Nóg duisende vlug weens Sydney-oorstromings

Vloedwater in Richmond, Sydney. (Foto: Muhammad FAROOQ/AFP)

Australiese owerhede het ongeveer 50 000 inwoners in dele van Sydney opdrag gegee om hul huise weens oorstromings te ontruim.

Ongeveer 28 000 inwoners in ander gebiede van dié stad is boonop versoek om vir moontlike oorstromings voor te berei.

Huise en paaie in dele van Nieu-Suid-Wallis is reeds oorstroom weens swaar reën wat veroorsaak dat grond deurweek word en riviere oorstroom.

Die Warragamba-dam het reeds Sondag vroegoggend begin oorloop. Dié groot betondam voorsien die meeste van Sydney se drinkwater.

Swaar reën het sedert die naweek aan die Australiese ooskus uitgesak en volgens die Australiese buro vir meteorologie word nog reën vir die volgende paar dae voorspel.

Noodwerkers het altesaam 142 vloedreddings in Nieu-Suid-Wallis oor die afgelope 24 uur uitgevoer, met die ondersteuning van 100 weermagtroepe wat na die staat ontplooi is.

Die federale regering het ’n natuurramp in 23 oorstroomde dele van Nieu-Suid-Wallis verklaar en noodlenigingsbetalings sal aan geteisterde inwoners gedoen word.

“Die vloedwater het baie skielik gestyg,” het inwoner Gordon Lee gesê nadat dele van die westelike Sydney-voorstad Shanes Park oornag oorstroom het.

“Ons het nie eers tyd gehad om enige van ons besittings te vat nie. Ons het net ons honde gegryp en gevlug,” het hy aan AFP gesê.

Van die inwoners moet nou vir ’n tweede keer in ’n kwessie van ’n paar maande ’n vloedramp deurmaak. Vloede het die ooskus van Australië ook in Maart vanjaar getref en die lewens van meer as 20 mense geëis.

In die westelike voorstad Windsor het die 62-jarige inwoner Alan Dalrymple gesê sy huis is nou vier keer in 18 maande oorstroom.

“Daar is egter nie veel wat jy daaraan kan doen nie. Jy glimlag en hou uit,” sê Dalrymple.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Sjoe dis erg! Lyk my oorstromings gebeur nou wereldwyd. Sterkte aan almal daar

Miena ·

En wat van die dieretuine? Gaan ons binnekort weer hoor van krokkies wat ontsnap het erens uit aanhouding en rondswem in die midde-dorp

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.