Jong aktrise, matrikulant skitter in matriekafskeidrok

Leshané Chatwind in die José de Cahna Couture-skepping wat asems weggeslaan het by haar matriekafskeid. (Foto: Verskaf)

Leshané Chatwind het omtrent gevoel soos Klerksdorp se Aspoestertjie in die matriekafskeidrok van haar drome.

Só sê dié matrikulant aan die Hoërskool Klerksdorp in Noordwes aan Maroela Media, oor die unieke José de Canha Couture-skepping waarmee sy asems weggeslaan het op haar matriekafskeid op 28 September vanjaar.

Al dagdroom Leshané, wat ook as aktrise in die Netflix-drama Ludik te sien is, al haar lewe lank oor die perfekte matriekafskeidrok, het dit haar nie gekeer om regdeur haar skoolloopbaan onder die toptien van haar skole se akademiese presteerders te wees nie.

Sy vertel sy het pas haar laaste matriekvraestel geskryf en hoewel dit voel asof daar ʼn “berg van haar skouers af is”, gloei sy nog van die warmte van die aandag wat haar matriekafskeidrok haar die afgelope twee maande besorg het.

Nie net het sy pas die toptien in Sarie-tydskrif se matriekafskeidrok-kompetisie behaal nie, maar sy het ook die tweede plek behaal in Rapport se kompetisie hieroor.

Sy vertel die gemeenskap van Klerksdorp het haar bankvas ondersteun deur ʼn veldtog van stapel te stuur én te dryf om te sorg dat sy genoeg stemme werf om te wen.

Leshané saam met haar ma, Angelique, pa Oskin en boetie, Oskin-Lee. (Foto: Verskaf)

“Die mense van Klerksdorp is ʼn baie gehegte gemeenskap wat saamstaan, of dit nou teen misdaad is of om seker te maak ʼn jong meisie se drome word bewaarheid. Ek is regtig dankbaar vir almal, veral my ouers, se volgehoue ondersteuning.”

Juis daarom het sy die idee om in Pretoria of Stellenbosch te studeer laat vaar en besluit om eerder aptekerswese op Potchefstroom aan die Noordwes-Universiteit te studeer.

“Ek wou nog altyd ʼn dokter word, maar my hart is te sag, veral as ek ʼn pasiënt sou moes verloor. Aptekerswese voel vir my soos ʼn goeie middeweg in die mediese rigting om steeds my passie uit te leef.”

Aangesien akademie haar grootste prioriteit bly, gaan sy in haar eie woonstel bly wanneer sy in Januarie na Potchefstroom verhuis om haar studies te begin.

Sy sal egter enige geleentheid om weer voor die kameras te verskyn met albei hande aangryp, sê Leshané.

“Om die rol van Linda Ludik in Ludik te vertolk, was ʼn ongelooflike ervaring. Toe die oproep kom dat ek die rol gekry het, het ek aanvanklik nie besef hoe groot dit gaan wees en dat die reeks boonop op Netflix gaan uitsaai nie,” vertel sy borrelend.

Leshané het geweier om die rok aan die einde van die aand uit te trek. Haar pa het dié speelse foto geneem. (Foto: Verskaf)

Ludik is ʼn internasionale dramareeks met Hollywood-akteur Arnold Vosloo, Rob van Vuuren, Lea Vivier en Zane Meas.

“Linda is ʼn moederfiguur en dit is iets waarmee ek vereenselwig. My vriende sien my ook altyd as die mamma van die groep.”

Volgens Leshané het haar matriekafskeidskepping haar selfvertroue ʼn hupstoot gegee, tot so ʼn mate dat sy na afloop van die geleentheid geweier het om die rok uit te trek.

“Ek wou net daai gevoel wat dit vir my gegee het, dat ek in ʼn feëverhaal is, langer laat hou,” vertel sy laggend.

Die moeite wat in die skep van die rok gegaan het, verbyster haar steeds, sê sy.

“José stel nooit teleur nie en hy het deur die nag gesit om elke steentjie – en daar was baie! – met die hand op te werk. Dit het ʼn hele span mense gevat om my soos ʼn prinses te laat voel en dit was regtig die beste aand van my lewe.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.