IT-man van Gautrein vas oor spioenware

(Foto ter illustrasie: Andras Vas)

ʼn IT-tegnikus wat kontrakwerk vir die Gautrein-bestuursagentskap gedoen het, is tien jaar tronkstraf opgelê nadat hy spioenware op sommige van sy kollegas se rekenaars geïnstalleer het.

Obakeng Israel Busang het aanvanklik onskuldig op die aanklagte teen hom gepleit, maar het later skuld erken, het Phindi Mjonondwane, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), gesê. Die misdade is in 2013 gepleeg.

Busang moes tegniese hulp verleen aan werkers wat IT-probleme met hul skootrekenaars of rekenaars ondervind het. Hy het dié geleentheid gebruik om, onder die voorwendsel dat hy opdaterings doen, spioenware te installeer.

Dit het programme soos Remote Administration Tools, oftewel Rats, en sleutelstoorders ingesluit waarmee veiligheidsmaatreëls omseil kan word en toegangskodes en wagwoorde van die rekenaars verkry kan word.

“Busang het ʼn verklaring by die ondersoekbeampte afgelê dat iemand by ʼn karwasonderneming hom gewerf het om ʼn sindikaat te help om die aanmeldbesonderhede te verkry van diegene wat betalings aan die Gautrein se krediteure doen,” het Mjonondwane gesê.

“Hy het aangevoer hy is ʼn beloning beloof as hy die aanmeldbesonderhede van spesifieke werkers kon verkry. Hy kon egter nie die finansiële hoof of uitvoerende hoof se besonderhede verkry nie.”

Volgens Mjonondwane het Busang daarna self ʼn skootrekenaar werk toe geneem en dit aan die Gautrein-bestuursagentskap se stelsel gekoppel sodat die sindikaatlede op ʼn afstand toegang tot die topbestuurslede se besonderhede kon verkry.

Busang is in daardie stadium reeds ingelig dat sy kontrak sou verstryk.

Nadat die IT-hoof egter ongerymdhede met die stelsel opgemerk het, is Busang se kontrak vroeër beëindig. Die IT-hoof het persoonlik bygestaan toe Busang gevra is om sy lessenaar te ontruim en hy het geen kans gehad om die gedokterde skootrekenaar te verwyder nie.

Hy het daarna ʼn oom van hom, wat ook vir bestuuragentskap werk, gevra om die skootrekenaar te verwyder. Dié man het oënskynlik misverstaan en dit aan die maatskappy se batebestuurder oorhandig.

Die IT-hoof het die rekenaar probeer gebruik, maar het besef iets is nie pluis nie en het IT-veiligheidskenners gevra om in te gryp. Dit het eindelik nagenoeg R1,2 miljoen gekos om die spioenware te verwyder en sommige hardeskywe te vervang, het Mjonondwane gesê.

Busang is die afgelope week skuldig bevind aan 38 aanklagte van oortredings van die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies. Die hof het beveel dat sommige vonnisse gelyklopend uitgedien word en Busang is eindelik tot 20 jaar tronkstraf gevonnis. Tien jaar hiervan is vir vyf jaar opgeskort.

Die staat het aangevoer Busang is nie ʼn kandidaat vir korrektiewe toesig nie omdat hy vantevore ʼn hofbevel dat hy met ʼn korrektiewe beampte moet saamwerk, verontagsaam het.

Die NVG het die vonnis verwelkom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Niklaas ·

Daardie naam is mos diè van ‘n Nigerier , of so klink dit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.