Inwoners van Mayville swem in riool

Riool loop in die straat van ‘n woonbuurt in Pretoria af. (Foto: Verskaf)

Inwoners van ʼn straat in Mayville in Pretoria is moedeloos nadat riool al drie weke lank in hul erwe inloop weens ʼn verstopte drein. Die Stad Tshwane het tot op hede nog nie aandag aan die probleem gegee nie weens stakende munisipale werkers.

Die stank het onuithoudbaar geword en inwoners, baie van hulle pensioenarisse, vrees vir hul gesondheid.

ʼn Inwoner van Mance-laan, wat verkies het om anoniem met Maroela Media te gesels, het verduidelik dat die hoofdrein op die hoek van Mance-laan en Louis Trichardstraat verstop is. Dit het daartoe gelei dat riool oorloop en by Mance-laan afloop tot in die erwe van sowat ses huise.

“Jy wil nie sien hoe dit lyk nie.”

Die betrokke inwoner verduidelik dat die inwoners van die betrokke huise in hul onderskeie opritte uit hul motors in die rioolwater uitklim om by hul huise uit te kom.

Riool loop in die erwe van inwoners van ‘n woonbuurt in Pretoria in. (Foto: Verskaf)

Hoewel die bure reeds almal geld bymekaar gesit het om ʼn loodgieter te laat kom, het dié boonop verduidelik dat hy nie aan die munisipaliteit se hoofdrein mag werk nie. “Hulle het gedoen wat hulle kon, maar die probleem lê by die munisipaliteit.”

Werknemers van die Stad Tshwane staak sedert Julie met dienslewering wat reg oor Pretoria agterweë bly.

Volgens die inwoner word sy buurvrou en haar bejaarde man en seun in ʼn rolstoel veral geraak deur die rioolkrisis in hul straat. “Ek kry die bejaardes die jammerste van almal. Pensioenarisse bly in drie [van die ses] huise.”

Die inwoner se buurvrou het op haar beurt aan Maroela Media gesê dat haar erf in dié stadium heeltemal onder rioolwater is. Haar teëls in die huis begin ook nou oplig weens die vogtigheid.

Sy verduidelik dat sy uit moedeloosheid handskoene en waterstewels gekoop het om oor die weg te kom in haar erf. “Ek kan nie eers my honde toelaat om na buite te gaan nie.

“Ek is baie bekommerd. My man is 84 jaar oud en my seun het ʼn swak immuunstelsel. Dit hou nie net ʼn gesondheidsrisiko vir hulle in nie, maar vir almal in die straat.”

Maroela Media het ʼn navraag aan die munisipaliteit gerig en wag nog op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Adam Adriaan ·

En nou wil die agbare CR Zim gaan help. Hy versuip self in die riool!!!

Ronéll ·

Vir hierdie uiters swak dienslewering word die skuld vierkantig voor die deur van die ANC, EFF, Maille en Makura gelê. Hierdie partye ken net magsvergrype ten koste van belastingbetalers.

4ntj13 ·

Drie weke? In Bloem sukkel Mangaung se mense al minstens 6 JAAR met die riool op die kruising van die ou Kerkstraat met Monumentweg (een byvoorbeeld van tálle). Daar word ten minste so 5 karre elke minuut aan die Coronavirusse en bakterië en fungi blootgestel, en almal wonder hoekom daar net een keer per week goed-gekookte C19-sterftesyfers vrygestel word!

marius ·

Skep dit op en gaan foeter dit binne die munisipale bestuurder se kantoor uit . Ordentelikheid in die hool bring jou nerens .

Elmarie ·

Ry gerus ENIGE dag van die week op Hendrik Potgieter vanaf Krugersdorp se kant na bv Rosebank en kort-kort wil jy opgooi van die erge rioolstank. Ons noem dit al SA se nadionale reuk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.