Jagluiperds keer tydelik terug na Rietvlei

Twee jong jagluiperdmannetjies. Foto’s van die nuwe aankomelinge in Rietvlei-natuurreservaat is nog nie beskikbaar nie. (Foto: Constant Hoogstad/EWT.)

Die Rietvlei-natuurreservaat in die suidooste van Centurion sal teen Augustus weer vir ses maande die tuiste van twee jong jagluiperdmannetjies wees.

Die twee broers, wat deel was van die Welgevonden-natuurreservaat in Limpopo se bevolking van sowat 20 jagluiperds, word nou geskuif om die genetiese gesondheid van die spesie te verseker. Dit is deel van die Trust vir Bedreigde Spesies (EWT) se jagluiperd-uitbreidingsprojek wat blitsige groot katte in ander lande hervestig.

Die toekomstige stadsjapies se twee susters sal ook binnekort ʼn nuwe tuiste in die Marakele Nasionale Park in Limpopo vind.

“Tans hang dit alles af van die proses rakende die permitte aangesien Limpopo en Gauteng toestemming vir die skuif moet gee, maar ons hoop om die jagluiperds teen middel Augustus te skuif,” het Vincent van der Merwe, koördineerder van die EWT se eenheid vir die jagluiperd-metapopulasies, aan Maroela Media gesê.

Suid-Afrika is tans die enigste land in die wêreld wat ʼn groeiende bevolking van jagluiperds het. Van der Merwe meen dit is omdat ons reservate en bewaringsgebiede omhein is. “Dit beteken egter hierdie roofdiere moet fyn bestuur word en dit is waarom dit nodig is om die groot katte na ander reservate binne en buite Suid-Afrika te hervestig. Dit is ʼn kwessie van balans.”

Daar is tans sewe reservate in die suidelike en oostelike dele van Afrika wat toestemming gevra het om jagluiperds te hervestig. Die EWT het met hulle projek al daarin geslaag om suksesvol jagluiperds in die Liwonde Nasionale Park en die Majete-natuurreservaat in Malawi te hervestig, en dit lyk of hulle volgende teiken nou moontlike Mosambiek is.

Van der Merwe het gesê omdat die twee jong jagluiperds wild is, is daar nog nie veel oor die mannetjies bekend nie. “Ons weet die broers en susters het van hulle ma geskei en daarom skat ons hulle is ongeveer 18 maande oud. Jagluiperds van die ouderdom weeg gewoonlik ongeveer 40 kg. Daar is ook nog nie enige goeie foto’s van die twee jagluiperds beskikbaar nie omdat hulle moeilik is om op te spoor.”

(Foto: Constant Hoogstad/EWT.)

Rietvlei is ’n goeie keuse

Rietvlei is vir die tydelike vestiging van die jagluiperds gekies om inteling in die Welgevonden-bevolking te voorkom terwyl die permitte vir die hervestiging van die katte verkry word.

“Buiten dat die reservaat naby aan die OR Tambo-lughawe is, beskik dit oor 40 000 hektaar waar die spoedkatte fiks kan bly en hulle eie jagwerk kan doen. Ons wil beslis nie wilde katte maande lank in ʼn boma hou terwyl die permitte afgehandel word nie.”

Die twee jagluiperds kan eers finaal hervestig word as die konvensie oor die handel in bedreigde fauna en flora (Cites) weer permitte kan uitreik. Dit sal na verwagting op vlak 1 van inperking gedoen kan word en kan dalk eers in Februarie gebeur.

Intussen verskaf Rietvlei ʼn veilige hawe vir die jagluiperdmannetjies aangesien daar geen ander groot roofdiere is wat met hulle meeding nie. Groter roofdiere soos leeus, luiperds en hiënas is ook verantwoordelik vir sowat 50% van jagluiperd-vrektes in die natuur. Sowat 8% van die spoedkatte se vrektes kan ook aan ander jagluiperds toegeskryf word, het Van der Merwe verduidelik.

Die jagluiperds sal aanvanklik vir drie weke in ʼn boma by Rietvlei aangehou word wat hulle kans sal gee om hul nuwe omgewing gewoond te raak. Dit behoort ook genoeg tyd te gee om hulle “tuis-instink” af te breek wat katte na hulle oorspronklike gebied laat terugloop. Ná die tydperk sal die jagluiperds vry in die hele reservaat kan rondbeweeg.

Van der Merwe glo daar is genoeg wild om die twee jong mannetjies tydelik in Rietvlei te onderhou, maar dié reservaat sal tans nie ʼn teelgroep van die spoedkatte onbepaald kan onderhou nie.

Die EWT beplan wel om tydens die volgende twee maande sowat 250 wilde diere van die Modderfontein-reservaat in Rietvlei te kom vestig. Die diere, wat swartwildebeeste, sebras, rooihartebeeste, springbokke en blesbokke insluit, sal ook sorg vir nuwe gene in die reservaat se wildsbokbevolking.

Rietvlei-natuurreservaat was al van 2003 tot 2012 die tuiste van jagluiperds, maar die bevolking het in die tyd uitgesterf. Daarna is ʼn nuwe groep van 2015 tot 2017 op die reservaat gevestig, wat tot 14 jagluiperds aangeteel het. In 2018 is die katte na ander reservate uitgeskuif.

(Foto: Charl Senekal/EWT.)

Het jy geweet:

  1. Jagluiperds is glad nie direk verwant aan Afrika se groot katte soos leeus en luiperds nie. Hul naaste verwantskap is poemas of bergleeus van die Amerikas. Jagluiperds het vermoedelik van daar deur Europa tot in Afrika versprei.
  2. Tans kom jagluiperds natuurlik net in Afrika suid van die Sahara en Iran voor.
  3. Die Wêreldbewaringsunie beskou die jagluiperd as kwesbaar en sy getalle neem orals af, behalwe in Suid-Afrika.
  4. Jagluiperds is die vinnigste landdier en kan 112 km/u in drie sekondes behaal. Hulle kan egter hulle hoë spoed vir enkele minute oor 200 tot 300 m volhou.
  5. ʼn Jagluiperd kan uitgeken word aan die swart lyne wat van die binneste hoek van hulle oë tot op die buitenste hoeke van hul bekke loop. Die swart lyne help om die son te weerkaats terwyl jagluiperds in die dag jag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Ek kan ·

As ek die berig reg verstaan, is die jagluiperds wat daar was, reeds in 2018 uitgeskuif… tot voor die grendeltyd het ons gereeld die reservaat besoek. Elke keer is ons verseker dat daar twee jagluiperds is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.