Jagersfontein-ramp: 20 in hospitaal

[Foto: Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa, Facebook]

Altesaam 20 mense word in die Diamant-hospitaal in Jagersfontein, Vrystaat, behandel nadat ʼn slikdam se wal Sondagoggend gebreek het. Vier mense word vermis terwyl nog geen sterftes aangemeld is nie.

Volgens Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse departement van gesondheid, word die 20 pasiënte vir geringe beserings behandel. Vier pasiënte is ook na die Albert Nzula-hospitaal in Trompsburg vervoer.

Mvambi het bevestig die kliniek en Diamant-hospitaal op die dorp is nie deur die modderwater geraak nie.

Volgens die departement sit die dorp ook tans sonder krag.

Maroela Media het vroeër berig die damwal by Jagersfontein het omstreeks 06:00 gebreek en ʼn gedeelte van die dorp, sowel as die Charlesville- en Itumuleng-nedersetting, onder water gelaat. Meer as 100 huise is geraak.

Talle inwoners is uit die gebied verwyder nadat hulle huise oorstroom is. Besittings en motors is deur die modderwater meegesleur.

Die Vrystaatse regering het sy rampbestuurspan en die gesamentlike operasiesentrum geaktiveer om die omvang van die ramp te bepaal en ook die gebied te begin ontruim.

[Foto: Free State World, Facebook]

Sisi Ntombela, die premier van die Vrystaat, het die dorp Sondagoggend besoek.

Motlagomag “Mamiki” Qabathe, LUR vir maatskaplike ontwikkeling in die Vrystaat, het in ʼn verklaring bevestig ’n span maatskaplike werkers en gemeenskapsontwikkelingspraktisyns is gestuur om die impak van die oorstromings te evalueer asook om te help met die verskuiwing van diegene wat geraak word na veilige gebiede.

“Die departement se sosiale vennote, naamlik Sassa, die Rooikruis en Meals on Wheels, is ook geaktiveer en is reeds op die grond besig om assesserings te doen om te verseker dat intervensies onmiddellik ingestel word en dat nodige verligting aan die dié wat deur die ramp geraak is, verskaf word,” sê Qabathe.

Boere van die omgewing en inwoners van omliggende dorpe het ook begin om nie-bederfbare voedsel, huishoudelike items en klere bymekaar te maak om na die inwoners te stuur.

Die R706-pad tussen Bloemfontein en Jagersfontein is steeds vir verkeer gesluit nadat dit heeltemal deur modderwater oorstroom is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.