Innibos dek gesellige tafel vir hutspot van vermaak, kultuur

Feesgangers kan vanjaar weer gereed maak vir die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees. (Foto: Verskaf)

Die Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees vier vanjaar sy 20ste bestaansjaar en ter viering word daar ʼn gesellige tafel gedek vir ʼn hutspot van musiek, teater, kos, aktualiteit, boeke en ʼn reuse-aanbod vir die kleinspan.

Die fees se tema is “Wenresep” en vind oudergewoonte in die hartjie van die winter in Mbombela (Nelspruit) plaas.

Die veelsydige feesprogram is Donderdag tydens ʼn intieme geleentheid by Jacaranda FM se ateljee bekendgestel deur Sandra Jacobs en Andy Lubbe, stigters van die Innibos-fees, asook dr. Mathews Phosa, voorsitter van die fees.

“Soos julle kan aflei, speel kos ʼn groot rol in vanjaar se tema,” het Sandra tydens die bekendstelling gesê.

“Of jou voorkeur musiek, toneel, boeke of kuns is, daar is werklik vanjaar iets vir elke smaak op die Innibos-program.”

Feesprogram

Elvis Blue. (Foto: Verskaf)

Die sterbelaaide hoofverhoë beloof om weer derduisende feesgangers te lok. Die fees skop af met die Huisgenoot Afskopkonsert op Donderdag 27 Junie. Hamilton Wessels is die seremoniemeester, en Van Pletzen, Bok van Blerk, Droomsindroom, Dr. Victor & The Rasta Rebels, Early B, Barto en Spoegwolf gaan die vermaak verskaf.

Vrydagaand en Saterdagaand is daar ook groot konserte met Ricus Nel, Riaan Benadé, Demi Lee Moore, Francois van Coke, Elandré, Brendan Peyper, Die Piesangskille en Karlien van Jaarsveld.

Vir die meer alternatiewe palet is daar Saterdagaand ook ʼn Innibos Alternatief-konsert met Zaan Sonnekus, Die Heuwels Fantasties, Matthew Gold en Coenie Naudé.

Die fees word Sondagaand afgesluit met die Loof Hom Innibos gewyde konsert. Bernice West sal dié konsert lei.

Die Piesangskille. (Foto: Verskaf)

Die drie kuierverhoë is ook tot oorlopens toe vol met kunstenaars soos Janie Bay, Damian Beer, Jan-Mattys en John Rock Prophet, Lisie Basson, Jemma Catherine en Alter Ego.

Die Boma-kuierteater sal feesgangers kuier-kuier aan teater en ander kunsvorme blootstel, met produksies soos Wynand van Vollenstee se Die begrafnisrede, André die Skreeusnaakse Hipnotiseur se skreeusnaakse hipnose van gehoorlede en Dik Deurmekaar deur Mel die Storieverteller.

Woelwaters is die ideale plek waar die kleinspan kan speel en hulle gate uit geniet. ʼn Propvol vermaakprogram met baie pretaktiwiteite word elke dag van 11:00 tot 17:00 aangebied – en dis heeltemal gratis.

Spar bied onder meer Kolwyntjiepret vir die jongspan aan, terwyl Tiaan Slabbert in Kok en die lawwe rot te sien is. Marlene du Toit en Wendy Byneveldt lees ook vir die kinders boeke voor by die ATKV-Storietyd.

Radio Laeveld se Sanett Oosthuizen gaan ook elke dag boekgesprekke met skrywers soos Leon van Nierop, Riaan Grobler en Amore Bekker voer.

Die Psychedelic Theatre-geselskap gaan kleur aan die feesterrein gee met aanskoulike optredes, en daar kan uitgesien word na ʼn karnaval van kleurvolle steltlopers en reusagtige poppe.

Die produksieprogram loop oor met teater- en musiekproduksies en dansgeselskappe- en optredes, met Albatros deur Louw Venter as die fees se vlagskipproduksie.

Die gewilde ATKV-Boeke-Crawl is weer terug, met Etienne van Heerden, Koos Kombuis, Jana Cilliers en Johny Klein wat saam ry vanaf die NG Kerk Westergloed na Kaapsehoop.

Feesgangers kry ʼn doppie-koppie met ʼn knertsie muskadel en ʼn serp om die ergste koue van die mistieke dorpie, Kaapsehoop, te besweer. Daar is drie aandoenplekke waar daar rondom boeke, woorde en wysies gekuier gaan word.

Feesdigter

Vanjaar se feesdigter is Johan Myburg. Hy het spesiaal vir Innibos ʼn gedig oor die tema, “Feesmaal”, geskryf. Hierdie gedig gaan in musiek, dans en visuele kuns uitgebeeld word tydens die vereringsgeleentheid wat op 26 Junie om 18:00 by die ATKV Kuns- en Boeke-oase plaasvind.

Johan Myburg (Foto: Verskaf)

Avontuur

Droomsindroom. (Foto: Spotify)

Vir die avontuurlustige siele is daar ʼn prettige dag by die Sudwala-grotte beplan saam met die broersduo Droomsindroom.

Kom gly 150 meter bo die Houtbosloop-vallei in die Mankele-berge en sien die Laeveld se natuurskoon vanuit die lug. Kirsten en Kyle gaan hierdie avontuur meemaak.

Daar is plek vir slegs 30 jongmense. Ná die avontuur kom almal bymekaar by die Sudwala-grotte se restaurant waar elkeen heerlike warmsjokolade kry.

Kaartjies

Kaartjies vir vanjaar se feesterrein en produksies is vanaf 8 April beskikbaar by Ticketpro. Vir die volledige feesprogram besoek die Innibos-webwerf.

Die Innibos Laeveld Kunstefees vind plaas van Donderdag 27 Junie tot Sondag 30 Junie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.