Inwoners in Sydney moet weens vloede ontruim

Argieffoto van oorstromings in Richmond, Sydney. (Foto: Muhammad FAROOQ/AFP)

Nooddienste in Australië het Sondag vloedontruimingsbevele uitgereik vir woonbuurte in Sydney waar riviervlakke ná dae lange swaar reën gestyg het.

Beamptes het die afgelope 24 uur agt-en-twintig reddingspogings uitgevoer in Nieu-Suid-Wallis, ʼn deelstaat in die suidooste van die land. Talle van dié reddingspogings was vir mense wat oorstroomde paaie aangedurf het.

“Dis baie gevaarlik op die paaie. Ons sien oral kitsvloede en die riviervlakke styg steeds,” het Carlene York, kommissaris van die NSW-nooddienste, tydens ʼn perskonferensie gesê.

Talle ontruimingsbevele is ingestel vir laagliggende buurte aan die noordwestelike buitewyke van Sydney en ander dele van Nieu-Suid-Wallis, het die nooddienste bygevoeg.

Waarskuwings is ook uitgereik vir 20 ander gebiede wat deur oorstromings bedreig word. Inwoners is gewaarsku om gereed te maak vir ontruiming of isolasie wanneer die riviervlakke styg.

Dit reën sagter, maar vloedwater vloei steeds in riviere in die binneland en sentrale dele van die kus van Nieu-Suid-Wallis, het die staat se buro van meteorologie gesê.

Sydney het reeds aangekondig dit is die natste jaar sedert rekordhouding in 1858 begin het.

ʼn Oorstromingskatastrofe aan Australië se ooskus in Maart het dele van Queensland en Nieu-Suid-Wallis verwoes en meer as 20 lewens geëis. Tienduisende inwoners in Sydney moes in Julie ontruim toe vloede woonbuurte in die buitewyke oorstroom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.