Johannesburg, Kaapstad, Durban sê oor Covid-19

Johannesburg (13 April 2020) (Foto: AP Photo/Jerome Delay)

Die land se drie grootste stede het Donderdagmiddag voorleggings oor hul bydrae tot die stryd teen Covid-19 gedoen voor die parlementêre portefeuljekomitee oor samewerkende regering.

Johannesburg, Kaapstad en Durban is die drie gebiede in die land met die mees gekonsentreerde voorkoms van die koronavirus en is daarom deur die parlement tot verantwoording geroep.

Durban, wat tot dusver 841 gevalle van die virus opgelewer het, was eerste aan die beurt. Die burgemeester van Durban se Ethekwini-metro, Mxolisi Kaunda, het gesê 274 000 van die stad se inwoners woon in plakkerskampe en dit is waar die prioriteit lê. Die stad se betaalsyfer aan munisipale rekeninge het in April verswak van 95% na 56%, wat die geldreserwes van genoegsaam vir 75 dae na genoegsaam vir 44 dae verminder het. Dit beteken ‘n verlies aan inkomste van R1,5 miljard vir die stadsraad, wat dit nou versigtig begin oorweeg om geld te leen.

Daar is tot dusver 76 watervragmotors, 254 nuwe watertenks, en 181 bykomende chemiese toilette in Durban ontplooi terwyl 3 644 huishoudings se watertoevoer tydelik herstel is in belang van higiëne.

Durban ontvang hulp van Brittanje en het twaalf skuilplekke vir haweloses, waar mans en vroue afsonderlik gehuisves word. Isolasie-fasiliteite is reeds in die middestad, Greyville en Montclair ingerig terwyl ‘n krematorium in Mobeni opgeknap word.

Kaapstad se voorlegging, deur raadslid Zahid Badroodien, het daarop gewys dat die stadsraad reeds voor die afkondiging van die afsonderingsperiode openbare fasiliteite vir die publiek gesluit het. Oor die algemeen werk die inwoners van Kaapstad goed saam, maar daar is kommer oor huurwoonstelle, agterplaashuisies (Wendy-huise) en hostelle. Kaapstad het 150 000 huishoudings in plakkerskampe. Die stad gebruik tans 28 watertrokke en het reeds 93 watertenks geïnstalleer. Kaapstad het 6 451 koronavirus-gevalle waarvan 113 persone gesterf het.

Van die stadsraad se 30 000 werknemers werk sowat 8 000 tans van die huis af. Die betaling van munisipale rekeninge het met sowat R1 miljard afgeneem in Kaapstad.

Die burgemeester van Johannesburg, Geoff Makhubo, was laaste aan die beurt en het die minste besonderhede verskaf. Johannesburg het volgens hom 1 057 gevalle van Covid-19 opgelewer. Van die stad se elf streke was die meeste gevalle tot dusver in Sandton/Alexandra, die tweede meeste in Randburg/Diepsloot, die derde meeste in Midrand/Ivory Park en die vierde meeste in Johannesburg-Sentraal. Die grootste groeipunt is egter tans Soweto.

Johannesburg het reeds 926 watertenks opgesit en het R800 miljoen minder as gewoonlik aan rekeninggeld in April ingekry.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.