ʼn Vrou is Maandag deur ʼn groep grondbesetters oorval toe hulle grond op private eiendom digby Pretoria onwettig probeer beset het. Hulle het die grond met ʼn stootskraper betree.
Volgens Dini Esterhuizen, ‘n oud-joernalis, het ʼn groep van omtrent agt besetters Maandagoggend met ʼn skootskraper die private stuk grond in ’n landelike gebied wes van Pretoria betree en grond begin rondstoot.
Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noord-streek, sê die besetters het met ʼn stootskraper drade en heinings omgestoot.
Die stuk grond is langs die kruising van R104 (ou Kerkstraat-verlenging) en R511 (Hennopsrivierpad) geleë. Esterhuizen besit self ʼn stuk grond daar.
“Ons het van die onwettige grondbesetting te hore gekom en gaan ondersoek instel. Ek het uit my voertuig geklim om ʼn foto van die besetters te neem toe ʼn man my skielik oorval en die foon uit my hand probeer ruk het. Ek het losgekom, in my kar gespring en weggejaag,” vertel Esterhuizen.
Hemmens sê die polisie het Maandag omstreeks 13:00 ná ʼn lang gespook uiteindelik daar opgedaag. Hulle het met die besetters gepraat en hulle van die grond af begelei.
Volgens Esterhuizen was die groep besetters egter vanoggend (Dinsdag) terug. Sy sê hulle moes haar motor onthou het van die vorige dag, want hulle het haar weer geteiken.
“Ek het ʼn entjie van die groep besetters stilgehou om die polisie te bel. Toe ek opkyk, sien ek hulle het my van voor met ʼn ander voertuig vasgetrek. Hulle het my motor se ruit probeer uitslaan. Ek het my motor in tru-rat gesit en die petrol getrap. As ek nie daar weggekom het nie, sou hulle my aanrand.”
Hemmens sê dieselfde voertuig wat Esterhuizen vasgetrek het, het ook ander voertuie van die pad afgedruk en die besetters het motors met klippe bestook.
Esterhuizen sê hulle sukkel al jare met onwettige grondbesetters. Van die besetters het al onwettig paaie op die stuk grond gemaak.
Soos vroeër berig het die Tshwane-metropolisie (TMPD) se grondbesettingseenheid verlede maand ook op grondgrypvoorvalle in Nellmapius, Rosslyn en Olievenhoutbosch in Pretoria gereageer. Elandsfontein in die suide van Johannesburg is ook in Junie oorval met grondgrypers wat private eiendom daar toegeëien en strukture begin oprig het.
Maroela Media het navraag aan die Gautengse polisie gerig en wag nog vir terugvoer.
- Die ‘besetters’ het die paaie op die grond geskraap (Foto: Verskaf)
- Van die grondbesetters (Foto: Verskaf)
- Die besetters het met ‘n stootskraper die grond begin rondskuif (Foto: Verskaf)
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
17 Kommentare
Die ANC keur sulke optredes stilswyend goed. Hulle presteer nerens dus laat massas optree soos hul wil asof dit deur anc goedgekeur is! Dus stemme. Uiters siek ongesonde situasie. Die dinge kan tot burgeroorlog lei!!!!!
Waar kom die stootskraaper vandaan? Aan wie behoort dit? Grondbeseters het nie die geld vir ‘n stoot skraaper nie. Ek sal my ondersoek by die stootskraaper begin. Hier is ‘n ander agenda betrokke.
So Minister Cele, waar is jy?
Hierdie optredes is juis wat politici wil hê. Hulle word voorgepraat en doen maar net wat van hulle verwag word.
Lekker lag die kabinet se ministers en CR in hulle mou, oor die chaos wat heers. In hulle strategie is dit wat hulle wil hê. Daarom altyd stilswye, soos met plaasaanvalle en moorde.