Interdik bekom teen diegene wat MyCiTi-projek vertraag

MyCiTi-bus, Kaapstad Foto: MyCiTi, Facebook

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het ʼn dringende interdik aan die Kaapstad-stadsraad toegestaan teen enige persoon wat poog om die MyCiTi-busdienskonstruksieprojek in AZ Bermanrylaan in Mitchells Plain te vertraag.

“Ons dringende interdik is aangehoor en toegestaan,” het Rob Quintas, burgemeesterskomiteelid vir stedelike mobiliteit, gesê. “Hierdie projek word al sedert 28 Februarie 2024 vertraag. Ons het dus reeds 13 werksdae verloor.”

Quintas sê die stadsraad werk saam met die kontrakteur wat die nodige stappe doen om die werk so vinnig as moontlik te hervat.

“Ek wil dit baie duidelik stel: Enigiemand wat hierdie interdik oortree sal in hegtenis geneem en vervolg word.”

Persone wat betrokke is by die vyf sogenaamde ontwikkeling- en sakeforums in Mitchells Plain het die kontrakteur op 28 Februarie 2024 van die perseel weggejaag. Die stadsraad is hier besig met konstruksiewerk om die MyCiTi-busdiens beskikbaar te maak aan inwoners.

Een van die sleutelroetes is AZ Bermanrylaan. Die pad moet breër gemaak word tussen die kruisings met die R300 en Wespoortrylaan om spasie te maak vir die twee toegewyde buslane.

“Ek wil almal waarsku dat die stadsraad van Kaapstad nie sal swig voor dreigemente of pogings om geld uit te buit van ons of ons kontrakteurs nie. Ons bly daartoe verbind om diens te lewer aan Kapenaars en ons sal doen wat ook al nodig is om seker te maak ons infrastruktuurprojekte bly op koers.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Karoo ·

Ja nee kyk….iets moet tog net nie werk nie, dan moet dit vernietig word. Maar…kla dan uit dieselfde mond dat hulle agter bly….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.