Jhb soek na oplossing vir skole se hoë tariewe

(Argieffoto: ANA)

Die Johannesburgse metroraad sê hy werk onverpoosd om ʼn werkbare oplossing te vind nadat onlangse aanpassings aan die beleid op eiendomsbelasting skole se tariewe die hoogte laat inskiet het.

Luidens die nuwe beleid word openbare skole nou as ʼn eiendom ten bate van die publiek gekategoriseer, terwyl onafhanklike skole as sakeondernemings aangeslaan word. Die meeste skole in dié stad is voorheen in die beleid onder “onderrig” gekategoriseer. Dit beteken dat skole nou tussen ses en tien keer meer aan munisipale tariewe moet opdok as voorheen.

Die metro voer in ʼn verklaring deur die kantoor van die burgemeester aan hy het geen ander keuse as om gehoor aan die nuwe aanpassings te gee nie, aangesien die besluit deur die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) geneem is. Die metro het egter glo reeds afsprake versoek met die regspanne van partye wat regsaksie oor die nuwe regulasies teen die metro ingestel het.

Die Stad hoop om ʼn voorstel aan dié partye ter tafel te lê sodat “ʼn wen-wen-korttermynoplossing” gevind kan word, tesame met ʼn verbintenis van die Stad om die kwessie in die volgende boekjaar “meer permanent” te pak deur langtermynstrategieë in te stel. Dit is nie duidelik wat in dié voorstel vervat is nie.

Mpho Phalatse, burgemeester, sê in die verklaring dat sy en haar bestuurspan daartoe verbind is om ʼn “omgeestad te wees wat sakevriendelik is”.

Morné Mostert, bestuurder van plaaslike regeringsake by AfriForum, het vroeër verduidelik dat ʼn openbare skool volgens die nuwe kategorie nou aan ʼn ratio van 1:1,5 (teenoor 1:0,25 verlede jaar) onderwerp word, wat die skool se maandelikse tarief van ongeveer R12 073 tot R75 952 sal opstoot. Die ratio verteenwoordig ʼn persentasie van die bedrag waarvoor die skool gewaardeer is. Hoe groter die skoolgebou, hoe meer sal die bestuur dus moet opdok vir eiendomsbelasting.

Hoewel private skole, kolleges en universiteite moontlik vir ʼn afslag van 25% kan kwalifiseer, is dié afslag nie gewaarborg nie. Sonder die afslag kan private instellings rekeninge van meer as R120 000 per maand verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Manie ·

Skole, universiteite en kerke behoort slegs vir dienste te betaal en vrygestel word van eiendomsbelasting.

Oosieoos ·

Dit is net eenvoudig skelm en geldgierigheid van die staat om hul onbevoegheid, geld mors voort te sit. Patetiese swakkelinge

Agge nee ·

Ek het nuus vir die Stadsraad. 80% van onafhanklike skole het NPO registrasies, en word nie as winsgewend geklassifiseer.

domheks ·

Wet van Transvaal! ‘Our people’ wil ons doodmaak met betalings!

Jaco ·

Staatskole behoort aan die staat. Die munisipaliteit behoort ook aan die staat. So eintlik betaal die staat belasting aan die staat. Vreemd.
Het die ANC en hulle SA Kommunistiese Party pêlle dan NIKS tydens hulle exile in kommunistiese lande geleer nie? Party en Staat was EEN daar. Sulke nonsens soos in dié berig het eenvoudig nooit gebeur nie. En, terloops, meeste van daardie kommunistiese lande, veral Rusland, Pole, Oos-Duitsland en Hongarye, was ook SONDER beurtkrag, swak vuil staatshospitale, swak of geen munisipale dienslewering, lae standaard onderwys en en en.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.