Internasionale Werkersdag: ‘Ons moet veg teen uitbuiting, armoede’

‘n Betoging deur Nehawu in Noordwes op 20 Maart 2018. (Foto: Nehawu, Facebook)

Ter viering van Internasionale Werkersdag op 1 Mei het verskeie instellings, insluitend die parlement, die vakbond Nehawu en die politieke party United Africans Transformation (UAT), gesê dat baie meer gedoen sal moet word om werkers se regte en werksomstandighede te bevorder in ʼn land waar die werkloosheidsyfer, veral onder die jeug, geweldig hoog is.

Dít terwyl werkers voortdurend sukkel om kop bo water te hou te midde van stygende lewenskoste.

“Ons vier Internasionale Werkersdag teen die agtergrond van ʼn toenemende krisis van kapitalisme wat gelei het tot ʼn wêreldwye krisis van werkloosheid, hoë vlakke van ongelykheid en uiterste armoede,” het Nehawu Maandag gesê.

“Terwyl ons hierdie dag as werkers vier, moet ons saamstaan ​​om teen kapitalistiese uitbuiting, armoede [weens swak lone] en groeiende ongelykheid te veg.

“Ons moet standpunt inneem teen die aanvalle op kollektiewe bedinging en die inperking van werkers se regte. Net soos die werkers van 1886 [in Chicago in die VSA] moet ons die huidige stryd voortsit, aangesien werkers steeds onderworpe is aan ondraaglike werksomstandighede, slawelone, uitbuiting, afleggings en vakbondtreitering.”

Nehawu sê veldtogte teen die implementering van besuinigingsmaatreëls en vir die skepping van ordentlike werksgeleenthede, beter lone en werksomstandighede asook gehalte gesondheidsorg moet opnuut verskerp word.

“Werkersdag [in Suid-Afrika] word amptelik erken sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994. Dit is ontmoedigend om te sien dat werkers in hierdie land 29 jaar later van die hand na die mond leef weens die stygende koste van basiese behoeftes,” het Abel Tau, UAT se president, gesê.

“Volgens die Behuisingsbekostigbaarheidsindeks van 2023 wat in Februarie uitgereik is, het die koste van die gemiddelde huishoudelike kosmandjie met R572,64 of 13,1% van R4 355,70 verlede jaar tot R4 928,34 gestyg – dit is teenoor die minimum loonverhoging van 9,6% of R25,42 per uur.”

UAT sê hy staan saam met alle Suid-Afrikaners wat karige salarisse verdien en nie basiese benodigdhede kan bekostig nie, asook werkloses wat smag na waardigheid om ordentlike werk te hê en die sogenaamde middelklas wat in die skuld verdrink.

“Terwyl hierdie dag dien as beide ʼn viering van werkers se regte en ʼn herinnering aan die rol wat vakbonde en ander arbeidsorganisasies in die stryd teen apartheid gespeel het, moet ons eerlik wees met onsself en met die regering van die dag: Die situasie waarin ons onsself bevind is nie wat ons 29 jaar gelede in die vooruitsig gestel het nie.”

‘Meer moet gedoen word’

Die parlement het ook Maandag gesê dat hoewel baie vordering al met die instelling van nuwe wetgewing om werkers se regte te bevorder bereik is, moet baie meer gedoen moet word om ongelykhede te takel.

Onder leiding van Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die Nasionale Vergadering, en Amos Masondo, voorsitter van die Nasionale Raad van Provinsies, sê voorsittende beamptes van die parlement dat werkers immers “die ruggraat van die ekonomie is”. “Voortdurende versterking van bestaande arbeidswette en uitgebreide toesig oor die implementering daarvan bly die parlement se prioriteit. Deur sy oorsiginstrumente gaan die parlement voort om beleid- en wetgewende meganismes op te skerp om die lewens- en werksomstandighede van die Suid-Afrikaanse werkersklas in die algemeen te verbeter,” het Moloto Mothapo, woordvoerder vir die parlement, gesê.

Mothapo sê die parlementêre portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het saam met die portefeuljekomitee oor indiensneming en arbeid gewerk om na die implementering en uitwerking van verskeie wetgewing en werk in die landbousektor te kyk.

“Toesigbesoeke het aan die lig gebring dat werkers en plaasbewoners, ten spyte van talle wetgewende beleidsformulerings en -ingrypings, steeds deur uitdagings soos verblyfonsekerheid, bedreigde lewensbestaan ​​en skendings van hul mense- en arbeidsregte in die gesig gestaar word.

“Die parlement gee erkenning aan die samewerkende werk binne die boerderysektor wat verskeie maatskaplike vennote, plaaseienaars, plaaswerkers en plaasbewoners insluit om oplossings te soek vir die uitdagings wat boerderygemeenskappe in die gesig staar. Beide portefeuljekomitees sal gesamentlik werk om omvattende oorsigwerk oor die lewens- en werksomstandighede van plaaswerkers uit te voer, vordering te monitor wat gemaak word deur die regering se verbintenisse tot verbeterde lewens- en werksomstandighede in die boerderygemeenskappe, en die impak van wetgewing wat plaaswerkers raak te evalueer.”

Die parlement sê voorts hy bly daartoe verbind om ʼn werklik demokratiese en welvarende samelewing te bou waar werkers en alle individue beter lewensgehalte geniet.

“As deel van hierdie verbintenis sal die parlement voortgaan om werkers se regte te versterk en te beskerm en teen ongelykheid, armoede en werkloosheid te veg, asook wetgewende verbeterings in alle sektore te bevorder.

“Ten spyte van vordering met die beskerming van werkers se regte en die verbetering van werksomstandighede, bly Suid-Afrika se werkloosheidsyfer hoog, veral onder die jeug.

“Dit is van kardinale belang dat soveel moontlik Suid-Afrikaners by die arbeidsmark ingesluit word, deur pogings om werk te skep, ekonomiese groei te stimuleer en in onderwys en opleiding te belê. Die parlement erken die dringendheid om werkloosheid te takel en is daartoe verbind om toesig oor programme en strategieë vir volhoubare werksgeleenthede te versterk.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Elmarie ·

Baie ironies:Nehawu is ‘n vakbond maar in paragraaf vyf praat hul van werkers wat ly onder meer onder vakbond treitering! Huh?

Pietertjie ·

Mens veg teen uitbuiting en armoede deur te WERK! En dis nie iemand anders se verantwoordelikheid om “vir jou te werk” nie: Jy moet sélf doen as jy iewers wil kom. Daar sal altyd mense wees wat minder het as jy, en mense wat meer het as jy. So, vergeet maar van gelykheid. Dink maar aan die Gelykenis van die drie werkers wat onderskeidelik een, drie, en vyf pennings ontvang het: DIS ONGELYK.

Harley Davidson ·

Ons moet veg teen rasse diskriminasie soos bee anders gaan daar nog minder werk vir die massas of our people wees.

annie ·

Wat van die uitermate groot en groeiende bevolking? Vir elke werk wat geskep word groei die aankomelinge tienvoudig. Daaroor word g’n woord gerep nie. Die probleem sal nooit oorkom word nie.

TruthDealer ·

Baie waar. Die bevolkingsaanwas is eenvoudig nie volhoubaar nie. Die ANC beter begin om dit aan hul stemvee te verduidelik. It’s not even like they need all the extra millions of people to stay in power. No matter who votes for whichever party, the outcome of any national election will always result in a win for the ANC.

Danie ·

Bla bla bla.Werkskepping of geld skepping aan die orde van die dag.

Amelia ·

En hoeveel besighede al toe agv diefstal en korupsie Mense vat ook nie meer iemand om bv in tuin te werk n ie want in agterkop is dit dalk is jy more n lyk so sukkel maar self voort selfde met huiswerk

Veronika ·

Neeee dit is mos Amandla!!!! One for all and all for one!! Stem vir ons ons gaan alles vir jul gee wat jul nodig het!!!! Hmmm phfff!!

My siening ·

Vakbonde en Matashe regeer die land en penokio Cyrel belowe en in 6 jaar niks gedoen nie behalwe sy neus gegroei. Hoop is ‘n dooie woord in SA!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.