Internasionale opname: SA vertrou nie regering

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Siyabulela Duda/GCIS)

Net een uit vyf geskoolde Suid-Afrikaners vertrou die nasionale regering. Suid-Afrikaners vertrou hul regering ook die minste van al 28 lande wat aan ʼn aanlyn peiling deur die Edelman Trust deelgeneem het.

Dié peiling is tussen 19 Oktober en 18 November onder 34 000 respondente gedoen. Mense wat aan die peiling deelgeneem het, is almal tussen die ouderdomme van 25 en 64 jaar en het ʼn naskoolse kwalifikasie. Hierdie persone is ook redelik ingelig oor wat in die land aan die gang is. Ander lande wat deel van die peiling uitmaak, is China, Noord-Amerika, Brittanje, Rusland en Australië. Suid-Afrika is die enigste land in Afrika wat aan die peiling deelgeneem het.

Die opname wys dat net 20% van Suid-Afrikaners wat aan die opname deelgeneem het, die regering vertrou. Dit is een persentasiepunt minder as ʼn jaar gelede. Altesaam 90% van Chinese respondente het aangedui dat hulle hul regering vertrou, vir Nederland is die 59%, Duitsland 45%, Noord-Amerika 39% en Brittanje 36%. Die meeste Suid-Afrikaners (60%) vertrou ook nie die media nie. Rusland se inwoners vertrou egter die media die minste (28%).

Meer as die helfte van Suid-Afrikaners (57%) is egter positief oor die land se ekonomiese vooruitsigte. Dit is meer as Noord-Amerika (43%), Australië (32%), Brittanje (27%) en Japan(15%).

Die meeste van die deelnemers reg oor die wêreld (83%) is bang dat hulle hul werk sal verloor. Die hoofredes hoekom mense dink hulle sal moontlik hul werk verloor, is weens ʼn dreigende resessie, ʼn tekort aan vaardighede of die kompetisie van goedkoop arbeid uit die buiteland.

Meer as 60% van die wêreld se inwoners is bekommerd dat tegnologie te vinnig verander en dat regerings nie in staat is om dit behoorlik te reguleer nie. Altesaam 76% van mense is ook bekommerd oor vals inligting en dat dit as ʼn wapen aangewend kan word. Dié persentasie het met ses persentasiepunte toegeneem sedert 2018.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

NeeBroer ·

Haai, rêrig?

So daar is 20% wat idiote is en met blinders deur die lewe gaan…. of seker tenderpreneurs en kaders en hulle extended families wat al biljoene ryker is

Jim ·

Indien ek die berig reg verstaan is daar dus 37% van die wat nie die regering vertrou nie maar tog positief is oor die land se ekonomiese vooruitsigte. Sekerlik genoeg bewyse dat dit hoofsaaklik die regering is wat die land se ekonomie opvoeter ,so waarvandaan die positiewiteit as jy terselfdertyd nie die regering vertrou nie.

daniel ·

Dit is meer n gewoonte as vertroue.
Want ons moet ingedagte hou dat daar baie meer skelms is wat wag dat die regering faal, om hulle plek te vul.

Hanna Hoekom ·

Hierdie is geskoolde mense wat heelwaarskynlik NIE vir die ANC stem nie. Dit is die ongeskoolde, bakhand-kultuur mense wat vir so min as n goedkoop t-hemp keer op keer vir die ANC sal stem. Die opname onder ongeskoolde Suid-Afrikaners sal n heel ander prentjie skets. Feite.

Johan Venter ·

Cyril het op sy eie ook ‘n remmende uitwerking, as jy hom by tel, dan sak die % in Suid-Afrika na seker so 17%, dalk minder.

Magda ·

1 uit 5 gedskoolde suid afrikanes – Nou hoeveel is regtig geskool – Dit is ons probleem = die ongeskooldes is die mense wat vir hulle stem – en ongelukkig is daar miljoene van hulle??

Scalla ·

Kan die peiling ook die persentasie verskaf van stemmer se ras/etniese groepe, klugspel

Feite ·

Dit is goeie nuus dat geskooldes die regering nie vertrou nie, terselftertyd is dit onrusbarend dat miljoene ongeskooldes die regering by die stembus ondersteun.

Penellope Jones ·

Nie eintlik regtig ‘n verrassing nie. . . . . .

C ·

Ek vertrou glad nie daai syfer nie, en hul het nie namens my gepraat nie. Ek vertrou die regering niks nie, hulle neuk alles op.

Gerrit ·

Ek het destyds in 1992 alreeds nie die NP regering vertrou nie. En my wantroue is 100% reg bewys.

Chris ·

1 uit 5 ‘geskoolde’ mense. Laat my net dink 1 uit 5 moet hul skoolgeld gaan terugvra. Ek sou 1 uit 500 nog aanvaar het maar nee nie hierdie belaglike statistiek nie.

Mike T ·

Geen mens gaan sy kind deur ‘n wolf laat “babysit” nie……. Nee….. ek het géén vertrou in dié regering nie….. Hulle wil net meer en meer die publiek dreineer om te betaal vir hulle foute en swak besluite……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.