‘Interne selfbestuur is ʼn haalbare strewe’

dr-pieter-mulder

Dr. Pieter Mulder. (Argieffoto: DoC)

Die verskillende moontlikhede wat interne selfbeskikking aan gemeenskappe bied, is haalbare strewes waarop tans gefokus moet word. Maar die pad na selfbeskikking is ʼn geleidelike een waarop plaaslike en kulturele outonomie mettertyd ontwikkel word, sonder kitsoplossings.

Dít is die gevolgtrekking van ʼn gesprekspaneel wat aan die VF Plus se tweede konferensiesessie oor selfbeskikking deelgeneem het. Tydens die gesprek, waaraan die politieke kenners prof. Deon Geldenhuys van die Universiteit van Johannesburg, dr. Pieter Mulder van die VF Plus en Alida Kok van Akademia deelgeneem het, is die vorme van selfbeskikking vir ’n verspreide minderheid bespreek, asook hoe dit bereik kan word.

“As mens selfbeskikking reg verstaan, besef jy dat dit nie ʼn kwessie van alles of niks is nie, maar eerder vlakke van selfbeheer. Ons moet tot ʼn groot mate die werklikhede waarna ons strewe reeds skep en die regering dan daarmee gaan konfronteer,” beklemtoon Mulder.

Volgens Geldenhuys behels interne selfbeskikking dat ʼn groep mense binne ʼn staat aanspraak daarop maak om hulself te regeer sonder om die soewereiniteit van die staat in gedrang te bring. “Dis nie om van die staat weg te breek en ʼn nuwe staat te vorm nie, maar om binne die staat ʼn mate van selfbestuur te verkry,” verduidelik hy.

Wanneer bereik ʼn groep dan interne selfbeskikking? Mulder beklemtoon dat dit ʼn langsame proses is. “Die proses het reeds tydens die onderhandeling in die vroeë 1990’s begin, toe ons dit reggekry het om artikels in die Grondwet te laat inskryf wat ʼn mate van selfbeskikking vir minderhede toelaat. Die aanloop en gesprekke van die afgelope 30 jaar was nodig om dit nou verder te kan neem,” sê hy.

Tydens die onderhandelinge het Suid-Afrika met ʼn tipiese sentralistiese eenheidstaat te doen gehad, voeg Kok by, waar die staat verantwoordelikheid neem vir die maatskaplike welstand van sy mense. “Dit het in daardie stadium goed gewerk. Tog het baie dinge sedertdien verander en ná die finansiële krisis van 2007-’08 het die staat nie meer die finansiële vermoë om sy mense te onderhou nie. Gemeenskappe word dus genoodsaak om self in hul maatskaplike behoeftes te voorsien,” sê sy.

alida-kok

Alida Kok. Foto: Jurgens Burger.

Kok voeg by dat die ineenstorting van munisipale regering aan die burgerlike samelewing die geleentheid bied om in te beweeg en die gapings te vul. Sodoende kan ʼn groep veel meer gunstige omstandighede vir hulself skep, asook ʼn gunstige klimaat om bepaalde vlakke van selfbeskikking te bewerkstellig. Burgerlike instellings kan hernuwing teweeg bring, selfs in staatsinstellings ook.

ʼn Struikelblok in die pad tot selfbeskikking tot dusver is dat die ANC-regering eenheid voor diversiteit stel en enige neigings tot selfbeskikking as apartheid wat by die agterdeur insluip, beskou, voeg sy by. “Dié skeptisisme kom saam met ons politieke bagasie. Daar bestaan spanning tussen staatsinstellings en gemeenskapsinstellings omdat gemeenskapsinisiatiewe die staat ongemaklik maak.”

Juis in die lig van dié spanning, maan Geldenhuys, moet ʼn minderheidsgroep nie al sy eiers in een mandjie sit nie. “Versprei dit tussen die mandjies van funksionele outonomie, soos om eie instellings op te bou, kulturele outonomie, waar liggame soos ʼn taalraad geskep word, en deelname aan die nasionale politiek.”

Hy voeg by dat die private inisiatiewe wat reeds van stapel gestuur is, soos opleidingsinstellings en veiligheidsliggame, die Afrikanergemeenskap reeds in ʼn klas van sy eie plaas. “Ons is ver voor enige ander minderheid wanneer dit kom by selfbemagtigingsinisiatiewe. Maar ons behoort ook kulturele en ander outonomie te prioritiseer, terwyl die beginsel van vrye assosiasie voorop gestel word.”

Hoewel die staat onverskillig staan teenoor kultuurgemeenskappe, moet minderheidsgroepe vertroue probeer bewerkstellig tussen die staat en gemeenskapsinstellings, glo hy.

“Ons beskik wel oor minderheidsregte volgens die Grondwet. Dis maar flou en dikwels negatief geformuleer, maar ons moet daarop aandring. Ons gemeenskap moet steeds aan nasionale politiek deelneem, sodat ons nie beskuldig kan word dat ons laer trek teen die staat nie,” sê Geldenhuys.

Wat kan die gewone man op straat doen om selfbeskikking ʼn hupstoot te gee? Die paneel is dit eens dat jy by gemeenskapsinisiatiewe betrokke moet raak om sodoende toenemend tot selfbestuur by te dra. Wees gereed wanneer die geleentheid om iets self te bestuur hom voordoen, help bou aan instellings en leer uit internasionale lesse. Maak ook ʼn studie van die konsep van selfbeskikking en wees realisties daaroor; sien dit vir die moderne, legitieme oplossing wat dit in vandag se tyd op internasionale vlak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Hendrik ·

Ek moet se dat interne selfbestuur werk goed in selfbestuur gemeenskappe. Wat selfbestuur wel makliker maak is as daar meer mense trek na hierdie gebiede soos Kleinfontein.net buite Pretoria want dit maak die geldsake soveel beter. Net soos ‘n boerdery van skaal maak dit ekonomie in ‘n gemeenskap van skaal net soveel makliker. As die Afrikaner nie inkoop in hierdie idee is selfbestuur/selfbeskikking doodgebore.

Johan ·

Hendrik ek stem saam maar nie almal is daar vir selfbestuur nie (meestal vir veiligheid). Ek wonder of Kleinfontein se onafhanklike skool nog bestaan en met hoeveel leerders. Ek weet van persone wat in Kleinfontein bly en dan hulle kinders aanry Pretoria toe vir onderrig. Ek dink selfbestuur beteken ek bestuur alles self en my doel moet wees sukses nie om ander se pogings tot sukses te ondersteun nie.

Suid-Afrika Eerste - Vrydenker Vlakvark ·

Sekerlik die mees praktiese benadering vir verspreide minderhede se strewes tot GROTER selfbeskikking binne dieselfde staatsbestel wat ek sedert 1994 teëgekom het.

Versoek: gebruik hierdie fundamentele argumente om riglyne daar te stel om gemeenskappe te bemagtig om op GROTER selfbeskikking vir hulle onderskeie opsette te beplan.

Baie belangrik is dat die VVO se riglyne vir GROTER selfbeskikking sterk figureer in alle planne sodat die regering enige pogings tot groter selfbestuur nie summier kan afskiet niet.

Stadig maar seker sal meer en meer minderheidsgroepe hierdie suurdeeg inwerk in hul onderskeie opsette. Stadig maar seker sal Suid-Afrikaners na mekaar begin luister en vertroue tenoor mekaar opbou. En stadig maar seker sal opportunistiese gierige politici van die bus afval in die vergetelheid in.

Immers, ons wil in geregtigheid, vrede en voorspoed saamleef en ‘n toekoms vir almal skep.

Die sukses gaan bepaal word deur leierskap, eerlikheid en betrokkenheid.

Kanjynoumeer ·

Na n besoek nou weer aan Orania nadat ek 3 jaar gelede hier was, is ek verstom oor die vooruitgang wat intussen hier plaasgevind het.
Die navrae oor behuising in Orania neem toe.
Wat my tot die gevolgtrekking bring dat Afrikaners al hoe meer soekende is na n nuwe eie identiteit en selfbeskikking.
Orania kan nie n heenkome vind vir alle Afrikaners nie.
So die soeke na selfbeskikking moet voortgaan.
Ten minste praat en redeneer ons al daaroor.
Dit is al n goeie vertrek punt.

Derek ·

Ek dink nie daar kan n beter oplossing vir SA wees anders as selfbeskikking nie. Die vrese wat die ANC en ander politieke partye het is self opgelegde vrese, miskien omdat hulle bang is dat sekere kulture gaan uitstyg bo ander. Dit opsig self is n absolute positiewe punt wat tussen werking sal noodsaak. Ons land se grootste bate is juis ons verskillende stamme, kulture en tale, dit moet die boublokke vorm van een nasie met verskillende strewes en ideale. Dit is ons ryke erfenis en kan tot grootskaalse groei lei veral met toerisme. Kulturele dorpe binne stede is haalbaar met ontwikkeling moontlik binne elke dorp as n ” kulturele dorp”. Eie belang knie halter ontwikkeling en groei, soms selfsig net soos met die vorige regering.

Sarel ·

Die Politieke spektrum het baie verander. Die DA kon nie byhou nie gasn die VFPlus kan?

Sarel ·

Selfbeskikkking: 1. Waar?
2. Sa l alnal moet trek?…. wat van die wat agterbly ?
3. Werkskepping……onderwys…..Opleiding..
4. Bakleiery onder mekaar oor wie die belangrikste is en watter Splintergroep het nou werklik die meeste gedoen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.