterf

Lithemba Mpambani (23) was ‘n vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV (Foto: Siyanda Mpambani, Facebook)

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het Woensdag gesê daar is sowat vyf maande ná die Kovsie-student, Lithemba Mpambani, deur ʼn motor doodgery is, nog geen vordering in die ondersoek na haar dood gemaak nie.

Die universiteit én Mpambani se familie eis geregtigheid vir haar dood.

Maroela Media het vroeër berig Mpambani is op 24 April omstreeks 22:00 by die universiteit se hoofhek deur ʼn swart motor raakgery. Sy is op die toneel dood verklaar. Die bestuurder van die voertuig het ná die ongeluk net weggery sonder om stil te hou en het nie die ongeluk aangemeld nie. Die Parkweg-polisie is sedertdien op soek na dié bestuurder, maar kon hom steeds nie opspoor nie.

Die UV het in ʼn verklaring by inwoners van Bloemfontein gepleit om met inligting oor die tref-en-trap-ongeluk na vore te kom.

“Die inligting kan die polisie met die ondersoek help,” lui die verklaring.

“Die familie het nie net ʼn dogter verloor nie, maar die universiteit het ook ʼn belowende en talentvolle student verloor wat geliefd was onder haar vriende, medestudente en dosente.”

Mpambani, ʼn vierdejaarstudent in BA Beeldende Kuns aan die UV, was op pad om die kampus te verlaat toe sy raakgery is.

Siyanda Mpambani, woordvoerder van die Mpambani-familie, het vroeër gesê Mpambani se dood het die familie geruk.

“Sy was in die fleur van haar lewe en het ʼn blink toekoms voor haar gehad. Sy het reeds talle projekte aangepak wat haar loopbaan begin vorm het,” het Siyanda gesê.

“Ons hoop die skuldige word gou vasgetrek sodat hy verantwoordelikheid vir sy dade kan dra. Ons is kwaad.”

Enigiemand met meer inligting oor die ongeluk of die bestuurder kan sers. Thabo Litsoane by 079 606 7820 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111 skakel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Skappie ·

So jammer vir die dogter se ouers. Hoop hierdie persoon wat dit gedoen het, word vinnig gevang.

Swerwer ·

Sterkte aan die dogter se ouers, dit is so jammer dat so ‘n pragtige jong dame haar lewe moes boet vir
‘n bestuurder wat nie veronderstel is om agter die stuur van ‘n motor te wees nie. Daar is mos kameras by al die ingange, waarom kon die mtoris nog nie opgespoor word nie. Klink liewer of iets toegesmeer word.

Magda G ·

Nog n lewe weggevat. Hoe is dit moontlik dat die polisie nie die skuldige kan opspoor nie. Daar moes tog iemand of iets gewees het wat die skuldige kan identifiseer

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.