Inperking sorg vir ekstra vetrolletjies

Argieffoto: Pixabay

Daar is kommer oor die langtermyn- negatiewe gevolge wat die staat van inperking op Suid-Afrika se vetsug-epidemie het.

ʼn Peiling wat in opdrag van Pharma Dynamics gedoen is om die uitwerking van die Covid-19-pandemie en die daaropvolgende afsonderingstydperk op die eet- en oefenpatrone van Suid-Afrikaners te bepaal, toon meer as die helfte van die land se mense het tydens die inperking gewig aangesit.

Die peiling wat die afgelope twee maande onder byna 2 000 volwassenes gedoen is, skets volgens Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, ʼn skrikwekkende prentjie:

  • 45% van respondente het gesê die inperkingsregulasies het ʼn negatiewe invloed op hul eet- en oefengewoontes gehad;
  • 44% het tussen 2-5 kg aangesit, 15% is 6-10 kg swaarder en 4% het 10 kg of meer in gewig toegeneem;
  • 58% se gesinslede (eggenoot/eggenote en kinders) het ook ʼn paar kilogram bygekry;
  • 15% het gesê hul troeteldiere het ook vetter geword;
  • 34% het gesê hul dieet bestaan hoofsaaklik uit wegneemetes en klaarvoorbereide maaltye, terwyl ʼn verdere 30% gesê het hulle eet wat hulle kan bekostig omdat hul inkomste beïnvloed is;
  • 42% oefen minder as voor die pandemie;
  • 59% van respondente neem tans medikasie vir bykomende kwale soos hartsiektes, diabetes of hipertensie.

Volgens Jennings het mense meer lekkernye geëet tydens die inperking, maar minder geoefen. Mense het ook minder winkel toe gegaan en dit het moontlik daartoe gelei dat hulle minder vars groente en vrugte geëet het.

“In tye van spanning en onsekerheid wend mense hulle tot trooskos. Altesaam 43% van die respondente het hul verandering in eetgewoontes toegeskryf aan spanning en angs oor wat die toekoms inhou, terwyl 42% gesê het die feit dat hulle tot hul huise beperk was, het daartoe gelei dat hulle meer na peuselhappies gegryp en impulsief geëet het. Daarby het 28% eenvoudig geëet omdat hulle verveeld was.”

Die inperking het ook ʼn invloed op kinders se gewig gehad. “Die onderbreking in skoolonderrig en buitemuurse aktiwiteite het tot 43% meer skermtyd gelei. Kinders het dus meer gesit en in die proses ongesonde eetgewoontes aangeleer.”

Volgens Jennings is dit noodsaaklik dat gewoontes verander moet word. “Dit gaan moeilik wees, maar ongesonde leefstylgewoontes bedreig ons gesondheid. Soos met die meeste gewoontes, vat dit tyd om dit te verander. Noudat almal gewoond is aan die ‘nuwe normaal’, moet ons proaktief optree om nuwe, gesonder gewoontes te vestig om ons deur die pandemie te kry.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Persheks Adri ·

Gelukkig nie ek nie dankie tog seker die gewasse op my skildklier…

Baie mense waarvan ek weet het juis diabetes, hartkwale, hipertensie, raak angstig en word gediagnoseer met geestesversteuring ens. Dis baie baie hartseer regtig

Jan ·

Benewens die feit dat inperking geen invloed op die impak of verspreiding van ‘n virus het nie, is die vetrolletjies maar net een van die talle ernstige nadele verbonde aan hierdie ondeurdagte en sinnelose praktyk. Die onafhanklike en deursigtige data wat deur PANDATA versamel en ontleed is maak hierdie stellings baie duidelik en stel dit bo verdenking.

annie ·

Wat beoog die Pharma volgende? ‘n Paar pilletjies, ten duurste, wat nog geldjies kan laat inrol, want ons het nog nooit ooit uit ‘n apteek geloop met ‘n botteltjie gratis doepa nie.

Eend Bessinger ·

Met al my gesondheidsprobleme kan ek nie anders as om te kyk wat ek eet nie. Ongelukkig beteken dit nie dat ek gewig verloor het nie. My gewig wissel tussen 107 en 112 kg nou vir ‘n paar jaar al. Die grootste probleem is dat ek nie gewone oefeninge kan doen nie, maar ek stap darem ver ten minste twee keer ‘n week met my loopfiets.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.