Jeugliga-leier swaai mantel na die bewind

Oudpres. Jacob Zuma by Collen Maine. Foto: ANA

Die leier van die ANC-jeugliga, Collen (Oros) Maine, het skielik ontpop as een van pres. Cyril Ramaphosa se grootste ondersteuners nadat hy jare lank ʼn getroue meeloper en kornuit van oudpres. Jacob Zuma en die Gupta-familie was.

Maine het die afgelope naweek by die vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) in Centurion gesê enige ANC-lid wat Ramaphosa se aanstelling van Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings in die openbaar of oor sosiale media kritiseer, tree ongedissiplineerd op en moet in die bek geruk word.

Dit volg nadat die burgemeester van die Ekurhuleni-metro aan die Oos-Rand, Mzwandile Masina, en die voormalige ANC-hoofsweep, Tony Yengeni, vir Ramaphosa gekritiseer het, en sy aanstelling van Gordhan bestempel het as ʼn ondermyning van die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane.

Mkhwebane het tien dae gelede bevind Gordhan het onbehoorlik opgetree toe hy die vroeë aftrede van Ivan Pillay as adjunkkommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens goedgekeur het.

Maine se mantel-na-die-bewind-draaiery kom aan die einde van sy termyn as leier van die ANC-jeugliga.

Dit was ʼn termyn waarin hy hom dikwels kritiek op die hals gehaal het dat hy onbeskikbaar was, nie sy take uitgevoer het nie en hopeloos te naby aan die omstrede Gupta-familie beweeg het.

Hy is egter nou ingesweer as parlementslid wat kennelik ʼn nuwe fase in sy politieke loopbaan verteenwoordig.

Die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, het gesê Masina se uitlatings sal by die NUK-vergadering hanteer word. Magashule is self in die pekel oor sy louwarm steun aan Ramaphosa tydens die verkiesingsveldtog, asook die hegte bande wat daar tussen hom en Zuma-gesinde ondermyners van Ramaphosa bestaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Nico ·

Hy is onbevoeg maar kry bevordering na parlement. Maar net nog ‘n bewys dat politiek oneerlik is en net die verkose “leiers” wat score. Die publiek delf aanhoudend maar net die onderspit.

Johann cb ·

Hy besef aan watter kant sy brood gebotter én gejam is!

Andreas ·

Hierdie ou se dobbelsteentjies het aan al die kante sesse.

koos ·

Jip, Malema het gesê dat hy sal moor vir Zuma. Ons politiek gaan nie oor partye of jou assosiasie daarvan nie, maar eerder wie ondersteun jy? Die wat die meerste bied natuurlik.

jaco ·

broederbonders in die ou dae, wat so bietjie afgewyk het vanaf Nasionale Party beleid, is ook soms met lekker jobs in die staatsdiens ens ens beloon. Die ANC het dit maar net by ons voorouers geleer.

Jack Sadie ·

‘Politics is the art of the possible’. Hierdie waarheid is in RSA ook die onderliggende dryfveer in ons politiek. Kyk vir antie De Lille. Kyk hoe die gebalanseerde openhartigheid van Zille haar loopbaan geknel het. Politiek is basies oneerlik en net ‘n magspel. Joppies is alles. Ai, al daai lekker voordele van in die regte saal sit. Demokrasie op sy beste ( en ons demokrasie is gebaseer op die onkunde van die massas)is ook maar net nog ‘n teoretiese beginsel wat deur kundige bemarking deur die heersers uitgebuit word. Die Engelse begrip van ‘n ‘Benevolent Dictatorship’ bly die ideaal, want solank die massas onkundig bly is ons doppie geklink. As dit help: Ons is nie uniek nie, amper alle sogenaamde demokrasië is vol korrupsie. Die VSA met hul enorme staatsdiens wat deur ‘lobbyists’ beheer word is net so erg. Daar is ook die demokrasie van Italië van die negentigerjare , waar meer as 5000 politici en amptenare van korrupsie aangekla was. Lees bietjie op wat daar gebeur het en hou op hoop vir wonderwerke. Hoop maar net vir bietjie verbetering…….

Marinda ·

Ek sê net: stem maar weer vir die party met hulle mooi beloftes.

pieter ·

Almal dieselfde,kyk wa hy sy broodjie gebotter gaan kry.Ander een is Fekile Mbalula.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.