Jagersfontein onder water ná myndam breek

[Foto: Paramedics, SAPS and Firefighters South Africa, Facebook]

Huise in Jagersfontein in die Vrystaat is oorstroom en motors meegesleur deur ’n sterk stroom water nadat ’n myndam gebreek het.

Die damwal het Sondagoggend omstreeks 06:00 gebreek.

Volgens Solomzi Phama, woordvoerder van die Kopanong-munisipaliteit, is ’n gedeelte van die dorp, sowel as die Charlesville- en Itumuleng-nedersetting, onder water. Hy het aan Maroela Media bevestig dat meer as 100 huise geraak is.

“Talle inwoners se huise is onder water en hul besittings en motors is deur die water meegesleur,” sê Phama.

Phama sê van die inwoners is uit hul huise verwyder en na ’n nabygeleë plaas verskuif. Die munisipaliteit se rampbestuurspan is geaktiveer.

“Die aantal beserings en sterftes kan in hierdie stadium bevestig word nie omdat die gebied nog nie betree kon word nie.”

Die R706-pad tussen Bloemfontein en Jagersfontein is vir verkeer gesluit.

Boere in omliggende plase moes ook hul vee na veiligheid verskuif. Frikkie Senekal het op Facebook foto’s gedeel van ʼn boer wie se skape gevrek het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek onthou toe dieselfde jare gelede in Merriespruit naby Virginia gebeur het. Dit was aaklig. En die mense wat daarheen gery het NET om te gaan kyk oor hulle nuuskierig was. Ek bid vir die mense.

Adri ·

In watter rigting vloei die vloedwater? Kan dit nie stroom-af nog skade aanrig nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.