Jeugdag ideale tyd om oor taalregte te besin, meen ATKV

"Konstitusionele hof" in al 11 amptelike tale Foto: South Africa Tours and Travel

“Konstitusionele hof” in al 11 amptelike tale Foto: South Africa Tours and Travel

Volgens die ATKV is Jeugdag die ideale dag om oor taalregte en die belang van moedertaalonderrig vir kinders te besin.

“Die opeis van taalregte is die verantwoordelikheid van elke jongmens,” sê Karien Brits, bestuurder: taalaangeleenthede by die ATKV.  “Tydens die herdenking van ʼn dag soos Jeugdag, is dit belangrik om te onthou dat nuwe geleenthede en regte vir tale een van die newe-produkte is van ons demokrasie.  Die reg om die taal van jou eie keuse te gebruik en aan die kulturele lewe van jou eie keuse deel te neem, is verskans in die Handves van Menseregte.”

Brits meen dis belangrik om op Jeugdag te praat oor die geskiedkundige taalmomente van die dag. “Dit is nie ʼn dag waaroor Afrikaanssprekendes graag praat nie, maar daar is dalk ʼn paar goeie taalregtelesse wat ons uit die gebeure van 16 Junie 1976 kan leer.”

Brits het verwys na ʼn brief wat in 1974 deur mnr. J.G. Erasmus, Streeksdirekteur van Bantoe-onderrig (Noord-Transvaalstreek), aan inspekteurs en skoolhoofde geskryf is. Volgens hierdie brief  sou Afrikaans en Engels op ʼn 50/50-grondslag as onderrigmedium vanaf standerd vyf-vlak gebruik word vanaf Januarie 1975. “Die meeste onderrig in skole voor 1953 het in Engels plaasgevind, en wetgewing daarna het voorsiening gemaak vir onderrig in ander Afrikatale. Maar die Soweto-opstande het uitgebreek oor die voorstel dat Engels voortaan die onderrigtaal vir algemene wetenskap en praktiese vakke sou wees, en Afrikaans sou gebruik word in wiskunde, rekenkunde en sosiale studies. Moedertaalonderrig sou vir godsdiensonderrig en musiek gebruik word. Soos ons vandag uit die geskiedenis weet, was hierdie brief en ander onderwyswetgewing sommige van die faktore wat aanleiding gegee het tot die opstande in 1976.”

Teen dié agtergrond, meen Brits, is dit verstaanbaar dat Afrikaans soms ʼn ‘onderdrukkerstaal’ genoem is. “Maar dan sou ʼn mens dit ook van Engels, Duits, Frans en ander tale kan sê. Die waarheid is dat daar nie iets is soos ʼn taal wat onderdruk nie. Dit is mense wat onderdruk.”

Brits is van mening dat baie dinge verander het sedert 1976, maar dat daar steeds nou, na 21 jaar van ʼn nuwe demokratiese bestel, weer rede tot kommer is oor taalregte. “Is Suid-Afrikaanse tale werklik so vry as wat ʼn mens graag sal wil glo? Word kinders onderrig in hul moedertaal?  Word mense in hulle moedertale by staatsinstellings bedien? Dit is maar enkele vrae wat ʼn mens laat wonder of Suid-Afrikaners werklik uit die geskiedenis leer.”

Brits moedig die publiek aan om daarop aan te dring dat jou kind in sy of haar moedertaal onderrig word. “So help jy met die bevordering van Afrikatale, waarvan Afrikaans een is, en boonop bewys jy jou kind ʼn groot guns.” Sy het verduidelik dat die konseptualisering – dus, die verwerking en verwerwing van kennis – in die moedertaal plaasvind. “Kinders leer en verstaan dus gewoon beter in hulle moedertaal. Die goeie uitslae van kinders wat in hulle moedertaal skoolgaan, is jaar na jaar ʼn bewys van die voordele van moedertaalonderrig.”

Brits meen daar moet meer moeite gedoen word om die jeug in te lig oor hulle taalregte. “Volgens die Grondwet moet nasionale en provinsiale regerings minstens twee amptelike tale gebruik, afhangende van faktore soos taalvoorkeure, gebruik in die provinsie/streke en koste. Die Wet op die Gebruik van Amptelike Tale (2012) brei dit tot drie tale uit. Die wet maak dit ook duidelik dat munisipale regerings die tale en taalvoorkeure van hulle gemeenskappe in ag moet neem by die bepaling van hulle taalbeleide. Dring dus daarop aan om in Afrikaans bedien te word by alle staatsdepartemente,” het sy gesê.

Brits meen Jeugdag is die ideale dag vir Suid-Afrikaners om oor hul taalregte te praat. “Kom ons maak Jeugdag vanjaar sommer ook Taalregtedag,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Armando Pellencin ·

Mev Karien Brits, Ek sien ‘n klomp probleme met u siening. Wat aan die basis van die veldtog vir Engels teenoor Afrikaans is m.i. die nyd wat by baie swart mense en amper almal wat in ‘n gesagsposisie is, jeens wit mense in die algemeen en Afrikaners en Afrkaanssprekendes in besonder. Dit gaan oor ‘n persepsie: wit mense is boos. Wit mense wil baas wees. Wit mense wil ons oorheers. Is daar werklik genoeg besef van die voordele van moedertaalgebruik? Ek dink dat hulle Mandaryns sal praat eerder as Afrikaans. En dit alles het sy wortels in ‘n minderwaardigheidskompleks.

CHRISTA ·

Armando, my ouma wat in 1900 gebore was was geforseer om NET Engels op skool te praat (GEEN Afrikaans). As onderwysers jou gehoor Afrikaans praat het, moes jy ‘n bord om jou nek vir die hele dag dra waarop geskryf was “I am a donkey, I must not speak Dutch”!! Nou wil die ANC regering ons Afrikaanse skole oorstroom met anderstalige skoliere. Hulle moet net sorg dat Afrikaanssprekende kinders OOK IN HULLE TAAL ONDERRIG WORD!!! Wat gaan hulle maak as Afrikaanssprekende leerlinge ook skole begin afbrand omdat hulle nie onderrig in hulle Moedertaal mag ontvang nie?

Jannie van Vuuren ·

Nee, dit is die ideale dag om te gesels oor die duisende boere en bejaardes wat sedert 1994 vermoor en vermink is, dikwels deur sogenaamde swart jeugdiges! Gaan ons ‘n Boeredag kry om daardie gruwels te herdenk?

CHRISTA ·

Ek wil net aan die ANC vra hoekom hulle Jeugdag vier? Die ANC verkondig dan altyd dat swart kinders die onderwys gehad het nie. Hoe kon hulle in opstand kom oor die onderrigtale op skool?

CHRISTA ·

Jammer, dit moet lees “swart kinders NIE onderwys gehad het nie”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.