Ivermektien: Gekontroleerde toegang moet ‘data help insamel’

(Foto: Luis Robayo/AFP)

Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) hou voet by stuk dat kliniese data vir die gebruik van ivermektien vir die behandeling van Covid-19 in mense steeds uiters beperk is, maar sê hy moet ingryp om die reeds wydverspreide gebruik daarvan in Suid-Afrika te probeer beheer.

Die owerheid het Woensdag aangekondig dat hy binnekort die gebruik van die middel weens “menslikheidsredes” en op ʼn “beheerde grondslag” gaan toelaat. Meer inligting oor toegang tot die program sal oor die volgende paar dae bekend gemaak word.

In Suid-Afrika was ivermektien tot dusver net vir die behandeling van parasiete in vee geregistreer, hoewel dokters soms toegelaat is om dit in uitsonderlike gevalle vir die behandeling van sekere siektes by mense te gebruik.

“Ons weet nie of dit werk nie, maar ons weet ook nie dat dit nié werk nie,” sê prof. Helen Rees, voorsitter van Sahpra se raad.

“Ons is in ʼn situasie waar ons nie die dosis of die gehalte van produkte wat gebruik word, kan beheer nie. Die raamwerk gaan hierdie situasie normaliseer en die reguleerder toelaat om veiligheidsdata daaroor in te samel.

“Ons deel mense se desperaatheid.

“Wêreldwyd sê diegene in die wetenskapgemeenskap ons weet nie of sekere dinge werk of nie. Dít is wat deernistoegang beteken. Dit is ook hoekom ons behoorlike data benodig om vas te stel of dit veilig vir gebruik in hierdie konteks is, of nie.”

Rees sê talle mense gebruik in hierdie stadium ivermektien om te selfmedikeer, maar dat Sahpra geen inligting het oor die gehalte van die produkte wat mense gebruik nie.

“As jy onwettige invoere het, weet jy nie wat in die produk is nie. As daar wydverspreide gebruik sonder enige beheer is, moet die reguleerder stappe doen.”

Dr. Boitumelo Semete-Makokotlela, uitvoerende hoof van Sahpra, sê die formule vir diere sal nie gebruik word vir die behandeling van mense nie.

“Die program gaan gesondheidsorgpraktisyns toelaat om dit vir spesifieke pasiënte voor te skryf.”

Besonderhede oor onder meer die pasiënt en die dosis wat gebruik word, sal dan weer aan Sahpra beskikbaar gestel word.

“Die benadering wat ons in die toekoms gaan volg, is dat ons ʼn program van gekontroleerde deernistoegang vir ivermektien gaan volg. Dit beteken nie ons standpunt verander oor die gebrek aan beskikbaarheid van wetenskaplike data nie. As ʼn reguleerder het ons indringende besprekings gehad oor die konteks waarin ons ons te midde van die pandemie bevind en die beperkte opsies wat beskikbaar is.

“Ons sien wydverspreide gebruik en ʼn ontluikende swartmark. Ons hoop die beheerde toegang sal verseker dat die produk verantwoordelik gebruik word,” het Semete-Makokotlela, gesê.

ʼn Maatskappy wat die produk na Suid-Afrika wil bring, sal ook moet aansoek doen om toestemming daarvoor.

Ivermektien word deur talle as ʼn sogenaamde wondermiddel bestempel, maar wêreldwyd was verskeie reguleringsowerhede dit tot dusver eens dat daar bloot nie genoeg inligting beskikbaar is om ʼn besluit daaroor vir die behandeling van Covid-19 te neem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Die middle is tans net so omstrede soos die covid 19 entstof.

Bregterblom ·

Ek weet van 2 persone in ons buurt wat dit gebruik het en na een dosis uiters positief daarop gereageer het. En herstel het…..een het by die dood omgedraai. En dit is albei baie verantwoordelike persone wat nie onverskillig is nie. So met die regte dosering verrig dit wondere!

Bushy ·

Selfs met so positiewe terugvoer soos joune kry jy steeds mense wat jou downvote. In my opinie is die mense wat nie die vermoe het om vir hulself the kan of wil dink nie.

Raakvatter ·

Ek het ‘n familie lid wat nou ‘n afgetrede apteker (en beesboer) is. Hy het onlangs COVID opgetel en behandel homself met Invermektien. Ek sal dit ook gebruik indien nodig. Praat maar van iets soos 2ml per slag, dis vrek min.

Boer ·

As ek met Covid 19 postief was en baie siek in hospitaal en daar is nie meer uit weg nie dan sal ek dit vat om te kyk of dit werk. Dit is tog ek as mens wat ek mag gebruik en wat nie. Ek sal Ivermektien gebruik. Ek het in elk geval van baie mense gehoor wat dit gebruik het wat nou baie gesond is. As hulle dit wil toets daar is honderde mense in Hospitale wat daar le en baie siek is. Vat 100 mense en proef op hulle.

Robert ·

Daardie proewe is reeds oorsee gedoen, hulle sleep voete hieroor. Gelyk aan menseslagting.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.